Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Valke: Bedrog van R3,4 mjd. oortjies van seekoei

Suid-Afrika is – van bo tot onder – deurtrek van bedrog en korrupsie, blyk dit uit ’n oorsig van die Valke se werk waaroor vandeesweek in die parlement verslag gedoen is.

Die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park, Johannesburg.

Die Valke ondersoek tans 131 aktiewe gevalle wat die nasionale vervolgingsgesag en die spesiale ondersoekeenheid sedert 2010 na hom verwys het.

Die geskatte waarde van die bedrog en korrupsie wat daardeur verteenwoordig word, beloop R3,4 miljard.

Dié 131 gevalle is egter maar net 0,63% van die totaal van 20 736 sake wat op die Valke se boeke is.

Uit die 131 gevalle is 118 saakdossiere, terwyl 14 navrae is. Die meeste sake gaan oor bedrog, korrupsie, geldwassery en oortredings van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies en die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies.

Die Oos-Kaap, Gauteng en Limpopo is die korrupste provinsies in die land, gegrond op die aantal sake wat die Valke oor beweerde bedrog en korrupsie ondersoek. Uit die totaal van 131 aktiewe sake wat die Valke tans ondersoek, is 25 in die Oos-Kaap, 24 elk in Gauteng en Limpopo, en 21 in KwaZulu-Natal.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gesê 20 van die sake is al op die hofrol, maar 88 word nog ondersoek.

Hier is van die sake wat die Valke tans ondersoek:

SAUK

  • ’n Kontrak van R7 miljoen word ondersoek vir die opknapping van 36 hysers en vyf roltrappe in die SAUK se geboue, asook vir die installering van twee nuwe hysers. Dit blyk die SAUK het reeds R5,6 miljoen aan die verskaffer betaal toe vasgestel is dat ’n oop tenderproses nooit gevolg is nie, en die SAUK se regsafdeling, sy verkrygingsafdeling of die betrokke bedryfsafdeling nooit in die onderhandelinge of opstel of bevestiging van die kontrak geraadpleeg is nie.
  • Toe Ayanda Dlodlo in April 2017 die minister van kommunikasie was, het sy op ’n vergadering met die SAUK-raad gesê dat ’n diensverskaffer by haar gekla het dat die SAUK hom nog nie betaal het nie. Dlodlo het na bewering aanbeveel dat die SAUK die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vra om kwytskelding van die oorbetaling van sowat R40 miljoen se werknemerbelastings (LBS-betalings) wat die vorige week betaal moes geword het. Dit was glo sodat die SAUK dié geld kon gebruik om die diensverskaffer te betaal. Maar toe die SAUK-direksie teen April 2018 met die SAID vergader het oor dié kwytskelding, het die SAID ontken dat dit ooit toegestaan is en aangevoer dat die uitsaaikorporasie hom nou R51,9 miljoen skuld.
  • ’n SAUK-werknemer het in 2018 ’n bedrag van R18 290 se reis- en verblyfkoste aangegaan en dit van die SAUK teruggeëis onder die voorwendsel dat sy vir werkdoeleindes Kaap toe was. Dit blyk toe dit was eintlik vir ’n persoonlike uitstappie om saam met ander aan die Twee Oseane-marathon in Kaapstad te gaan deelneem.
  • ’n Saak word ondersoek waarin Lornavision, ’n maatskappy wat aangestel is om agterstallige TV-lisensiegelde namens die SAUK in te vorder, daarvan beskuldig word dat hy R7,3 miljoen teruggehou het pleks daarvan om dit aan die SAUK oor te betaal.

Versorging van verstandelik gestremdes en psigiatriese pasiënte in Gauteng

Die Valke ondersoek verskeie sake wat van 2018 tot 2020 aangemeld is. Dit is meestal nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat ooreenkomste met die Gautengse departement van gesondheid aangegaan het om mense te versorg, maar dan meer eis as wat hulle mag, of steeds aanhou om te eis, al is die persone nie meer in hul versorging nie.

In een geval het ’n NRO vir ’n volle maand se versorging geëis, pleks van om net te eis vir die dae waarop die pasiënte werklik in sy sorg was. In een geval is bedrog van R4,2 miljoen gepleeg deurdat maandelikse toelaes geëis is, al was die pasiënte al dood of na ander versorgingsoorde oorgeplaas.

Van die NRO’s was deel van die Life Esidimeni-versorging of was NRO’s waarheen pasiënte van Life Esidimeni verskuif is. Een versorger het drie pasiënte se Sassa-kaarte gehad waarmee sy R40 000 getrek het, al was die pasiënte nie meer in haar sorg nie.

Meer oor:  Sauk  |  Valke  |  Bedrog  |  Staatsondernemings  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.