Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Versekeraars gekap oor eise

Kleinsakeondernemings in die gasvryheidsbedryf wat op die rand van ondergang is weens Covid-19, kan ’n kans op oorlewing hê nadat die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) korttermynversekeraars aangesê het om polishouers se kwalifiserende eise sonder omhaal uit te betaal.

Versekeraars sal uit hul pad moet gaan om kliënte te verseker dat hulle wel dekking geniet.

Die FSCA het in ’n skerp bewoorde verklaring gesê korttermynversekeraars kan nie aanvoer dat die nasionale inperking ’n grondige rede is waarom regmatige eise afgewys word nie.

As ’n polishouer in die gasvryheidsbedryf byvoorbeeld kan toon hy het verliese gely omdat besprekings gekanselleer is weens die voorkoms van die virus in ’n spesifieke radius van die sakeperseel, is só ’n eis geldig.

Insgelyks sal ’n onderneming wat sy deure moes sluit weens die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om die virus te probeer stuit, ook ’n grondige eis hê, het die FSCA gesê.

Hy sal nie huiwer om op te tree teen versekeraars wat polishouers se geldige bedryfsonderbrekingspolisse nie wil eerbiedig nie. Die FSCA het hom ook geskaar by ’n hofuitspraak vroeër die week waarin bevind is Guardrisk, ’n filiaal van Momentum Metropolitan, moet die bedryfsonderbrekingseis van Café Chameleon uitbetaal.

Die hofsaak – die eerste in ’n reeks regsgedinge teen korttermynversekeraars – het restaurantgroepe en die akkommodasiebedryf, wat verliese van miljoene rande gely het weens die uitbreek van Covid-19, nuwe moed laat skep.

’n Tweede hofsaak word op 1 September aangehoor waarin Insurance Claims Africa, wat ’n groep van 500 ondernemings verteenwoordig, Santam en HIC dagvaar.

“Die FSCA se boodskap aan versekeraars is ondubbelsinnig,” sê Nic Viviers, regsverteenwoordiger van Weavind & Weavind, wat ’n groep van meer as 200 polishouers verteenwoordig. “Dit beteken versekeraars kan nie agter die nasionale inperking skuil as ’n rede om eise nie te betaal nie.”

Tot nou het versekeraars aangevoer polishouers wat uitgebreide versekeringsdekking vir bedryfsonderbreking het, het slegs dekking as daar ’n uitbreking op die perseel van hul onderneming was. Hulle beweer eise vir inkomsteverlies wat uit die nasionale inperking spruit, is ongeldig.

Ryan Woolley van Insurance Claims Africa het gesê hulle verwelkom die FSCA se riglyn, maar is steeds bereid om met versekeraars te skik.

Wil versekeraars regtig bekend staan as ’n klomp skurke wat net mense se geld vat?
Solly Moeng

Santam het die groep se skikkingsaanbod vroeër van die hand gewys en gesê hy wil regsekerheid oor die kwessie hê.

Versekeringsmaatskappye kan wel teen die FSCA se riglyne appelleer, maar Woolley sê as versekeraars die riglyn net ignoreer, sal dit hul reputasie net verdere skade berokken.

Intussen meen handelsmerk-reputasiekenners die vete tussen versekeraars en polishouers kan rampspoedig wees vir die versekeringsbedryf se beeld.

“Dit is ’n bedryf wat swaar steun op kliënte se vertroue,” sê Solly Moeng, besturende direkteur en eienaar van DonValley, ’n reputasiebestuursmaatskappy.

“Versekeraars sal uit hul pad moet gaan om vir kliënte gemoedsrus te gee dat hul eise uitbetaal sal word.

“Wil versekeraars regtig bekend staan as ’n klomp skurke wat net mense se geld vat?

“Gaan polishouers dink die betaal van maandelikse premies is soos om die Lotto te speel? Jy betaal, maar niks gebeur nie.”

Janine Hills, ook ’n kundige in reputasiebeheer, het aan Rapport gesê versekeraars sal moet herbesin oor die manier waarop hulle sake doen.

“Fokus op die humanitêre sy van jou sakemodel en kom mense eerder tegemoet. Die dae is getel waar maatskappye net op winste toegespits is,” sê Hills.

Meer oor:  Ica  |  Santam  |  Sakeonderbrekings  |  Covid-19  |  Toerisme  |  Versekeraars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.