Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
VBS-baas se stilte keer Saica om hom te skors
Adv. Shanee Stein SC.Foto: Elvira Wood

Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS Mutual Bank, bly steeds ’n geregistreerde geoktrooieerde rekenmeester en lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica).

Adv. Shanee Stein SC, voorsitter van die dissiplinêre komitee wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) aangestel het om sy tugverhoor en dié van Andile Ramavhunga, voormalige uitvoerende hoof van VBS Mutual Bank, te behartig, het Vrydag voet by stuk gehou Saica het nié genoeg gedoen om Matodzi in te lig van die tugverhoor nie.

Dit volg selfs al kon Saica bewys dat hy ná verskeie e-posse, ’n bode wat die deur gewys is by die kompleks waar Matodzi gewoon het, en telefoonoproepe, geen reaksie uit Matodzi kon kry nie.

Die verhoor, waar nie Matodzi óf Ramavhunga óf hul regsverteenwoordigers opgedaag het nie, is Vrydagoggend verskeie kere onderbreek met Stein wat bewyse versoek het oor presies hóé Matodzi ingelig is van die verhoor.

Saica-werknemers soos die persoon wat die e-posse gestuur het en selfs die bode wat die pakkie met dokumente by sy woonadres probeer aflewer het, het voor die komitee kom getuig.

Die bode het getuig die wagte by die kompleks waar Matodzi voorheen woonagtig was, het vir hom gesê Matodzi woon al sedert Januarie nie meer by dié adres nie.

Die woonadres wat Saica op sy databasis het, is dieselfde as wat op die voorlopige sekwestrasiebevel staan wat die hooggeregshof in Julie uitgereik het.

Die e-pos, hoewel reeds in 2006 aan Saica verskaf, het ook nie gebons nie.

Okyerebea Ampofo-Anti, ’n vennoot by Webber-Wentzel wat argumente namens Saica voorgelê het, sê hulle kon Matodzi glad nie in die hande kry nie en hulle het hul bes gedoen om hom op te spoor.

Hierdie is ’n vrywillige organisasie en lede het verskeie kanale om hul kontakbesonderhede met ons op datum te hou.
Okyerebea Ampofo-Anti, vennoot by Webber-Wentzel

Sy sê dit is ook onbillik dat daar skielik van Saica verwag word dat hy skriftelike bewys moet lewer waar elkeen van sy 44 000 lede hom skriftelik instruksie gee watter e-pos, telefoonnommer of adres gebruik moet word om hulle op te spoor ingeval daar ’n dissiplinêre verhoor is.

Sy sê die feit dat Stein nou die verhoor onbepaald uitstel totdat hulle kan bewys hulle het ander prosesse gevolg om hom op te spoor, is onregverdig.

“Hierdie is ’n vrywillige organisasie en lede het verskeie kanale om hul kontakbesonderhede met ons op datum te hou,” sê sy.

Stein stel voor Saica kontak die regslui wat by Matodzi se sekwestrasie betrokke was om kontakbesonderhede vir hom by hulle te kry.

Ampofo-Anti wou gehad het die komitee moet in Matodzi se afwesigheid sy lidmaatskap aan Saica opskort.

Matodzi en Ramavhunga word by bedrog en wanbestuur betrek in adv. Terry Motau se forensiese ondersoek na die bank wat in duie gestort het. R1,8 miljard het glo uit die bank verdwyn.

Ramavhunga en Matodzi word verhoor ingevolge Saica se regulasie 30.2, wat daaroor handel dat ouditeure se Saica-lidmaatskap beëindig moet word as hulle gesekwestreer word.

Ramavhunga is ook onlangs in die hooggeregshof voorlopig gesekwestreer. Dis deur die kurator van VBS gedoen ten einde hul bates te bevries.

Ingevolge Saica se regulasies moet partye wel die kans gegee word om hul kant van die saak te stel en te sê of daar uitsonderlike redes is waarom hul lidmaatskap nié beëindig moet word nie. Die opskorting van lidmaatskap geld tien jaar.

Die komitee het nét die kwessie oor hoe Matodzi gekontak is bespreek.

Die verhoor is nou vir ’n onbepaalde tyd uitgestel.

Meer oor:  Saica  |  Vbs  |  Vbs Mutual Bank  |  Tshifhiwa Matodzi  |  Bedrog  |  Tugverhoor  |  Geoktrooieerde Rekenmeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.