Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
VBS Mutual Bank is gelikwideer

VBS Mutual Bank is Dinsdag, presies 36 jaar nadat die bank op 13 November 1982 gestig is, in Pretoria gelikwideer.

Regter Johan Louw het dié bevel Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria uitgereik. Die hele aansoek het minder as 20 minute geduur.

Andile Ramavhunga, VBS Mutual Bank se uitvoerende hoof. Foto: Argief

Uitgebreide magte is ook gegee aan die voorlopige likwidateur, Anoosh Rooplal van SizweNtsalubaGobodo Grant Thornton, wat tot dusver die kurator was, sodat die proses begin kan word tot tyd en wyl die finale likwidateurs deur die hof aangestel is.

Die Omsigtigheidsowerheid (die vorige registrateur van banke) het die aansoek gebring.

Die Mahikeng-plaaslike munisipaliteit het ’n soortgelyke aansoek by die hof Polokwane, Limpopo, ingedien, maar die twee aansoeke is saamgegooi. Regsverteenwoordigers vir die twee aansoekers het aan Louw gesê hulle bring hul aansoek saam.

VBS, die bank wat in 2016 bereid was om ’n huislening van R7,8 miljoen aan oudpres. Jacob Zuma toe te staan, is rot en kaal besteel deur sy direksie en topbestuur, het adv. Terry Motau onlangs in sy forensiese verslag, “The Great Bank Heist”, bevind. Meer as R1,8 miljard het verdwyn.

Kuben Naidoo, uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid, sê in die hof­aansoek daar is geen kans dat VBS gered kan word nie.

Die Reserwebank het VBS in Maart in kuratele geplaas toe hy kontantvloeiprobleme ontwikkel het. Dit het binne weke geblyk die rede daarvoor is grootskeepse bedrog.

Rooplal het onlangs ’n beroep op mense met bank-, motor- of persoonlike lenings gedoen om hul paaiemente steeds te betaal “om te keer dat beslag gelê word op wanbetalers se goedere”.

Vele Investments, VBS se grootste aandeelhouers, is in Augustus in likwidasie geplaas en Rooplal hoop dat bates herwin sal kan word wat aan VBS verskuldig is.

Verskeie individue – onder hulle direkteure en bestuurslui van die bank – is ook voorlopig gesekwestreer. Dit sluit Andile Ramavhunga, Robert Madzonga, Tshifhiwa Matodzi, Phillip Truter en Phopi Mukhodobwane in. Hul bates word beveilig en bevries sodat hulle nie eiendom kan verkoop nie.

Gewone mense of stokvels wat minder as R100 000 by VBS belê het, mag steeds hul geld onttrek deur middel van Nedbank. Die Reserwebank waarborg dié geld.

Munisipaliteite en maatskappye wat by VBS belê het, gaan waarskynlik minder as 20c in die rand terugkry in die likwidasieproses, het Naidoo onlangs in die parlement gesê. Die munisipaliteite se beleggings was onwettig aangesien munisipaliteite net by handelsbanke mag belê, nie by onderlinge banke soos VBS nie.

Reaksie

Kevin Mileham, DA-LP, sê die party verwelkom die besluit dat die bank gelikwideer gaan word.

“Ons het hierdie besluit lank reeds verwag gegee die beroerde stand van sake by die bank. 

“Ons glo dat geen verdere openbare geld spandeer moet word om ’n maatskappy in private besit te red nie,” sê hy.

Ondersteuners van die bank het egter hul misnoeë oor die besluit op Twitter uitgespreek.

Die meeste wou weet hoekom VBS gelikwideer word, maar toe African Bank kniediep in die skuld was, is hy toegelaat om voort te bestaan.

Hulle sê ook dit is ’n hartseer dag dat VBS, wat in swart beheer was, op sy verjaarsdag gelikwideer is.

Die ANC het in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die likwidasie.

“Dis ’n iewat betreurenswaardig dat VBS, ’n prysenswaardige inisiatief gegrond op edele ideale, ondermyn is deur individue wat behep was daarmee om hulself te verryk ten koste van armes.”

Die party sê hy bly hoopvol dat deposante hul gelds sal terugkry.

“Die ANC herhaal dat mense wat skuldig bevind word daaraan dat hulle die wet oortree het, die volle mag van die gereg moet ervaar, wat moet insluit dat die geld wat hulle gesteel het, teruggekry word.

“Die ANC moedig Suid-Afrikaners aan om aan die ekonomie deel te neem deur inisiatiewe soos koöperatiewe banke en ander soortgelyke ondernemings, wat ’n beduidende bydrae tot die ekonomie lewer. Etiese leierskap en ’n onwrikbare verbintenis tot gesonde bestuur moet altyd sulke inisiatiewe rugsteun.

Meer oor:  Vbs Mu­Tual Bank  |  Andile Ramavhunga  |  Tshifhiwa Matodzi  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.