Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verbroude tender kos belasting-betalers R200 m.
Die waterpype wat langs die R524 tussen Thohoyandou en Giyani in die Limpopo-provinsie nutteloos lê. Foto: City Press

Danksy ’n verbroude tenderproses, is waterpype wat Suid-Afrikaners meer as R200 miljoen gekos het, nou onbruikbaar.

Die waterpype lê sedert 2010 langs ’n pad en vergaan.

Die staalpype met ’n sementvoering moes water van die Nandoni-dam buite Thohoyandou na die Nsami-dam in Giyani in Limpopo herlei het.

Dit sou inwoners van Giyani en sowat 90 omliggende dorpe toegang tot vars water gegee het.

Die Mopani-distriksmunisipaliteit is deur ’n hofbevel gedwing om die pype langs die R524 tussen Thohoyandou en Giyani te los.

Dit het gevolg nadat die siviele ingenieursfirma Esorfranki Pipelines die besluit van die munisipaliteit om ’n tender aan die gesamentlike onderneming tussen Tlo Re Yeng en Base Major te gee, tot in die appèlhof betwis het.

Die appèlhof het in Maart 2014 beveel die tenderproses was onwettig.

Mopani het die kontrak gekanselleer en in 2015 het die departement van water en sanitasie die proses oorgeneem en is die kontrak aan Vharani Properties wat deur David Mabilu, ’n sakeman van die provinsie, besit word toegeken om die pypleiding van 51 km te bou.

Die departement het die nuwe pype vir die projek van Spanje ingevoer teen ’n bykomende koste van R100 miljoen.

Die nuwe pype loop ook nou die gevaar om langs die pad te vergaan omdat Vharanani Properties die konstruksieperseel omtrent agt maande gelede verlaat het omdat die departement nie die maatskappy betaal het nie.

Verskeie bronne in die departement het die inligting aan City Press verskaf oor hoe die tender verbrou is.

Chris Mthombeni, bedryfsdirekteur van Vharanani, sê die terrein is in Februarie verlaat. “Die pype lê daar vir meer as ’n jaar. Hulle skuld ons omtrent R40 miljoen.”

“Ons kan teruggaan na die perseel, as ons ooit teruggaan, en gaan vind die pype kan nie meer gebruik word nie. Die departement sal nog R100 miljoen moet betaal om nuwe pype te koop.”

Die nuwe plastiekpype wat gekoop is, is aan die son en reën blootgestel. Hy sê as dit te lank daar lê gaan dit beskadig word.

’n Ervare ingenieur het bevestig PVC-waterpype is ontwerp om ondergronds te wees en as hulle blootgestel word aan reën en son, word hulle baie gou beskadig.

Mthombeni sê dis noodsaaklik om die projek binnekort te voltooi omdat die sukses van die departement se omstrede R5 miljard nood-waterprojek vir Giyani daarvan afhang.

Die pypleiding is nodig om water uit Nandoni te kry as die Nsami-dam se watervlak laag is.

Die konstruksie van die R5 miljard-projek in Giyani is intussen ook in gedrang, toon amptelike briewe tussen die verskillende kontrakteurs in die projek insluitende die konstruksiefirma Khato Civils, Lepelle Northern Water en die kontrakhouer LTE Consulting.

Khato Civils het sowat ’n maand gelede sy werksaamhede gestaak nadat ’n sustermaatskappy South Zambezi Engineering, nie R50 miljoen betaal is nie.

Die maatskappye word deur die sakeman Simbi Phiri besit.

City Press het in 2016 ’n reeks berigte geskryf oor hoe die departement in Augustus 2014 deur sy agent Lepelle Northern Water ’n nood-waterprojek van R500 miljoen toegeken het sonder ’n tenderproses.

Die departement het die kontrak aan LTE gegee, wie se eienaar, Thulani Majola, noue bande met Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, het.

LTE het weer op sy beurt Phiri se maatskappye aangestel om die ingenieurs- en konstruksiewerk te doen.

Die departement het toe meer projekte in die kontrak gestoot en die waarde van die werk wat LTE gekry het tot meer as R5 miljard verhoog. Lees die volledige berig op News24

Meer oor:  Simbi Phiri  |  Nomvula Mokonyane  |  Thohoyandou  |  Giyani
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.