Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
VBS-tjek vir JZ: toe lóóp die geld
Oudpres. Jacob Zuma se huislening was die begin van VBS Bank se ambisieuse uitbreiding.

Oudpres. Jacob Zuma se verband van R7,3 miljoen by die sukkelende VBS Bank is geregistreer in dieselfde maand waarin die bank vir die eerste keer deposito’s van munisipaliteite begin kry het.

Die verband, wat aangegaan is sodat Zuma die skuld aan die staat kon terugbetaal wat hy aangegaan het vir ongemagtigde uitgawes by Nkandla, was meer as dubbel soveel as VBS se jaarlikse wins van om en by R3 miljoen.

Die bank het in daardie tyd ook ’n perk van R1 miljoen op verbande gehad. Zuma se lening sou dus sonder ’n invloei van ander deposito’s beslis ’n likiditeitsprobleem veroorsaak het.

Rapport kan ook vandag onthul dat VBS regstreeks betrokke was by grootskaalse dieselaankope vir Eskom in 2013 en 2014 toe die kragreus miljarde aan diesel bestee het om beurtkrag te beperk.

Senior amptenare van die Reserwebank en die nasionale tesourie het ook bevestig dat VBS by verskeie ander onheilighede betrokke geraak het sedert die beheer van die bank in 2012 en 2013 oorgeneem is deur ’n konsortium bestaande uit Vele Investments, onder voorsitterskap van Maanda Manyatshe, en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Kuben Naidoo, ’n adjunkpresident van die Reserwebank en registrateur van banke, het Dinsdag aan die portefeuljekomitee oor finansies gesê die probleem by VBS is aansienlik groter as wat die Reserwebank aanvanklik verwag het.

“Daar was ’n gebrek aan pro-aktiewe kommunikasie met die reguleerder (die Reserwebank) oor wesenlike gebeure. Reaksie van die bestuur op krisisse was laat,” het Naidoo gesê.

“Ek is taamlik seker dat ’n forensiese ondersoek en kommissie van ondersoek nodig gaan wees. Daar was bedenklike bestuurs- en risikogebruike. Die bank is ook herhaaldelik gewaarsku om nie op munisipale deposito’s staat te maak nie, maar pleks van dié raad te volg, het hulle al hoe meer sulke korttermyn-deposito’s ingeneem om langtermyn-uitlenery te finansier,” het Naidoo gesê.

Ek is taamlik seker dat ’n forensiese ondersoek en kommissie van ondersoek nodig gaan wees. Daar was bedenklike bestuurs- en risikogebruike.
Kuben Naidoo, registrateur van banke

Die Openbare Beleggingskommissaris het in 2013 27% van die bank gekoop en ’n kredietlyn van R350 miljoen aan VBS toegestaan.

Diesel-aankope

Die kredietlyn is gebruik om waarborge te verskaf vir verskeie maatskappye wat in 2014 en 2015 enorme hoeveelhede diesel aan Eskom verkoop het deur korttermynkontrakte.

Die kredietlyn is ten volle terugbetaal, maar van die 16 munisipaliteite en ander kleiner deposante sal waarskynlik geld verloor.

“Dit is taamlik duidelik dat geld inbetaal sal moet word om VBS te red,” het Naidoo aan die portefeuljekomitee gesê.

Eskom het in daardie jaar R10,5 miljard aan diesel bestee teenoor ’n beplande R1,8 miljard om beurtkrag te probeer verminder ná ongelukke by twee groot kragsentrales, Majuba en Duvha. In die proses het hy daardie jaar 1,247 miljard liter diesel verbrand om elektrisiteit op te wek.

VBS se kredietlyn is gebruik om waarborge te verskaf aan ses maatskappye wat deur middel van korttermynkontrakte diesel by Sasol gekoop het om dit aan Eskom te lewer.

Die Dentons-verslag, ’n ondersoek wat Lynne Brown, destyds minister van openbare ondernemings, na Eskom laat doen het, het gewys dat Eskom skaamteloos uitgebuit is in hierdie korttermyndieselkontrakte en heeltemal te veel vir die diesel betaal het.

Kuben Naidoo, registrateur van banke.

Daar was ook ernstige onreëlmatighede toe die tenders vir die dieselkontrakte geëvalueer is, het Dentons bevind.

Een van die dieselhandelaars was ’n skoonheidskundige en nog een was ’n tandarts.

Brown het die Dentons-verslag nooit bekend gemaak nie, maar ’n kopie daarvan het uitgelek en is deur Business Day op sy webblad gepubliseer.

Een van die getuies wat aan Dentons gerapporteer het, het daarop gewys dat diesel wat Eskom koop, vrygestel is van ’n belastingheffing van R3,94 per liter omdat Eskom se dieselaankope nie vir padvervoer gebruik word nie, maar om krag op te wek.

Die dieselverskaffers het egter nie die afslag op die groothandelprys aan Eskom deurgegee nie, het die getuie gesê.

“Met die hoeveelhede wat ons gebruik het, is dit ’n aansienlike bedrag,” het die getuie aan Dentons gesê. Sy naam word nie in die verslag genoem nie.

“Die gehalte van rekeninge van die kleiner dieselverskaffers in dié tyd was uiters verdag, veral in die lig van die bedrae wat aan hulle betaal is. Ek meen van hulle is bloot as dopmaatskappye gestig, want hulle het geen kontakbesonderhede of infrastruktuur gehad nie,” het ’n ander getuie, ook anoniem, aan Dentons gesê.

Meer oor:  Vbs  |  Eskom  |  Vbs Mutual Bank  |  Lynne Brown  |  Kuben Naidoo  |  Jacob Zuma  |  Nkandla  |  Staatskaping  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Banke  |  Diesel  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.