Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Van drank na dagga vir Remgro en Distell

Die drankmaatskappy Distell, asook Remgro, se waagkapitaalonderneming Invenfin sien groeigeleenthede in gesondheidsprodukte wat van daggaplante gemaak word en het gesamentlik 40% van die daggaplant-onderneming Rethink gekoop.

Hierdie middels van Rethink wat van CBD van die daggaplant gemaak word, is van Oktober 2020 af al in die land te koop.

Die onderneming besit die Rethink-handelsnaam wat in 2019 in Suid-Afrika begin is en wat middels vir slaap, energie, angsverligting en spysverteringsprobleme verkoop wat van CBD vervaardig word – ’n natuurlike chemikalie in daggaplante.

Sedert 2019 is dit wettig om CBD-middels in Suid-Afrika te koop of verkoop wat nie meer as 20 mg CBD per daaglikse dosis bevat nie.

Groot groei word in wettige dagga-produkte verwag nadat al hoe meer lande dié produkte wettig. Die omset in die internasionale mark vir die produkte is na raming $166 miljard groot.

Die departement van handel en nywerheid en die Landbounavorsingsraad het beraam die informele en formele bedryf in Suid-Afrika se omset beloop R14 miljard en kan oor drie jaar R28 miljard per jaar bereik.

Rethink word as Suid-Afrika se voorste handelsnaam van dagga-produkte vir welstand beskryf en was die eerste handelsnaam wat deur die Cannabis-navorsingsinstituut ondersteun is.

CBD-produkte van Rethink.

Rethink is deur Releaf Pharmaceuticals begin, wat die res van die belang gaan hou.

Distell en Invenfin sê ’n vennootskap is met Releaf Pharmaceuticals gesluit om ’n markleier in Suid-Afrika te skep en na ander lande uit te brei.

Martin Coetzer, besturende direkteur van Releaf, sê die ondersteuning van die twee beleggers toon die vertroue in die maatskappy se toekoms.

“Dit is ’n baie opwindende vennootskap wat ons gaan help om Rethink se portefeulje van dagga-produkte uit te bou,” sê hy.

Invenfin het ondervinding in waagkapitaal en die uitbou van handelsname, asook met die kommersialisering van produkte internasionaal. Van sy vorige beleggings in verbruikersprodukte sluit in die ystee BOS, Amajoya Sweets, De Villiers-sjokolade en Island Way Sorbet.

Stuart Gast, uitvoerende hoof van Invenfin, sê Rethink word as ’n aantreklike geleentheid beskou. “Die onderneming het groot groeiplanne in ’n sektor wat nog in die baie vroeë stadiums van ontwikkeling is.”

Gast sê Covid-19 het nog meer bewustheid oor welstand geskep. “Om betroubare produkte in die mark te hê sal al hoe belangriker word vir verbruikers.”

Richard Rushton, uitvoerende hoof van Distell, sê dit pas by Distell se strategie om nuwe geleenthede vir groei te ondersoek.

“Die sektor is nog in sy kinderskoene en is gereed vir groei namate wetgewing om sekere aspekte van die gebruik daarvan te beheer en te wettig, ontwikkel.”

Volgens hom sal Distell ook sy bestaande verskaffingsketting en bemarkingskundigheid inspan om Rethink te help groei.

Meer oor:  Remgro  |  Distell  |  Cbd  |  Dagga  |  Verkryging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.