Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vakbonde in hof oor Denel-werkers se geld
Denel se Ingwe-missiele gemonteer op ’n Scout RG-32-voertuig. Vakbonde se saak teen Denel in die arbeidshof is Dinsdag in Denel se afwesigheid aangehoor. Foto: Denel

Die saak in die arbeidshof waarin vakbonde ’n bevel vra dat Denel sy sowat 3 800 werknemers se salarisse moet betaal ná drie maande waarin hulle net gedeeltelik betaal is, is Dinsdag in Denel se afwesigheid aangehoor.

Solidariteit en Uasa het hulle nadat ’n fasiliteringsproses misluk het tot die hof gewend om Denel te dwing om die geld te vind om sy werkers ten volle te betaal. Hulle het laas in April hul volle salarisse ontvang.

Regter André van Niekerk het Dinsdag uitspraak voorbehou.

Denel het nie die aansoek teengestaan nie.

Volgens adv. Wilhelm Bekker, vir Solidariteit, was daar wel ’n paar amptenare van Denel wat ingeluister het op die aanlyn sitting van die arbeidshof in Johannesburg, maar geen formele betoog is ingedien nie.

Bekker het aangevoer dat Denel nie net gedwing moet word om die agterstallige salarisse te betaal nie, maar dat die hof ook moet beveel dat die staatsbeheerde wapenvervaardiger voortaan aan al sy statutêre verpligtinge moet nakom.

Van Niekerk het opgemerk dat so ’n bevel te omvangryk is en daartoe kan lei dat selfs enige gewone laat betaling van salarisse in die toekoms daartoe kan lei dat Denel skuldig is aan minagting van die hof.

Bekker het aangevoer dis beter as die alternatief, naamlik dat die vakbonde “elke liewe maand” die hof sal moet nader as salarisbetalings laat is.

Denel is steeds nie seker of hy voortaan salarisse sal kán betaal nie.

Sy salarisrekening beloop tussen R140 miljoen en R150 miljoen per maand. Op 25 Mei het werknemers slegs tussen 20% en 40% van hul salarisse ontvang en in Junie sowat 60%.

Julie se salarisse is in twee sarsies betaal, maar ook nie ten volle nie.

Denel skuld dus sy werknemers al honderdmiljoene rande. Daarby word persoonlike-inkomstebelasting en bydraes aan die Werkloosheidsversekeringsfonds sedert April van werknemers se salarisse afgetrek, maar nie aan die relevante owerhede oorbetaal nie.

Volgens Solidariteit het Denel aan hom gesê die regering is genader vir ondersteuning, maar geen bewyse van sulke ondernemings is al verskaf nie.

Die hofsaak sou aanvanklik op 30 Junie in die arbeidshof in Johannesburg voorgekom het. Dit is egter ter elfder ure van die rol verwyder toe Denel eerder om ’n fasiliteringsproses gepleit het.

Denel het Solidariteit in daardie stadium meegedeel dat daar doodeenvoudig geen geld is nie.

Solidariteit en Uasa se geduld is egter nou op.

Die vakbonde sê in hul beëdigde verklaring, wat Netwerk24 onder oë gehad het, hulle is veral ontsteld daaroor dat bestuurslui in Mei 20% van hul groot salarisse ontvang het terwyl werkers ook net 20% van hul klein salarisse ontvang het.

Volgens Bekker is dit nie net die koronaviruspandemie se skuld dat Denel platsak is nie.

Die invloed van jare lange “staatskaping en sistemiese korrupsie” het eenvoudig nie aandag gekry nie en het regstreeks tot Denel se bankrotskap gelei, sê Bekker.

Van Niekerk sal na verwagting voor die einde van die dag uitspraak lewer.

Denel kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Staatsondernemings  |  Hofsaak  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.