Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verbruikers leen minder, maar wanbetaal méér

Suid-Afrika se banke sal kredietwaardig bly ondanks die swak ekonomiese omgewing waarin hulle bedrywig is, sê Moody’s Investors Service.

Moody’s se vooruitsig vir Suid-Afrikaanse banke bly stabiel. Foto: Argief

Die kredietgradeerder het Dinsdag sy nuutste verslag oor die Suid-Afrikaanse banksektor bekend gestel. Hy het dié verslag ook bespreek op sy jaarlikse seminaar oor Afrika suid van die Sahara wat in Sandton, Johannesburg, gehou word.

Moody’s sê hy handhaaf sy vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse bankstelsel as stabiel.

Dit gesê, voorspel Akin Majekodunmi, senior kredietbeampte van Moody’s en skrywer van die verslag, dat banke se balansstate oor die volgende 12 tot 18 maande waarskynlik nié groot groei gaan toon nie.

Moody’s voorspel dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk in 2019 met net 0,7% gaan groei. In 2020 verwag hy 1,5% groei.

“Dit gaan druk op banke se groeivooruitsigte plaas.”

Moody’s ontleed die stand van sake by sewe van Suid-Afrika se banke wanneer hy sy verslag saamstel.

Hulle is:

  • Standard Bank
  • FirstRand (moedermaatskappy van FNB)
  • Absa
  • Nedbank
  • Investec Bank
  • Mercantile Bank
  • Bidvest Bank

Moody’s reken omdat daar groot druk op verbruikers en maatskappye is, gaan Suid-Afrikaners minder geld by banke leen.

Die gradeerder verwag dat lenings oor die volgende 12 tot 18 maande met net 6% gaan toeneem teenoor die groei van 8% in 2018.

Daarby raam hy dat nie-invorderbare lenings sowat 3,7% van banke se totale kredietboek gaan uitmaak.

Moody’s sê hy verwag dat banke steeds winsgewend sal bly.

Die opbrengste op die bates van die banke sal volgens Moody’s in 2019-’20 op 1,2% ongeveer dieselfde bly as wat dit in 2018 was.

Banke se belangrikste bron van inkomste – netto rente-inkomste – sal volgens Moody’s onder druk kom weens laer groei in lenings.

Deposito’s deur instellings soos pensioenfondse, batebestuurders en versekeraars sal ’n belangrike bron van inkomste vir die land se banke bly.

Moody’s sê gegewe dat verbruikers onder groot druk is en huishoudings nie veel spaar nie, gaan hul bydrae net sowat 26% van totale deposito’s beloop.

Meer oor:  Moody's  |  Bankbedryf  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.