Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vakbonde trek neus op vir Transnet-aanbod

Transnet is in ’n dispuut gewikkel met vakbonde oor loonverhogings omdat hulle nie bereid is om aan die karige voorwaardelike verhoging van 1,5% te byt nie.

Transnet wil verlof verminder en meer skofte instel.

Geen ooreenkoms kon bereik word in die tweede ronde van onderhandelings oor ’n nuwe loonooreenkoms nie, het Transnet Vrydag aangekondig.

Volgens die vakbond Satawu het Transnet aanvanklik geen verhoging aangebied nie.

Op ’n vergadering met vakbonde Woensdag het Transnet die aanbod net effens aangepas deur ’n spesiale bonusbetaling aan te bied mits sekere volumeteikens gehaal word.

Alternatiewelik is ’n maandelikse nie-pensioendraende bedrag van 1,5% van die jaarlikse pensioengewende salaris aangebied, ook mits sekere ingrypings gedoen word, soos skofaanpassings en dat Transnet Port Terminals se bedrywighede tot 24 uur per dag uitgebrei word.

Transnet wil ook verlof standaardiseer tot 21 dae per jaar vir alle afdelings, en wil opgehoopte verlof van 60 dae tot 30 dae te verminder, met ’n vensterperiode van 18 maande om reeds opgehoopte verlofdae te neem.

Transnet wil verder die verlofsiklus verkort van 27 maande tot 18 maande, en die formule vir die uitbetaling van verlofdae oor die hele groep laat standaardiseer.

Die vakbonde Satawu en Untu was nie te vinde daarvoor nie en het die aanbod verwerp, met ’n dispuut wat Donderdag verklaar is.

Volgens Ayanda Shezi, Transnet-woordvoerder, is die volgende stap nou dat die Transnet-bedingingsraad ’n bemiddelingsproses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge aan die gang sit.

Volgens Transnet het sy vragvolumes in die nege maande tot einde Desember weens die ekonomiese insinking, en gevolglik ook sy inkomste gedaal.

Shezi meen die staatsbeheerde vervoergroep se huidige aanbod op die tafel is billik en realisties.

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, sê Transnet se aanbod is so swak dat hulle dit nie eens aan hul lede kan voorlê nie.

Volgens Harris het Transnet geweier om te waarborg dat daar geen afleggings sal wees nie.

Die meeste ander staatsondernemings is tans in gesprekke met vakbonde gewikkel oor moontlike afleggings of ’n moratorium op die vul van vakante poste.

Transnet het in Desember aangekondig dat hy ’n verlies van R3 miljard in die halfjaar tot einde September verlede jaar gely het. Sy bruto inkomste het in die halfjaar met 17% tot R32 miljard gekrimp weens minder vrag wat per spoor vervoer is en minder vrag wat deur die hawens gehanteer is.

Transnet kry boonop raas van skeepsrederye en vragversenders oor die herhaaldelike opeenhopings en agterstande in die hawens, vandaar sy voorwaarde aan vakbonde dat hy die werk van Transnet Port Terminals, wat vraghantering in die hawens doen, tot ’n 24-uur-skofbasis wil uitbrei.

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Infrastruktuur  |  Spoorweë  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.