Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Verslane’ Deloitte-ouditeur in trane oor Steinhoff

Die trane het glo amper geloop toe ’n gewese vennoot van Deloitte in Nederland vandeesweek op sy tugverhoor oor Steinhoff se oudits getuig het.

Deloitte was Steinhoff se eksterne ouditeure voor sy ineenstorting.

Het Financieele Dagblad (FD) van Nederland, wat die verhoor gevolg het, berig Patrick Seinstra, die voormalige Deloitte-vennoot, was met tye emosioneel.

Die tugverhoor vind voor die Rekenmeesterskamer van Nederland plaas wat in die Overijssel-distrikshof in Zwolle gesetel is.

Seinstra het op 6 Desember 2016 – ’n jaar voor die Steinhoff-skandaal losgebars het – die eerste keer die geouditeerde jaarstate afgeteken.

Deloitte Nederland het in daardie boekjaar die eerste keer die ouditeur van die Steinhoff-groep geword nadat die moedermaatskappy in 2015 as ’n Nederlandse maatskappy geskep is toe die Suid-Afrikaanse groep sy hoofnotering na die buiteland verskuif het.

Tot 2015 was Steinhoff ’n Suid-Afrikaans geregistreerde maatskappy wat net op die JSE genoteer was. Deloitte Suid-Afrika was sedert sy notering in 1998 sy ouditeur.

Die klagte is deur die Nederlandse owerheid vir finansiële markte (AFM) ingedien, wat volgens Het Financieele Dagblad aanvoer Seinstra was nie krities genoeg nie en het op belangrike punte nie vrae gevra nie.

Die ooglopendste was dokumente wat duidelik getoon het die Duitse owerheid is besig met ’n strafregtelike ondersoek na vals finansiële state. Steinhoff-direkteure was verdagtes in die ondersoek en daar is selfs ’n klopjag op kantore van ’n filiaal in Duitsland uitgevoer.

Volgens die AFM het Deloitte Nederland ook te swaar gesteun op die Duitse ouditfirma Commerzial Treuhand se inligting, wat die finansiële state van Steinhoff se Duitse bedrywighede geoudit het.

Seinstra het in sy verweer aangevoer hy het hom in ’n “muur van leuens” vasgeloop.

Volgens hom is hy trots op sy ouditspan. Hy sê Deloitte het die bedrog ontdek, al was dit eers in 2017, die jaar dat die ouditeursfirma nie Steinhoff se state wou afteken nie.

Dit het gevolg op ’n vurige gesprek met die besturende en toesighoudende direkteure in Suid-Afrika.

Die nag nadat die besluit geneem is, het hy die deur van sy hotelkamer in Suid-Afrika versper.

“Ek het onveilig gevoel en wou Suid-Afrika vir my eie veiligheid verlaat voor die bom bars.”

Terug in Nederland het hy Deloitte meegedeel hy gaan nie die state afteken nie.

“Hier sit ’n verslane ouditeur voor julle. Hierdie trippel-A-bedrog het my my beroep gekos,” het hy gesê.

Hy is weg by Deloitte en is nie meer ’n ouditeur nie.

Hy en sy familie is deur hel, het hy vertel terwyl hy teen die trane veg.

Deloitte Suid-Afrika se rol in die oudits van Steinhoff word ook sedert Desember 2017 deur die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) ondersoek.

Die laaste verklaring wat Irba oor sy ondersoek uitgereik het, was in Maart 2019 net nadat ’n opsomming van die bevindinge van PwC se forensiese ondersoek na die ongerymdhede met Steinhoff se boeke uitgereik is.

Irba het toe gesê sy ondersoek gaan hervat word ná die publikasie van die heraangegewe finansiële state, omdat die ondersoek daarvan afhang.

Irba het gesê hy neem met kommer kennis van die aantygings in die verslag oor die aard en omvang van die bedrog wat deur ’n klein groepie bestuurslede en verwante partye gepleeg is, moontlike onreëlmatighede met die boeke en wetsoortredings.

Irba se ondersoek handel daaroor of die ouditeure aan internasionale ouditstandaarde voldoen het, byvoorbeeld ten opsigte van die ouditwerk oor verwante partye asook sy eie gedragskode wat professionele skeptisisme deur die ouditeur vereis.

Berhard Agulhas, voormalige uitvoerende hoof van Irba, het toe gesê hy het reeds die ouditlêers vir 2014, 2015 en 2016 ontvang.

“Om die ondersoek te voltooi is die hersiene syfers vir die boekjare 2015 en 2016 nodig.”

Steinhoff het daarna die finansiële resultate vir 2017, 2018 en 2019 uitgereik. – Bygewerk deur Nellie Brand-Jonker

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Bedrog  |  Tugverhoor  |  Oudit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.