Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Verlos SAL uit sy ellende - kenners

Verlos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) tog nou maar uit sy ellende en likwideer hom.

Dié oproep kom van kenners terwyl die Covid-19-krisis selfs finansieel sterk en gesonde lugdienste wêreldwyd op hul knieë dwing.

’n Bemanningslid Donderdag op die El Prat-lughawe in Barcelona, Spanje. Lugdienste wêreldwyd steier weens die Covid-19-pandemie. Foto: Getty Images

Dit kan die regering voortaan tot R2 miljard per maand kos om die SAL aan die gang te hou, raam Guy Leitch, redakteur van die tydskrif SA Flyer.

Die vervoerekonoom Joachim Vermooten sê die R6,5 miljard wat die regering in 2020-’21 vir die SAL beloof het en die R16,5 miljard oor drie jaar om sy skuldverpligtinge oor te neem is minstens R2 miljard te min.

Leitch meen die regering het dringender behoeftes as om geld in die SAL te pomp, maar Vermooten twyfel of hulle gereed is om die SAL te laat ondergaan.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarkbeleggings by Intellidex, sê die huidige krisis laat die regering met die besluit om geld te bestee aan die “onoplosbare probleem” van die SAL wat reeds insolvent is, of die ondersteuning van gesondheidsdienste en die ekonomie.

“Die SAL moet uit sy ellende verlos word en die regering moet wys waar sy bestedingsprioriteite in die krisis lê.”

Die oproepe volg terwyl die SAL Woensdag 162 vlugte opgeskort het en Vrydag al sy internasionale vlugte gekanselleer het. Dis die gevolg van ’n dramatiese wêreldwye afname in besprekings vir passasiersvlugte en toename in kansellasies namate reisigers hul planne laat vaar en regerings beweging beperk.

Die SAL se sakeredders het boonop verdere uitstel gevra vir die finalisering van die reddingsplan wat kragtens wet binne 25 dae gepubliseer moet word.

Nadat dit twee keer vantevore uitgestel moes word, sê die redders, Les Matuson en Siviwe Dongwana, hulle kan nie voor die huidige spertyd, 31 Maart, die impak van die Covid-19-krisis op die SAL bepaal nie.

Hulle maak dit egter duidelik dat die krisis die SAL se benarde posisie baie vererger en dit vir hulle baie moeilik maak om ’n geloofwaardige reddingsplan op te stel.

’n Raming wat die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) op 5 Maart gepubliseer het, toon Covid-19 kan die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf ongeveer $1,2 miljard (R20,7 miljard teen Vrydag se wisselkoers) kos, tesame met 102 000 werkgeleenthede.

sakeredding
Dit kan die regering voortaan tot R2 miljard per maand kos om die SAL aan die gang te hou, raam Guy Leitch, redakteur van die tydskrif SA Flyer. Foto: Reuters

In dié ramings is reisbeperkings wat regerings sedertdien ingestel het, nie ingereken nie.

Iata beywer hom tans vir hulp van regerings aan lugdienste wêreldwyd in die vorm van direkte finansiële hulp, steun – waaronder waarborge – vir lenings en ander finansiering en belastingverligting.

Die Lugdiensvereniging van Suider-Afrika (AASA) is volgens Linden Birns, woordvoerder, reeds besig om gesprekke oor die kwessie met die regering aan te knoop.

Ander plaaslike lugdienste het ook die afgelope week drastiese maatreëls aangekondig.

SA Express, wat ook in sakeredding is, het al sy vlugte gestaak.

FlySafair het sy getal vlugte met tussen 30% en 40% ingekort en Comair het Donderdag vlugtig alle streeksvlugte opgeskort, maar kon dit kort daarna hervat. Comair sê hy hou die situasie met ’n valkoog dop en pas sy vlugrooster aan soos nodig.

Dit is nie net die lugdienste wat onder die afname in passasiersvervoer ly nie. Wesenlike persentasies van die inkomste van die lughawensmaatskappy Acsa, die navigasie-agentskap ATNS, die Suid-Afrikaanse Weerdiens en die Burgerlugvaartowerheid (BLO) is gegrond op vlugvolumes. Hoe minder die aantal vlugte, hoe kleiner is hul inkomste dus.

Die BLO het juis vroeg in Maart in die parlement gekla dat lugdienste wat finansieel sukkel, R24 per vliegkaartjie namens hulle invorder, maar versuim om dit oor te betaal. Die owerheid het gevra vir wetswysigings wat van hom ’n voorkeureiser sal maak wanneer lugdienste in sakeredding geplaas of gelikwideer word.

ATNS raam volgens sy woordvoerder, Percy Morokane, tans hy sal tot einde Maart sowat R70 miljoen verloor weens die afname in lugverkeer en kansellasie van vlugte weens die Covid-19-krisis. “As die situasie nie gestabiliseer word nie, sal daar ’n wesenlike impak in die nuwe boekjaar wees.”

Hy sê ATNS het gelukkig ’n sterk balansstaat en gesonde kontantreserwes, maar hou die situasie fyn dop, spaar waar moontlik en hersien die prioriteite vir sy kapitaalbesteding.

Volgens Hannelee Doubell, woordvoerder van die Weerdiens, is 34% van die organisasie se inkomste gegrond op vlugvolumes. Hulle verwag tans op grond van Iata se ramings ’n 20%-afname en het reeds besparingsmaatreëls ingestel.

Acsa sê dis nog te vroeg om data oor die afname te verskaf, maar groot getalle mense daag bloot nie vir vlugte op nie. Hulle verwag ’n wesenlik impak op hul inkomste.

Vermooten sê Acsa het heelwat reserwes wat die impak kan versag, maar hy het geen twyfel dat die regering die BLO en ATNS sal moet help tensy daar ’n besluit kom om op groot skaal te privatiseer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.