Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Verlengde verbod is ons einde’ – mikrobrouers

Mikrobrouerye waarsku dat hulle nie ’n verlengde verbod op drankverkope gaan oorleef nie.

Mikrobrouerye waarsku dat hulle nie ’n verlengde verbod op drankverkope gaan oorleef nie.

Die Biervereniging van Suid-Afrika, wat mikrobrouerye en die twee reuse Heineken en SAB verteenwoordig, doen ’n dringende beroep op pres. Cyril Ramaphosa om die algehele verbod op alkoholverkope op 16 Januarie op te hef.

“Dit is noodsaaklik om die voortbestaan van mikrobrouerye te beskerm, wat hulle op die rand van ineenstorting bevind weens die derde drankverbod,” lui ’n verklaring van die vereniging.

Die vereniging besef wel die omvang van die krisis waardeur die land in die gesig gestaar word. “Almal ondersteun die poging om die virus se verspreiding te voorkom, maar ons moet saamwerk om ondernemings en werkgeleenthede te red.”

Wendy Pienaar, voorsitter van die Mikrobrouerye-vereniging van Suid-Afrika, sê die huidige verbod het ’n verwoestende uitwerking op die bedryf.

“Ons word oorval met oproepe van lede wat geen geld meer het nie en desperaat is vir finansiële verligting om te oorleef.”

Sy sê die bedryf word gekenmerk deur klein ondernemings wat met klein winsmarges werk en eienaars wat die welstand van hul personeel bo dié van hul eie stel.

“Dit is nou nie meer ’n kwessie of die ondernemings sal kan oopbly nie, maar of die eienaars van hierdie klein ondernemings se personeel en gesinne dié maand kos gaan hê om te eet.”

Pienaar sê wat dinge vererger, is dat dit dié brouerye is wat in die eerste fase van die inperking in 2020 hul geriewe gebruik het om sop en bredies van geskenkte groente te maak om twee miljoen mense kos te gee. Hulle het ook gehelp om ontsmettingsmiddels te vervaardig.

“Dit is hartverskeurend om oproepe te ontvang van brouers wat weet hulle gaan moontlik alles verloor. Ons moet ’n alternatiewe oplossing vir ’n algehele verbod vind.”

Dit is nou nie meer ’n kwessie of die ondernemings sal kan oopbly nie, maar of die eienaars van hierdie klein ondernemings se personeel en gesinne dié maand kos gaan hê om te eet.
Wendy Pienaar

Lethu Tshabangu, eienaar van Ukhamba Beerworx, wat in 2020 ’n nuwe taverne by Makers Landing in die V&A Waterfront oopgemaak het, sê hy sit weens die beperkings op drankverkope met R300 000 se skuld en huurgeld wat hy nie kan betaal nie terwyl hy nie sy voorraad kan verkoop nie.

Hy is besorg oor sy kinders se onderrig, want sonder verkope is daar nie ’n inkomste nie en hy weet nie hoe hy vir sy dogter se eerste jaar op hoërskool gaan betaal nie.

“Covid-19 moet bekamp word sonder om ander brande te veroorsaak. ’n Mens bring nie ’n slang in jou huis omdat jy ’n probleem met rotte het nie.

“Die president beskerm ons teen Covid-19 net om ons van honger dood te maak omdat ons nie mag werk nie. Die regering het my lewensbestaan en my personeel s’n gedood. Hulle het ook gesinne en kinders om kos te gee.”

Apiwe Nxusani-Mawela van Brewsters Craft, Suid-Afrika se eerste swart vrouebrouery, sê sy het geen idee hoe sy die derde verbod gaan oorleef nie.

“Ek hoop dat ons weer kan oopmaak om ’n paar verkope te kry sodat ons minstens iets aan ons personeel kan betaal. Maar ek moes hulle inlig dat hulle nie veel aan die einde van die maand moet verwag nie – dit is ons werklikheid.”

Die bedryf bevind hulle in ’n haglike situasie. Tydens die vorige twee keer dat ’n drankverbod ingestel is, het na raming 7 400 poste verlore gegaan omdat R14 miljard se verkope verloor is.

Gedurende die vorige twee keer dat die verbod ingestel is, het die regering R7,4 miljard se belasting en aksyns verloor.

’n Beroep word op Ramaphosa gedoen om die situasie van mikrobrouerye te heroorweeg deur die verbod op alkohol nie tot langer as 15 Januarie te verleng nie.

Die vereniging stel voor dit word gedoen deur 'n veilige alternatief toe te laat – soos aanlyn verkope wat opgelaai kan word.

Die Biervereniging sê die huidige aandklokreël moet bly asook die spertyd van 20:00 wanneer ondernemings moet sluit.

“Dit, tesame met ’n verbod op byeenkomste en verhoogde polisiëring sal verseker dat lewens en lewensbestaan beskerm word.”

Meer oor:  Bier  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Kleinsake  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.