Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Valke kry einde Maart Steinhoff-verslag van PwC

Die Valke verwag einde Maart die nuwe forensiese verslag van PwC oor die beweerde bedrog wat by Steinhoff plaasgevind het ten einde die betrokke individue strafregtelik te vervolg.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê die verslag sou einde November voltooi gewees het, maar weens probleme wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is, word dit nou eers einde Maart verwag.

Volgens hom gaan die verslag van PwC waarskynlik meer getuies onthul wat ondervra kan word. Lebeya sê 220 verklarings is reeds afgeneem en 33 buitelandse bankrekeninge is in die ondersoek geïdentifiseer in Duitsland, Oostenryk, Pole, Switserland, Frankryk, Australië en die Verenigde Koninkryk.

Binnehandel ook ondersoek

Lebeya het ook bekend gemaak dat die Valke ’n klag van binnehandel by Steinhoff ondersoek. Volgens hom is die klag in November verlede jaar in Sandton geopen.

Ses verklarings is reeds afgelê en nog vier van finansiële makelaars is in die proses.

Binnehandel is ’n vorm van markmisbruik en ingevolge die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor kan iemand strafregtelik daarvoor vervolg word met ’n vonnis van tot tien jaar tronkstraf.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, is einde Oktober verlede jaar deur die Gedragsowerheid oor die Finansiëledienstesektor (FSCA) vir binnehandel beboet. Hy is tans besig om daarteen te appelleer.

Die Valke en nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Woensdag in die parlement aan die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) terugvoer gegee oor ondersoeke, insluitende na Steinhoff.

Batebeslaglegging

Parlementariërs het baie kritiek gehad dat daar meer as drie jaar later nog niemand aangekla is nie.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, sê die PwC-verslag gaan ’n groot verskil maak om die ondersoek te laat vorder.

Daar is nog op geen bates beslag gelê nie, maar adv. Pieter Bezuidenhout, waarnemende streekshoof van batebeslaglegging in Pretoria, sê hulle werk ten nouste saam met die Valke in die ondersoeke. Hy sê batebeslaglegging gaan net voort sodra daar redelike gronde is dat onwettige aktiwiteite plaasgevind het.

Batohi sê die nuwe verslag gaan taamlik belangrik wees om besluite oor batebeslaglegging te neem.

Lebeya wou nie die name van die individue bekend maak wat in die hoofklagte ondersoek word nie omdat dit eers gebeur wanneer hulle aangekla word. Hy sê hulle is egter hoopvol dat daar wel individue aangekla gaan word.

Baie vrae oor finansiering

Daar was baie vrae en kritiek oor Steinhoff wat vir die verdere ondersoek deur PwC betaal. Dit het onlangs bekend geword dit gaan Steinhoff R30 miljoen kos.

Batohi sê hulle sien nie enige risiko dat daar ’n poging gaan wees van Steinhoff om te voorkom dat individue aanspreeklik gehou word nie omdat verskeie voorsorgmaatreëls in plek gesit is, soos ’n vertroulikheidsooreenkomste wat PwC moes onderteken.

Lebeya sê die aanvanklike PwC-verslag wat Steinhoff laat uitvoer het wat in Maart 2019 afgehandel is, is deur die ondersoekspan en aanklaers ontleed.

Volgens hom hou die verslag in sy huidige formaat verband met rekenkundige ongerymdhede. Hy sê dit is nie ’n verslag waarin daar gefokus is op misdaad en ’n strafproses wat kan volg nie.

Die Valke het PwC verlede jaar begin April aangestel met ’n gedetailleerde opdrag om ’n ondersoek te doen oor misdaad wat plaasgevind het en ’n verslag vir die strafproses voor te berei. Hy sê die besluit om PwC hiervoor te gebruik, is ná deeglike oorweging geneem.

100de verklarings al afgelê

Lebeya sê 220 verklarings is reeds in die hoofondersoek afgelê.

Dit sluit in:

  • Eedsverklarings deur getuies;
  • Verklarings nadat dagvaardings ingevolge art. 205 van die Strafproseswet uitgereik is.
  • Verklarings wat ingevolge art. 236 van die wet afgelê is; en
  • Verklarings wat ingevolge art. 212 van die wet afgelê is.

Volgens hom het die ondersoek deur PwC tot dusver 23 getuies geopenbaar wat nog ondervra moet word, van wie nege in Suid-Afrika is en 14 van ander lande insluitende Duitsland, Frankryk, Australië en die Verenigde Koninkryk.

Meer oor:  Steinhoff  |  Valke  |  Ondersoek  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Binnehandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.