Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verbruikers langtand vir uiteet, hou pryse fyn dop

Suid-Afrikaners is ’n bietjie uitgekuier met oorsese restaurant-handelsname wat hierheen kom, maar dié restaurante het wel mense se verwagting van kitskos en uiteet verhoog. Mense wil nou innovering en opwindende aanbiedinge hê, ook van welbekende plaaslik gebore restaurante.

Wimpy bly ’n Suid-Afrikaanse gunsteling, maar selfs hiér wil verbruikers nuwe smake proe.

Dié tendens, wat Famous Brands in sy resultate vir die boekjaar tot einde Februarie identifiseer, is dalk ’n verskuilde stekie na sy mededingers, Taste en Grand Foods, wat albei die afgelope jare swaar trek omdat hulle duur betaal het vir die regte om veral Amerikaanse handelsname “in te voer”.

Taste probeer Starbucks en Domino’s Pizza in Suid-Afrika vestig, terwyl Grand Foods, ’n filiaal van Grand Parade Investments, lank gesukkel het om Burger King te laat wins maak.

Dis egter ook ’n probleem vir Famous Brands self – hy probeer onder meer die Franse spesialisbakkery Paul in Suid-Afrika vestig.

Benewens dié uitdaging worstel Famous Brands met dieselfde probleem as sy mededingers, naamlik dat verbruikers in al sy markte steeds hul beursie redelik styf toehou wanneer dit by kitskos en uiteet kom. Daarby verkies al hoe meer mense om kos te laat aflewer deur Mr D of Uber Eats, pleks van te kom aansit en dus meer te bestee aan winsgewende items soos drinkgoed en nagereg.

Darren Hele, uitvoerende hoof van Famous Brands.

Die groep se inkomste het met ’n stewige 23% tot meer as R7 miljard gestyg, maar dit word grootliks aangedryf deur vervaardiging en logistiek. Famous Brands vervaardig of verwerk onder meer kaas, koffie, vleis, souse en speserye, en roomys waarvan sy eie restaurante ’n al hoe groter persentasie aankoop.

Verkope in Famous Brands se 25 restaurantgroepe en 2 853 restaurante – die meeste van hulle in Suid-Afrika en ’n klein persentasie in die res van Afrika, die Midde-Ooste en Brittanje – het met 8,3% gestyg.

Dis grootliks aangedryf deur die opening van nuwe restaurante en prysstygings. Verkope in restaurante wat ook die hele vorige boekjaar oop was, het met net 3% gestyg.

Famous Brands sê sy hoofstroomrestaurante het bevredigend gevaar. Dít is sy kitskos- en gesinsrestaurante, wat Steers, Debonairs Pizza, Wimpy, Mugg & Bean en Fishaways insluit.

Sy sogenaamde nisrestaurante, wat Mythos, Tashas, Lupa Osteria en ander insluit, brand egter vas. Famous Brands is besig om sy portefeulje van dié restaurante te hersien en het die afgelope jaar reeds van Giramundo, The Bread Basket, Juicy Lucy, Brewers Guild en McGinty’s ontslae geraak.

Op die direksie

Dit was ’n jaar van groot omwentelinge op Famous Brands se direksie.

  • In November het Peter Halamandaris, Theofanis Halamandaris en Periklis Halamandaris afgetree. Dié drie was in 1971 die stigters van Steers, wat later omskep is in Famous Brands. Hulle het van Famous Brands se notering 23 jaar gelede op die direksie gedien.
  • ’n Nuwe lid van die stigtersfamilie, Nik Halamandaris, is wel as direkteur aangewys.
  • Die man wat Steers tot Famous Brands uitgebrei het, Kevin Hedderwick, het ook in Januarie finaal afgetree. Hedderwick was 18 jaar by die groep, die grootste deel daarvan as uitvoerende hoof.

Britse probleme

In Brittanje, waar Famous Brands Wimpy en Gourmet Burger Kitchen (GBK) bedryf, gaan dit broekskeur. Die maatskappy sê verbruikersvertroue is baie laag sedert die Brexit-referendum. Daarby is huur, arbeid en kos baie duur in Brittanje.

Die maatskappy sê GBK verloor op verskeie fronte. Dis byvoorbeeld nie ’n handelsnaam wat kan deel in die stygende vraag na tuisaflewerings nie omdat sy uitsoekburgers gemiddeld tien minute langer neem om voor te berei as ander kitskos. Al hoe minder mense besoek groot winkelsentrums, waar die meeste GBK-restaurante geleë is.

GBK is vinnig besig om markaandeel te verloor – waar dit in 2016, toe Famous Brands dié handelsnaam gekoop het, 43,1% van die markaandeel van spesialisburgers gehad het, staan dit nou op net 31,5%. Verkope landwyd het met 4,9% gestyg, maar verkope in restaurante wat ook die vorige jaar oop was, het met 6,8% geval. Dis in pond gemeet.

Meer oor:  Steers  |  Debonairs  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Uiteet  |  Verbruikers  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.