Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verkope van huisraad vaar goed oor Kersfees

Mense het dalk nie vanjaar klere of skoene oor Swart Vrydag gekoop nie, maar baie mense het wel meubels en huisware aangeskaf.

Beares behoort aan die Lewis-groep, wat baie tevrede is met die herstel in sy verkope sedert meubelwinkels in Junie 2020 hul deure kon heropen.

Die meubelgroep Lewis, wat onder meer ook Beares en Best Home and Electric insluit, beskryf sy Swart Vrydag-verkope as “veerkragtig”. Vir die hele vierde kwartaal van 2020, wat ook Kersfees insluit, het die groep se verkope met 16,6% gestyg.

Dié stewige verkoopsyfers het Lewis se aandeelprys teen 12:00 met 7,5% tot R25,80 laat opskiet – teenoor ’n effense daling (van minder as 0,1%) in die JSE se indeks van alle aandele.

Die Desember-kwartaal is die derde in Lewis se boekjaar. Lewis se verkope vir die eerste nege maande van sy boekjaar wys wel die effek van die strengste fases van die inperking weens die Covid-19-pandemie, met groei van slegs 4%.

Meubelwinkels kon eers in Junie hul deure heropen. As April en Mei uitgesluit word, was die verkope 18,3% hoër as in dieselfde tyd van die vorige jaar.

Lewis se inkomste uit onder meer finansiering, versekering en dienste, wat deel uitmaak van kontrakte as meubels op skuld gekoop word, het in die kwartaal met 2,8% gestyg en in die nege maande met 2,7%.

Altesame was die groep se inkomste in die Desember-kwartaal 11,5% hoër as in 2019, en vir die nege maande 3,5% hoër.

Nadat baie mense tydens die inperking agtergeraak het met hul afbetalings, merk Lewis weer ’n verbetering in sy skuldboek op. In die Desember-kwartaal het hy 75,6% van alle gelde verskuldig ingevorder. Vir die hele maande was invorderings 69,5%, heelwat laer as 2019 se 77%.

Lewis se syfers, tesame met dié wat klerekleinhandelaars vir Swart Vrydag en Kersfees uitgereik het, beaam die kleinhandelverkoopsyfers wat Statistieke Suid-Afrika vir November bekend gemaak het. Daarvolgens het die volume klere wat oor Swart Vrydag verkoop is, met 5,6% geval, maar die verkope van meubels het met 7,8% gestyg, en van selfdoentoebehore met 14%.

Meer oor:  Lewis  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.