Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Versekeraars ly saam R870 m. se verlies in pandemie

Suid-Afrika se lewensversekeraars het weens die Covid-19-pandemie ’n ongekende bedryfsomgewing in 2020 beleef.

Saam het hulle ’n verlies van R870 miljoen gely, vergeleke met ’n wins van R22 miljard in 2019.

Lewensversekeraars maak altesame voorsiening vir R15 miljard se doodseise weens Covid-19 wat nog kan kom. Foto: iStock

Alsue du Preez, hoof van die versekeringsbedryf vir PwC Afrika, sê ’n ontleding van die belangrikste lewensversekeraars se resultate toon 2020 was vir hulle ’n ongekende en uiters moeilike jaar.

Die groot versekeraars het desondanks standvastig gebly te oordeel na hul kapitaalbestuur en balansstaat, wat sterk en veerkragtig gebly het.

Die solvensieverhoudings (hoeveel kapitaal gehou word vir eise) het binne die teikens gebly, terwyl die maatskappye versigtig was met die uitkering van dividende.

Liberty en Discovery het weens die onsekerheid nie dividende vir die tydperk tot einde Desember verklaar nie.

Die ander versekeraars wat by die ontleding ingesluit is, is Momentum Metropolitan, Old Mutual en Sanlam.

Die lewensversekeringsbedryf se vertoning word beïnvloed deur faktore soos siekte en sterfte, die finansiële markte, indiensnemings- en inkomstevlakke, wat die vermoë van polishouers raak om hul premies te betaal, asook polisverkope.

“Terwyl die faktore onafhanklik kan realiseer, het die pandemie getoon wat kan gebeur as alles op dieselfde tyd negatief vir ’n versekeraar is.”

In die eerste helfte van 2020 het die bedryf op die pandemie gereageer deur sy aannames oor sterftes (eise) en die verval van polisse op kort tot mediumtermyn te wysig.

k

Waarde daal skerp

Die maatstaf van die waarde van die maatskappye toon ook die impak van Covid-19. Dit raam die toekomstige wins uit bestaande polisse plus die markwaarde van netto bates.

Die vyf grootste versekeraars het R8 miljard se vasgelegde waarde verloor, vergeleke met R32 miljard wat in 2019 geskep is. Die gesamentlike vasgelegde waarde van die versekeraars het met 9% gedaal.

Die afname is grootliks veroorsaak deur veranderinge in aannames wat gemaak moes word vir die verwagte negatiewe impak op eise, mense wat polisse ophou betaal, asook swak beleggingsvertoning, insluitend die verlaging van die rentekoers gedurende die jaar.

Terwyl die faktore onafhanklik kan realiseer, het die pandemie getoon wat kan gebeur as alles op dieselfde tyd negatief vir ’n versekeraar is.

“Dis ook opmerklik dat die waarde wat geskep is uit die verkoop van nuwe polisse in 2020 slegs 63% van die waarde was wat in 2019 geskep is.”

Du Preez skryf dit aan die inperkings toe. Baie versekeraars het gekla dat hul makelaars nie soveel polisse kon verkoop gedurende die strenger inperking nie omdat persoonlike kontak beter is vir finansiële advies as foonoproepe of e-posse.

Verlies gely

Die versekeraars se aangemelde verlies het in totaal R870 miljoen beloop in vergelyking met die totale wins van R22,1 miljard in die vorige boekjaar.

“Dit weerspieël die toename in eise vir sterftes en die moeilike ekonomiese omgewing,” sê sy in ’n verklaring.

Die maatskappye het in reaksie op Covid-19 hul reserwes aansienlik verhoog.

“Die grootste bydraer tot die toename in reserwes van R15 miljard hou met die verwagte doodseise in die nabye toekoms verband.”

Versekeraars het ook die waarde van niefinansiële bates (beleggings in geassosieerde ondernemings, klandisiewaarde en ander ontasbare bates) teen R17,1 miljard afgeskryf.

k

Toekomsplanne

Die versekeraars het aan beleggers te kenne gegee dat hul wins binne 18 tot 24 maande tot dieselfde as voor Covid-19 gaan herstel.

Die versnelling van digitale beleggings om kontak met kliënte moontlik te maak en geoutomatiseerde advies, word as ’n belangrike dryfveer vir groei beskou om dié herstel te behaal. Versekeraars begryp nou dat klante beter digitale ervarings verwag.

Daar het die afgelope jaar meer veranderinge in die bedryf plaasgevind as in die voorafgaande jare en die pas daarvan versnel.

Volgens haar stem dit ooreen met die bevindinge van PwC se jaarlikse internasionale peiling onder uitvoerende hoofde van 2021, waarin 62% van die uitvoerende hoofde in die versekeringsbedryf te kenne gegee het hulle beplan om die belegging in digitale transformasie op kort termyn aansienlik te verhoog.

Ander gebiede waarin belegging verhoog word, is kuberveiligheid en dataprivaatheid (40%), inisiatiewe om kostedoeltreffendheid te bewerkstellig (33%), leier- en talentontwikkeling (31%) en volhoubaarheidsinisiatiewe (21%).

“Die pandemie het versekeraars gedwing om die status quo agter te laat. Daar het die afgelope jaar meer veranderinge in die bedryf plaasgevind as in die voorafgaande jare en die pas daarvan versnel.”

Du Preez glo dit is duidelik hoe gefokus die bedryf daarop is om sterker uit die krisis na vore te kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.