Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vertragings by hawe kos uitvoerders miljoene ekstra

Vertragings en opeenhopings by die Kaapstad-hawe kos vrugte-uitvoerders miljoene rande ekstra en kan die gehalte van vrugte verswak.

Die Kaapstad-hawe. Foto: Gallo Images

Die Wes-Kaapse regering is ook uiters bekommerd nadat belangrike internasionale skeepsmaatskappye aangedui het hulle gaan nie meer daar aandoen nie, het David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, gesê.

Hy het ’n dringende beroep op Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gedoen om in te gryp.

Die hawe funksioneer al jare lank ondoeltreffend weens die stelselmatige agteruitgang van infrastruktuur, agterstallige instandhouding en ’n uitgediende, uiters onmededingende sakemodel.

Die probleme is op die spits gedryf toe baie personeellede Covid-19 opgedoen het. Dit het die op- en aflaai van vrag vertraag. Gevolglik moes skepe in Junie tot twee weke lank buite die hawe anker voordat hulle vasmeerplek gekry het. Sommige skeepsmaatskappye het die afgelope week begin om ophopingspremies op vrag te hef weens die voortslepende oponthoude.

In baie gevalle moes vrugteprodusente hul produkte wat oorsee verskeep moet word aanry na Port Elizabeth, waar daar nie ontwrigtings is nie.

Jacques du Preez, hoofbestuurder van handel en markte by Hortgro, het aan Rapport gesê vrugteprodusente het geweldige probleme ondervind met vertragings en koste het die hoogte ingeskiet omdat die skepe nie by die hawe kan inkom nie. “Die ekstra koste wat die oponthoude meebring, beloop tussen $400 en $1 000 (nagenoegR17 000) per houer, afhangende van watter skeepsredery die vrag vervoer. As jy daardie ekstra koste vermenigvuldig met die hoeveelheid houers wat ons verskeep, raak dit ’n aardige bedrag – in die omgewing van R200 miljoen in bykomende uitgawes vir appels en pere – en dit is net vir verskeping.”

Mitchell Brooke, bestuurder van logistieke ontwikkeling by die Sitruskwekersvereniging, sê die kapasiteitsprobleme by die Kaapstad-hawe kom reg in die middel van die sitrusuitvoerseisoen. Ongeveer 500 houers sitrus moes die afgelope vier weke na Port Elizabeth se hawe gestuur word omdat Kaapstad dit nie kon hanteer nie.

Volgens Brooke kos dit R16 000 meer om een houer van Kaapstad na Port Elizabeth te vervoer. Vir 500 houers is dit dus ’n bykomende R8 miljoen. Omdat skepe nie dadelik kan vertrek nie, moet produkte langer koud gehou word, wat die koste verder opjaag.

Brooke sê skeepsrederye hef ’n bykomende $375 (R6 375) op elke verkoelde vraghouer wat na Europa en Brittanje vervoer word. Dus sal 40 000 verkoelde houers R240 miljoen ekstra kos.

Die vertragings hou ook ernstige gevolge vir die gehalte van die sitrusprodukte in. “Ons beoog om in die 2020-seisoen ’n rekordgetal van 141,3 miljoen kartonne sitrus uit te voer. Maar die oponthoud kan die gehalte van sagter, tydsensitiewe sitrus wat vir die uitvoermark bestem is, beïnvloed.”

Maynier sê die vertragings kan Suid-Afrika se reputasie as vrugte-uitvoerder beïnvloed, wat tot verlies aan markaandeel kan lei.

Transnet het die afgelope week aangekondig hy sal 20 werknemers van die Durbanse vraghouerterminus na Kaapstad oorplaas om diens te doen by dié hawe se vraghouerterminusse. Luidens ’n verklaring sal dit die agterstand vir vasmeerplek van 11 tot vyf skepe per dag verminder.

Al verwelkom Maynier dit, meen hy dis ’n tydelike oplossing.

“Dis soos om ’n pleister op ’n skietwond te plak, want die langtermynoplossing gaan groot beleggings verg om die verouderde infrastruktuur te vervang. ’n Nuwe bedryfsmodel is nodig – nie net vir die Kaapstad-hawe nie, maar vir al die hawens landwyd.”

Meer oor:  Kaapse Hawe  |  Invoer  |  Covid-19  |  Uitvoer  |  Skepe  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Hawens  |  Vlak 3  |  Infrastruktuur  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.