Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Valke ondersoek Markus Jooste en sy Mayfair

Die Valke het bevestig bewerings oor bedrog en geldwassery waarby die beleggingsmaatskappy Mayfair Speculators van Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, betrek word, word steeds ondersoek.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff

Die Valke het in Julie verlede jaar ’n hofbevel in die landdroshof in Stellenbosch gekry om toegang tot Mayfair Speculators se bankstate vir 2000 tot 2009 te kry, het die Sunday Times berig.

Volgens die berig is die inligting oor transaksies van honderde miljoene rande, wat na bewering tussen Steinhoff, Mayfair en ander ondernemings van Jooste beweeg het, by die hofaansoek aangeheg.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het op vrae in verband met die jongste bewerings van bedrog en geldwassery wat teen Jooste ondersoek word, gesê dit maak deel van die ondersoek na Steinhoff uit.

“Die Steinhoff-aangeleentheid is ’n breë ondersoek met baie bene. Ons kan nie in dié stadium die besonderhede van elke been verskaf nie.”

“Daar word gevorder met die aangeleentheid, maar ons kan ons nie op die oomblik tot enige tydsraamwerke verbind nie.”

Mayfair Speculators en Mayfair Holdings is sedert 2018 in ’n reëlingskema, ingevolge die Maatskappywet, met sy skuldeisers gewikkel.

Skraps met antwoorde

Vrae oor die ondersoek is gestuur aan Les Matuson en Piers Marsden, wat in 2018 op aandrang van die groot banke aan wie geld geskuld word, by Mayfair as direkteure aangestel is.

Die vrae was:

1. Duur die ondersoek voort?

2. Hoe beïnvloed dit Mayfair Speculators se reëlingskema met sy krediteure?

3. Het julle die krediteure oor die ondersoek ingelig en hou julle hulle ingelig?

4. Is enige bates of bankrekeninge van Mayfair bevries?5. Gee Mayfair Speculators sy samewerking met die Valke in die ondersoek?

6. Is enige van die direkteure, onder wie die voormalige direkteur Markus Jooste, deur die Valke ondervra?

In reaksie het Jan Reitz, die regsverteenwoordiger van Mayfair Speculators van Reitz Attorneys, net in ’n e-pos gesê dat die Mayfair-maatskappye sy samewerking gee aan die owerhede en dat hulle nie weet of Jooste deur die Valke ondervra is nie.

Die vrae is ook aan Stefan Potgieter, skoonseun van Jooste, gestuur wat jare lank saam hom ’n direkteur was en steeds is. Jooste het in Desember 2017 ook uit die maatskappy bedank toe hy by Steinhoff weg is.

Potgieter het nie op die vrae gereageer nie.

'n Eis is onder meer teen die wynlandgoed Lanzerac ingestel vir amper R30 miljoen wat die landgoed glo aan Mayfair skuld.

Hy het in hofstukke oor die reëlingskema in 2019 verduidelik dat Mayfair Holdings ’n volfiliaal is van die Silveroak Trust, wat tot voordeel van die Jooste-familie opgerig is. Mayfair Speculators is ’n filiaal van Holdings.

Callie Albertyn, regsverteenwoordiger van Jooste, het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar oor die ondersoek wat skriftelik aangestuur is nie.

Besig in die hof

Mayfair was die afgelope maande gereeld in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

’n Eis is onder meer teen die wynlandgoed Lanzerac ingestel vir amper R30 miljoen wat die landgoed glo aan Mayfair skuld.

Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff, het in Januarie 2018 in die parlement voor parlementêre komitees gesê hoe hy ’n aandeelhouer van die groep geword het toe hy in 2011 Lanzerac en ’n klomp aandele in PSG in ruil vir aandele in Steinhoff verkoop het.

Hy het later verduidelik hy het nie bedoel hy het die plaas aan Steinhoff verkoop nie, maar dat die party wat dit by hom gekoop het, hom met Steinhoff-aandele betaal het.

Mayfair het ook verlede jaar ’n eis van R4 miljard teen Jooste en Steinhoff gebring oor die PSG-aandele wat die groep in Desember 2011 in ’n aandeleruiltransaksie vir Steinhoff-aandele geruil het.

LEES OOK: Markus Jooste se firma eis R4,1 miljard van Steinhoff

Die Valke het onlangs ’n verslag oor ’n addisionele forensiese ondersoek deur PwC na die ongerymdhede in Steinhoff se boeke ontvang. Die ondersoek is uitgevoer in die hoop om uit die komplekse transaksies ’n strafregtelike saak te kan maak.

Steinhoff soek ook bates

Steinhoff se finansiële direkteur, Theo de Klerk, het in Julie verlede jaar gesê Steinhoff het in Desember 2019 ’n eis teen Mayfair ingestel.

“Ons glo van Steinhoff se bates het in Mayfair beland,” het hy gesê.

LEES OOK: Steinhoff bring eis teen Markus Jooste se Mayfair

Hy het gesê dit het in die forensiese ondersoek wat PwC vir Steinhoff gedoen het, aan die lig gekom.

In die jongste jaarverslag vir die boekjaar tot einde September 2020 word gesê moontlike eise teen derde partye en verhalings van geïmpliseerde entiteite en individue, is geïnisieer waar toepaslik. Die eerste stap in die proses was die regsgeding teen voormalige lede van die bestuurspan.

Vervolgens is ’n eis teen Top Global ingestel, ’n entiteit wat aan die Talgarth-groep verbind word, asook teen Mayfair Speculators, die maatskappy wat met Jooste verbind word, lui die jaarverslag.

Mayfair se naam het ook opgeduik in hofdokumente in 2019 in die hofaansoek wat deur die voormalige eienaars van Tekkie Town gebring is om ’n interdik teen Steinhoff en sy filiaal Pepkor te kry.

In dié hofaansoek is aangevoer die Tekkie Town-aandele is deur ’n rakmaatskappy van Mayfair Speculators, naamlik Town Investments, bekom.

Bernard Mostert, een van die eisers, het aangevoer die transaksie is soortgelyk aan verdagte transaksies wat uit PwC se forensiese ondersoek na vore gekom het.

LEES OOK: Nuwe saak onthul verdagte Steinhoff-transaksie in SA

Meer oor:  Steinhoff  |  Bedrog  |  Markus Jooste  |  Mayfair  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.