Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verbruikers wat stres, koop nou meer geriefskos

Meer as ’n derde van Suid-Afrikaanse verbruikers in die hoër middelklas gebruik gereeld restaurant-aflewerings soos Uber Eats en Mr D Food, of laat maaltydpakkies wat gereed is vir voorbereiding, soos UCook en Daily Dish s’n, aflewer.

So lyk Checkers se Ready to Chef-maaltydpakkie, reg vir voorbereiding.

Dié dienste is nou 29% gewilder as in 2017, sê die marknavorsingsmaatskappy Nielsen na aanleiding van ’n studie oor hoe verbruikers se behoefte aan gerief hul gedragspatrone beïnvloed.

Nielsen sê in ’n verklaring verbruikers wat al hoe meer stres en al hoe minder tyd het, het die vraag na gerieflike oplossings die hoogte laat inskiet.

Tot 40% van Suid-Afrikaanse respondente in die aanlyn peiling het gesê hulle soek produkte wat hul lewe vergemaklik, en 34% sê hulle kies restaurant-aflewerings of gereed-vir-voorbereiding-maaltye om tyd te spaar.

Die gewildheid hiervan blyk uit UCook wat onlangs sy omset vir die jaar op R80 miljoen geskat het op grond van 100 000 maaltyd-pakkies wat vanjaar afgelewer sal word, sê Ailsa Wingfield, ’n direkteur van Nielsen se afdeling vir wêreldmarkte.

Sowat 36% van Suid-Afrikaanse respondente sê hulle soek meer produkte wat gerieflik is om te gebruik, terwyl 25% sê produkte vir klein gesinne en huishoudings is skaars.

Omdat Nielsen se studie aanlyn gedoen is en Suid-Afrika se internetpenetrasie van sowat 52% in ag geneem is, beteken dit die respondente is in die hoër leefstylmaatstaf- (LSM) inkomstegroepe, sê Wingfield.

Die ruimte vir uitbreiding in die mark vir geriefsprodukte blyk ook daaruit dat Checkers pas sy eie maaltyd-pakkies gereed vir voorbereiding in sy winkels bekend gestel het, sê Wingfield.

Nielsen het ook bevind “grab-and-go”-maaltye van diensverskaffers, wegneemeetplekke en straatkos-kiosks raak al hoe gewilder. Meer as 63% van die respondente sê hulle het in die laaste ses maande wegneemetes gekoop, en 34% het in ’n formele restaurant gaan eet. Die helfte van respondente eet een keer per maand uit, 18% weekliks en 31% minder gereeld.

Die beskikbaarheid van e-handel en aanlyn inkopieplatforms, saam met die soeke na gerief, beïnvloed die manier waarop verbruikers koop, volgens Wingfield.

’n Studie oor e-handel wat Nielsen in 30 lande gedoen het, wys aanlyn verkope van snel bewegende verbruikersgoedere (FMCG) groei na raming vyf keer vinniger as tradisionele verkope. Teen 2020 kan e-handel in FMCG meer as $400 miljard beloop en tot 12% van die totale mark vir FMCG uitmaak.

Nielsen sê Suid-Afrikaanse kruideniershandelaars kan hul e-handelaanbieding verbeter deur onder meer ’n spesifieke afleweringsvenstertyd (met halfuur-intervalle) te gee sodat dit by klante se rooster kan inpas. Hulle kan ook ’n diens op die webblad beskikbaar stel waar klante die vordering in hul bestelling kan volg.

Meer oor:  Ubereats  |  Nielsen  |  Ucook  |  Kitskos  |  E-Handel  |  Kos  |  Verbruikers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.