Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vakbonde wil hof toe ná tesourie SAL wil 'sluit'

Twee vakbonde dreig met ’n regsgeding teen die moontlike likwidasie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nadat die regering aangedui het hy gaan nie verdere finansiering vir die sukkelende lugredery verskaf nie.

Krediteure is veronderstel om op 14 Julie oor die sakereddingsplan van die SAL te stem. Die stemmery daaroor is verlede maand uitgestel. Foto: Twitter

Die dreigement van die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en Numsa kom twee dae ná die tesourie in ’n voorlegging in die parlement getoon het die SAL vereis nie verdere hulp nie omdat hy insolvent is. Luidens die skriftelike dokument waarop die voorlegging gegrond is, moet die SAL, SA Express en Alexkor gesluit word.

Dit het sommige partye, insluitende die DA, die afleiding laat maak dat dit beteken die tesourie wil die sukkelende lugdiens sluit.

Dié deel van die dokument was egter nie op die komiteevergadering bespreek nie.

Die twee vakbonde het Sondag in ’n verklaring gesê hulle het hul regsverteenwoordigers opdrag gegee om te begin met die “voorbereiding van ’n regsgeding om dié wat die SAL wil likwideer in hul spore te stop”.

“Numsa en Sacca gaan onder geen omstandighede die likwidasie van die SAL aanvaar nie . . . ook nie van SA Express of enige staatsonderneming nie.”

Krediteure is veronderstel om op 14 Julie oor die sakereddingsplan van die lugdiens te stem. Die stemmery daaroor is verlede maand uitgestel.

Die SAL is in Desember 2019 in sakeredding geplaas ná jare se verlies en herhaalde kere wat die staat hom finansieel gered het.

Die finansiële verlies van die lugdiens beloop meer as R10 miljard die afgelope twee jaar. Die regering het die afgelope dekade amper R30 miljard se hulp aan die SAL verskaf.

Die vakbonde het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om onmiddellik in te gryp en wil hê Tito Mboweni, minister van finansies, moet afgedank word omdat hy “roekeloos” is.

Volgens hulle gaan die verklaring in die voorlegging van die tesourie die stemmery oor die sakereddingsplan beïnvloed.

Die tesourie het Saterdag gesê hy gaan nie meer kommentaar lewer buiten wat in die parlement gesê is nie. - Fin24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.