Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vakbonde wil deel wees van SAL-sakeredding

Die twee vakbonde wie se onlangse staking by die SAL die beleërde lugdiens byna verder op sy knieë gedwing het, wil deel wees van die vrywillige sakereddingsproses waarin dit tans geplaas is.

Dít sodat hul planne om die sukkelende lugdiens te red ook oorweeg en geïmplementeer kan word, het Zazi Nsibanyoni-Mugambi, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kajuitpersoneel (Sacca), en Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, Vrydagoggend in ’n gesamentlike verklaring namens hul vakbonde gesê.

“Ons het kennis geneem van hul besluit om skielik die lugdiens in vrywillige sakeredding te plaas.”

Die vakbonde sê dít het gekom nadat hulle die afgelope Dinsdag ’n brief aan die departement van openbare ondernemings en die presidensie gestuur het waarin hulle gewaarsku het as die regering nie die aansoek vir sakeredding wat Solidariteit vroeër teen die SAL ingedien het, gesteun het nie, sou dit erge gevolge vir die lugdiens en individuele direksielede hê. Die vakbonde sê hulle het die Solidariteit-aansoek ondersteun.

“Ons het hulle gewaarsku dat as hulle nie positief reageer op die Solidariteit-aansoek nie, sou direksielede hulle oopstel vir persoonlike aanspreeklikheid en om van roekelose verhandeling aangekla te word.”

Foto: Elvira Wood

Nsibanyoni-Mugambi en Hlubi-Majola sê hulle beskou daarom die vrywillige sakeredding waarin die SAL geplaas is, as “onopreg en ’n poging deur die direksie om beheer te behou”.

“Dit is waaroor ons bekommerd is. Vir te lank het die gedrag van die regering as aandeelhouers, direksie en uitvoerende bestuur van die SAL die min vertroue tussen hulle en werkers verder weggekalwe.

“Al hul optredes is om hul eie noue belange te dien en is nie tot voordeel van die SAL of werkers in die algemeen nie.”

Die vakbonde sê hulle het Donderdag weer dringend aan die SAL geskryf en versoek dat hulle betrokke moet wees om ’n bekwame en onafhanklike sakereddingspraktisyn aan te stel wat saam met Les Matuson moet werk wat die departement van openbare ondernemings Donderdag aangestel het.

“Ons gee hulle tot om 09:00 Vrydag om daarop te reageer. Dit is noodsaaklik omdat ons nie hierdie proses kan laat bestuur en beheer deur dieselfde direksie en bestuur wat die lugdiens in die eerste plek in ’n krisis gedompel het nie.

“Hulle het bewys dat hulle onbetroubaar en ’n hindernis is om korrupsie en wanbestuur by die SAL uit te roei en daarom kan ons hulle nie vertrou om in die belang van alle belanghebbendes by die SAL op te tree nie.”

Nsibanyoni-Mugambi en Hlubi-Majola het verder gesê dat hul lede onlangs vir agt dae lank gestaak het om werklike verandering in die SAL-bestuur te bewerkstellig.

“Werkers het hul salarisse opgeoffer om radikale verandering te verseker wat daartoe sal lei dat die lugdiens winsgewend en volhoubaar op lang termyn word.

“Dit is waarom dit noodsaaklik is dat die regte persoon en span van deskundiges gekies moet word om hierdie werk te doen, anders sal die SAL voortstrompel op die pad van vernietiging,” het die vakbonde gesê.

Meer oor:  Sal-Staking  |  Sakeredding  |  Sal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.