Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
VBS Mutual Bank se baas finaal bankrot verklaar

Die laaste twee direkteure van VBS Mutual Bank is nou finaal gesekwestreer, het die likwidateur van dié mislukte bank, Anoosh Rooplal, Woensdagmiddag aangekondig.

Andile Ramavhunga, VBS Mutual Bank se uitvoerende hoof. Foto: Argief

Rooplal probeer om meer as R1,5 miljard wat by VBS gesteel is, terug te kry.

Altesame 14 munisipaliteite het nog geld by VBS gehad toe dit in Maart 2018 in kuratele geplaas is. Munisipaliteite en VBS self het geweet dis teen die wet vir munisipaliteite om in onderlinge banke te belê.

Gewone mense met minder as R100 000 by VBS kon hul geld onttrek.

Robert Madzonga, voorheen VBS se bedryfshoof en ook uitvoerende hoof van Vele Investments, VBS se hoofaandeelhouer, en die gesamentlike boedel van Andile Ramavhunga, VBS se uitvoerende hoof, en sy vrou, Zanele, is nou gelikwideer.

Al drie se poging om die voorwaardelike sekwestrasie op te skort, het in die hooggeregshof in Johannesburg misluk.

Regter Keoagile Matojane het hulle ook beveel om alle koste te betaal.

Die forensiese verslag oor VBS het onder meer bevind luukse motors is vir die bank se topbestuur gekoop met beleggers se deposito’s, fiktiewe rekeninge is geskep, en omkoopgeld is betaal ten einde munisipaliteite oor te haal om by VBS te belê.

Ramavhunga en Madzonga het volgehou hulle was onbewus van die bedrog. Ramavhunga se vrou is betrek omdat hulle in gemeenskap van goedere getroud is.

Rooplal sê in ’n verklaring die sekwestrasie is die laaste stap in hul poging om alle VBS-topbestuurders te sekwestreer “wat voordeel getrek het uit die grootskeepse bedrog”.

Bates van die drie sal nou verkoop kan word om VBS se krediteure te betaal.

In November 2018 is Tshifhiwa Matodzi, VBS se voorsitter, Phillip Truter, finansiële hoof, en Phopi Mukhodobwane, tesouriehoof, gesekwestreer.

Rooplal is intussen ook as VBS se finale likwidateur aangewys. “Hoewel my pligte en opdrag nie veel verander het sedert ek as voorlopige likwidateur aangewys is nie, maak dit my wel daarop geregtig om ’n tweede verandering van krediteure te belê. Dit sal dit vir meer krediteure moontlik maak om hul eise te bewys.”

Die likwidateurs se regspan vorder die skuld in van mense wat huis- of persoonlike lenings of oortrokke rekeninge by VBS gehad het en agterstallig geraak het met terugbetalings.

“Ons is bewus van die groeiende ongeduld van Suid-Afrikaners wat wil hê die plegers van die VBS-misdaad moet strafregtelik aanspreeklik gehou word. My siviele opdrag is om al die geld wat aan die bank verskuldig is, in te vorder, soos bepaal deur die Insolvensiewet.

“Ek is ook wetlik verplig om met wetstoepassingsowerhede saam te werk, wat besig is met strafregtelike ondersoeke. Ons het relevante inligting verskaf, soos versoek, en sal voortgaan om dit te doen.”

Meer oor:  Vbs Mu­Tual Bank  |  Andile Ramavhunga  |  Anoosh Rooplal  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.