Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Valke gevra om na OBK-transaksie te kyk
SA Home Loans se hoofkantoor in Durban. Foto: SA Home Loans

Kevin Penwarden, uitvoerende hoof van SA Home Loans (SAHL), het die Valke gevra om ’n transaksie met die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) te ondersoek.

Penwarden is glo bekommerd oor ’n vereiste dat ’n fooi van R95 miljoen aan Kholofelo Maponya se Matome Maponya Investments (MMI) betaal moet word voordat die OBK sy aansoek om ’n lening van R10 miljard sal goedkeur.

Penwarden beskou glo dié vereiste as omkoopgeld.

Dit is die getuienis van Scott Sinton van Standard Bank Woensdag voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK.

Standard Bank het ’n belang van 50% in SAHL.

Sinton het aan regter Lex Mpati, Gill Marcus en Emmanuel Lediga, die drie kommissarisse, gesê soos hy verstaan, het SAHL se ouditeure Penwarden die raad gegee om dié vereiste luidens art. 3 van die Wet op die Bekamping en Voorkoming van Korrupsie aan te meld.

Sinton het in sy getuienis vertel hoe Maponya aanspraak daarop gemaak het dat hy SAHL aan die OBK voorgestel het. Daarom is hy dus geregtig op ’n soekfooi van R45 miljoen vir die R9 miljard wat die OBK in 2015 in SAHL belê het.

Dié transaksie het behels dat die OBK namens die staatspensioenfonds (GEPF) ’n regstreekse belang van 25% in SA Homeloans bekom. Hy moet ook ’n lening aan die Bolatja Hlogo-konsortium (BHC), waarin Maponya ’n belang het, gee om óók ’n belang van 25% in SAHL te bekom. Die Britse JP Morgan het voorheen dié belang besit.

Sinton het getuig dat SAHL en JP Morgan oorspronklik self die OBK oor ’n moontlike belegging genader het, en dat Maponya dus glad nie geregtig is op ’n soekfooi nie.

Volgens Sinton het Maponya ná die afhandeling van die transaksie ’n faktuur aan SA Home Loans gestuur vir ’n soekfooi van R59 miljoen. SAHL het geweier om dit te betaal.

Maponya het tóé glo ’n brief wat onderteken is deur dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, aan SAHL gestuur waarvolgens die OBK afstand doen van ’n fooi van R45 miljoen (0,5% van die waarde van die transaksie) en het SAHL aangesê om dit aan Maponya te betaal.

Dié R45 miljoen moes glo na die GEPF gaan as deel van die terugbetaling van die geld wat aan SAHL geleen is.

Matjila het glo later die brief teruggetrek nadat SAHL én Standard Bank vrae daaroor gehad het.

Wat daarna gebeur het, is dat SAHL die OBK wéér in 2017 genader het vir nog ’n lening van R10 miljard wat juis vir huislenings vir lede van die GEPF gebruik sou word.

Volgens Sinton is die OBK ten gunste van dié lening op die voorwaarde dat SAHL ’n soekfooi van R95 miljoen aan Maponya betaal. Dit bestaan uit die oorspronklike R45 miljoen wat Maponya nie voorheen uit die OBK kon kry nie én nog R50 miljoen vir die nuwe transaksie.

Kommer oor dié voorwaarde het daartoe gelei dat die lening van R10 miljard steeds nie goedgekeur is nie én dat Penwarden besluit het om die gebeure by die Valke aan te meld.

Daar is nog geen geld aan Maponya betaal nie.

Maponya het intussen op 16 April vanjaar ’n hofproses begin waar hy SAHL wil dwing om die geld aan hom te betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.