Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verkope van vloeibare seep skiet met 378% op

In die eerste week van Maart, toe die eerste Covid-19-geval in Suid-Afrika bevestig is, het verbruikers R42 miljoen meer aan vitamine en aanvullings bestee as die gemiddelde weeklikse besteding in die voorafgaande jaar.

Verskeie kossoorte was ook skielik baie meer gesog:

  • Suid-Afrikaanse verbruikers het R34 miljoen meer aan hoender bestee,
  • R26 miljoen meer aan joghurt en
  • R25 miljoen meer aan langlewemelk.

Die syfers is volgens Nielsen, ’n internasionale maatskappy wat data oor verbruikers se koopgedrag insamel en ontleed.

’n Afleweraar van Uber Eats ry in ’n verlate straat in Krakow in die suide van Pole.

Die verkope van gesondheidsprodukte het met 37% opgeskiet, van skoonmaakmiddels met 22% en van produkte vir persoonlike versorging met 18%.

Persentasiegewys was die skerpste styging – 378% – dié in die verkope van vloeibare seep, gevolg deur vloeibare ontsmettingsmiddels (112%) en verkouemedikasie (46%).

Verbruikers het R8 miljoen minder bestee aan onderskeidelik whiskey en sjokoladeplakke, R6 miljoen minder aan bier en R5 miljoen minder aan lugtyd. Belangstelling het getaan in geskenkpakke vir mans, kougom en rum.

Die syfers vir die week tot 8 Maart is die jongste wat beskikbaar is omdat dit twee weke neem om die data in te samel en te ontleed, sê Nielsen.

Nicole Corbett van Nielsen Global Intelligence sê aanlyn inkopies neem toe wanneer mense voorberei vir kwarantyn en in sommige gevalle is daar druk op die verskaffingsketting. Suid-Afrika is nou in dié fase.

Aanlyn aankope

Wat tegnologie betref, behoort die krisis aanlyn verkope in Suid-Afrika ’n groot hupstoot te gee.

In die week tot 8 Maart het weeklikse aanlyn aankope van vinnig-bewegende verbruikersgoedere in Italië – wat nou reeds meer Covid-19-sterftes as China het – met 82% opgeskiet, sê Corbett.

UCook, wat bestanddele vir spesifieke resepte aflewer, het sedert vroeg in Maart ’n toename in bestellings ervaar.

David Torr, uitvoerende hoof, sê hulle gaan voort met aflewering in die inperkingstyd.

UCook beperk die getal weeklikse bestellings wel omdat hy sy veiligheidsprotokolle nie wil kompromitteer nie.

Daar is geen menslike kontak tydens aflewering nie.

UCook lewer tans 4 400 bestellings per week af, of sowat 17 600 per maand.

UCook word as ’n noodsaaklike diensverskaffer beskou omdat hy kruideniersware en bestanddele aflewer. Dit geld ook sy verskaffers en koeriervennote, sê Torr.

UCook het geriewe in Kaapstad en Johannesburg. Weens die opskorting van verskeie vlugte is aflewerings in ander dele gestaak.

Hoewel Shoprite Checkers se nuwe afleweringsdiens, Sixty60, bekend gestel is met die belofte dat items binne ’n uur afgelewer sal word, sê die maatskappy aflewerings kan gedurende die inperking langer duur omdat daar soveel meer is.

In dié tyd mag mense net 30 items op ’n slag bestel en hoogstens drie van enige bepaalde produk. Die pryse op die app is dieselfde as in winkels en tot 16 April sal die diens gratis wees, waarna ’n nominale tarief ingestel sal word.

Pick n Pay het onlangs ’n nuwe diens bekend gestel waardeur klante kan registreer vir outomaties herhalende aflewerings van hul gunstelingprodukte weekliks of maandeliks.

“Ons werk hard om kruideniersware by soveel moontlik klante te kry, so gou en doeltreffend moontlik,” sê die groep.

Klante kan aanlyn registreer. Dit kos R60 per aflewering.

Vrugte van NetFlorist

NetFlorist, aanlyn bloemiste wat aflewerings doen, het kragte saamgesnoer met Fruitspot, ’n groothandelaar en verspreider.

Sedert begin vandeesweek kan verbruikers vrugte en groente van NetFlorist bestel vir aflewering die volgende dag in sekere gebied in die noorde van Johannesburg en Pretoria.

Ryan Bacher, besturende direkteur, sê hulle het die idee reeds drie jaar gelede getoets en dis nou die ideale tyd om ’n omvattender diens aan klante te bied.

“Ons pakhuise en voertuie is reeds verkoel om blomme en geskenke wat koel moet bly, te kan vervoer.”

Mr D Food, wat landwyd wegneemetes van sowat 5 000 restaurante aan meer as ’n miljoen klante aflewer, se diens is egter ingevolge die inperkingsmaat­reëls opgeskort. Takealot besit Mr D Food. 

Takealot sê hy sal tydens die inperking net artikels aflewer wat deur die regering as noodsaaklik beskou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.