Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verbod op drankverkope oor naweke ‘onsinnig’

Die verbod wat steeds heers op drankverkope oor naweke is onsinnig, sê Gareth Ackerman, voorsitter van Pick n Pay.

Gareth Ackerman, voorsitter van Pick n Pay.

Hy het met die aankondiging van die groep se resultate vir die halfjaar tot einde Augustus gesê dis steeds onwettig vir ’n verbruiker om op Saterdae en Sondae by ’n winkel drank te koop om in die privaatheid van sy eie huis te nuttig.

“Dit maak geen sin nie as dieselfde klant heeltemal vry is om op ’n Vrydag, Saterdag of Sondag by ’n restaurant of kroeg alkohol te drink.

“Ministers het nooit dié teenstrydigheid verduidelik nie, en dus is dit nog nooit deur die publiek verstaan nie.”

Hy meen dit is belangrik omdat die inperkingsmaatreëls vir Covid-19 “vandag meer as voorheen verstaan en ondersteun moet word”.

“Die virus is nie weg nie en ons kan nie op ons louere rus nie omdat die gevaar van ’n volgende vlaag ’n werklikheid is.”

Ackerman sê kleinhandelaars maak seker dat hul personeel en klante die maatstawwe oor higiëne in hul winkels volg solank as wat dit nodig is. “Maar terselfdertyd het die regering ’n plig om seker te maak sy reëls is regverdig. Daarom moet die oorblywende beperkings op die verkoop van drank verwyder word.”

Die virus is nie weg nie en ons kan nie op ons louere rus nie omdat die gevaar van ’n volgende vlaag ’n werklikheid is.
Gareth Ackerman van Pick n Pay

Richard Brasher, uitvoerende hoof, het gesê wetsgehoorsame maatskappye moet nooit benadeel word tot voordeel van misdadigers nie en dis wat met die verbod gebeur het.

Pick n Pay se halfjaar strek, anders as ander genoteerde winkelgroepe s’n, oor die hele inperking en gee dus ’n akkurate prentjie van die volle impak van die inperking.

Die impak van die verbod op verkope op drank, klere en sigarette kan in sy verkope en wins gesien word.

Sy kos- en kruidenierswareverkope in Suid-Afrika het stewig met 9,9% gestyg, maar ingesluit ander produkte het omset met 3,4% gestyg.

Die verkope van Pick n Pay se kos, kruideniersware en algemene handelsware het in die halfjaar tot einde Augustus sterk met 9,9% gestyg. Dit is deels oor nuwe winkels wat geopen het en prysstygings van ’n gemiddelde 3,4%. Volgens die groep het hy volumegroei van 4,2% met dié produkte behaal.

Die handelsbeperkinge het tot nagenoeg R2,8 miljard se verlore verkope gelei.

Die omset is ondersteun deur 42 nuwe winkels wat geopen is. Uitgesluit die impak van die inperking, het verkope van kos en kruideniersware in Suid-Afrika met 7,6% gestyg en totale verkope met 1,7%.

Gedurende die eerste paar weke van die inperking was die verkoop van produkte wat normaalweg tot 20% van die groep se inkomste bydra, verbode. Die meeste van die verbode produkte het ’n hoër winsmarge, soos drank, klere en algemene handelsware.

Die verkope van drank en sigarette het met 47% gedaal in die halfjaar terwyl klereverkope met 4% gedaal het.

Die wins uit verkope het met 1% tot R8,6 miljard gestyg nadat die bruto winsmarge met 20 basispunte gedaal het weens die hoërmargeprodukte wat nie verkoop kon word nie.

Lerena Olivier, finansiële direkteur van Pick n Pay, het gesê die impak op bruto winsmarges is teengewerk deur die besparinge wat verkry is met groter doeltreffendheid met aankope- en voorraadkettingbestuur.

Bedryfsuitgawes, uitgesluit die eenmalige koste van vrywillige skeidingspakkette wat deur 1 400 personeel aanvaar is, het in vergelykbare winkels net 3,2% gestyg. Dié styging sluit in die bykomende bedryfskoste wat Covid-19 meegebring het van R150 miljoen om winkels veilig te hou.

Ingesluit die koste van vrywillige skeidingspakkette van R100 miljoen het handelswins met 25% tot R886 miljoen gedaal.

Olivier het gesê die groep se kontant uit bedrywighede het R1,3 miljard in die halfjaar beloop nadat bedryfskapitaal- en kapitaalbesteding verminder is. Sy het gesê voorraad is goed bestuur om die impak van die handelsbeperkinge tydens die inperking te beperk. Kapitaalbesteding is ook verlaag vergeleke met die ooreenstemmende tydperk.

Streng kontantbestuur en die kapitaal- en bedryfsbesteding wat verminder is, het die druk verlig wat Covid-19 op likiditeit geplaas het.

Die groep kon gevolglik aankondig dat ’n tussentydse dividend verklaar is en boonop gaan sy finale dividend vir die vorige boekjaar wat in Mei uitgestel is, ook betaal word.

Die finale dividend vir die boekjaar tot einde Februarie beloop 173,06c per aandeel en die tussentydse dividend 18,74c per aandeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.