Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Valke kry nuwe forensiese verslag oor Steinhoff

Die Valke het die verslag van die ouditeursfirma PwC ontvang oor die bykomende forensiese ondersoek wat gedoen is na die beweerde bedrog by Steinhoff.

Die Valke hoop die bykomende inligting sal help in sy ondersoek na wie strafregtelik vervolg moet word.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die verslag is ontvang en word bestudeer.

Dit sou aanvanklik in November en toe einde Maart ontvang word.

LEES OOK: Valke kry einde Maart Steinhoff-verslag

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het in Maart in die parlement gesê die verslag sal waarskynlik die name van meer getuies gee wat ondervra kan word.

Hy het gesê 220 verklarings is afgeneem en 33 buitelandse bankrekeninge is in die ondersoek geïdentfiseer in Duitsland, Oostenryk, Pole, Switserland, Frankryk, Australië en Brittanje.

Shamila Batohi, direkteur van die nasionale vervolgingsgesag, het na berig word gesê die bevindinge van die verslag sal ’n groot verskil maak om die ondersoek te laat vorder.

Hierdie verslag is nie die een wat Steinhoff begin 2019 ontvang het wat steeds vertroulik is nie. Dié vorige ondersoek is gedoen ten einde te bepaal wat nodig is om die finansiële state reg te stel en af te handel, terwyl die bykomende werk verband hou met wie vervolg kan word.

Die bykomende werk wat PwC vir die Valke doen, is ongelukkig in omstredenheid gehul omdat Steinhoff daarvoor betaal.

Luidens Steinhoff se jongste jaarverslag vir die boekjaar tot einde September beloop die totale koste van die ondersoek deur PwC R30 miljoen plus BTW.

LEES OOK: Steinhoff betaal staat se ondersoek vir vervolging

Steinhoff het in Junie 2020 in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê die Suid-Afrikaanse owerhede het PwC genader om bykomende forensiese werk te doen om te help met die strafregtelike ondersoek.

Steinhoff het gesê hy ondersteun die inisiatief en dat hy weens die omvang en kompleksiteit van die ondersoek ingestem het om ’n wesenlike deel van die koste van PwC se werk te dek.

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, het verlede Vrydag op die groep se jaarvergadering verwys na die bohaai daaroor dat Steinhoff vir die ondersoek betaal.

Hy het benadruk Steinhoff meng nie in by die ondersoek nie en gee sy samewerking.

Steinhoff betaal PwC regstreeks vir die koste van die ondersoek op grond van fakture wat aan hom uitgereik word.

Du Preez het gesê alle ander ondersoeke in Suid-Afrika na Steinhoff van ander owerhede is afgehandel. Dit sluit in die ondersoeke van die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye (CIPC), die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) en die JSE.

Meer oor:  Steinhoff  |  Bedrog  |  Forensiese Ondersoek  |  Meubelhandel  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.