Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vakbonde vra tronkstraf vir Denel se direkteure

Denel se direksie maak hom nou al vyf maande lank skuldig aan minagting van die hof deurdat hy steeds nie ingevolge ’n hofbevel agterstallige salarisse en voordele aan sy sowat 4 000 werknemers betaal het nie.

Denel
Denel reken dis belangriker dat hy ander krediteure betaal en staande bly as sy werknemers se agterstallige salarisse.

Solidariteit en Uasa wil nou direkteure in die tronk sien.

Die vakbonde het Donderdag die staat se wapenvervaardiger opnuut na die arbeidshof in Johannesburg gesleep om agterstallige salarisse vir hul lede te verhaal.

Die direksie word nou regstreeks aanspreeklik gehou vir die versuim van Denel om ingevolge ’n hofbevel alle agterstallige salarisse oor te betaal.

Denel-werknemers sit al sedert April 2020 sonder hul volle salarisse. Daar was al talle maande waarin hulle geen salaris of voordele betaal is nie, terwyl hulle steeds vir werk opdaag.

Denel skuld nou al sowat R550 miljoen aan sy werknemers.

Adv. Riaan Grundlingh SC, vir Solidariteit en Uasa, het Donderdag op die virtuele hofsitting gesê dat Denel sedert 4 Augustus, toe die hof Denel die eerste keer beveel het om agterstallige salarisse te betaal, R786 miljoen aan ander krediteure betaal het.

“Hulle verkies om krediteure te betaal wat nie ’n hofbevel teen hulle het nie, eerder as diegene wat wel ’n hofbevel teen hulle het.

Volgens hom is dit duidelik dat Denel nie die nakoming van ’n hofbevel as ’n prioriteit beskou nie.

Maar volgens adv. Nazeer Cassim SC, vir Denel, is daar geen wetlike beginsel wat vereis dat een krediteur bo ’n ander geag moet word nie.

Volgens Cassim sou Denel sy deure moes sluit as hy nie sy krediteure betaal het nie.

“Die maatskappy sal dan gelikwideer word. 4 000 mense sal dan hul werk verloor.”

Regter André van Niekerk het gesê “dit is die saak van die applikante of hulle wil hê likwidasie moet geskied – dit is nie my saak nie”.

Cassim het aangevoer dit is belangrik dat die toekoms van die maatskappy in ag geneem word.

Hy sê sonder dat krediteure betaal word, sou daar nie ’n maatskappy oorbly om salarisse aan die werkers te betaal nie.

“Denel is nie ’n normale maatskappy nie,” het Cassim gesê.

Aangesien dit ’n staatsonderneming is, het die direksie nie die vermoë om geld in te vorder van ander bronne af nie – hy is afhanklik van die aandeelhouer, die regering.

Die regering het einde verlede jaar ’n gedeeltelike reddingsboei verskaf, maar Denel beveel om die geld te gebruik om ná die staat van inperking se verwoesting bedrywighede te hervat.

Dit is wat met dié geld gedoen is, sê Cassim.

Die direksie het banke genader vir meer finansiering, maar geen bank het belangstelling getoon nie.

Volgens Cassim is dit noodsaaklik dat die maatskappy sy eie oorlewing prioritiseer sodat werknemers minstens gedeeltelik besoldig sal kan word.

Van Niekerk het gesê sy dilemma is: Wat sou dan ander maatskappye keer om bloot te sê hulle het ander prioriteite wanneer hy hulle dwing om ’n betaling te maak? So iets sou die hele beginsel van “minagting van die hof” minag.

Grundlingh het gesê die hof moet Denel help om sy prioriteite in orde te kry.

Hy eis dat Denel se direksie, wat ook die hofverrigtinge Donderdag bygewoon het, regstreeks aanspreeklik gehou word vir minagting van die hof en tronkstraf opgelê word.

Die tronkstraf kan opgeskort word tot en met die datum wat die hof gelas die agterstallige salarisse betaal moet word, asook alle agterstallige betalings namens werknemers aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die Werkloosheidsversekeringsfonds en die werknemers se mediese fonds.

Grundlingh eis dat Van Niekerk ’n spesifieke datum vasstel vir die betaling – en indien dit nie gemaak word nie, moet die direkteure tronk toe.

Cassim het hierop weer eens gewaarsku dat die maatskappy gelikwideer sal word indien die bevel gemaak word. Denel het doodeenvoudig nie die geld om die betalings te maak nie.

Grundlingh het aangevoer dat Denel nie bewys gelewer het dat hy te platsak is om die betalings te maak nie. Indien daar bewyse was, sou die applikante nie hul aansoek ingedien het nie.

Denel het byvoorbeeld nie sy volledige lys van bates en laste aan die hof verskaf nie, en ook geensins bankstate verskaf om te wys hoeveel kontant hy het nie.

Grundlingh sê Denel wil net hê die applikante moet “glo” hy is bankrot sonder dat hy dit kan bewys.

Van Niekerk het Donderdag uitspraak voorbehou.

Meer oor:  Denel  |  Wapenvervaardiger  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.