Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vet verhogings vir Steinhoff-direkteure voorgestel

Die nie-uitvoerende direkteure oftewel toesighoudende direkteure van Steinhoff gaan ’n vet verhoging van 30% in hul vergoeding kry.

Dit is een van die besluite wat aandeelhouers moet goedkeur op die jaarvergadering, wat 30 Augustus gehou word.

Die voorstelle is nou:

  • Die ondervoorsitter s’n verhoog met byna 70% tot 220 000.
  • Die ander nie-uitvoerende direkteure s’n verhoog met 30% van 100 000 tot 130 000;
  • Hulle kry reeds bykomende vergoeding vir elke komitee waarin hulle dien, soos €30 000 as lid van die oudit- en risikokomitee. Die voorstel is dat dié komiteelede s’n met 20% van €25 000 af verhoog. Die ander bly dieselfde; en
  • Die voorsitter van die oudit- en risikokomitee, wat die meeste as komiteevoorsitter verdien, se 50 000 bly onveranderd.

Die direkteure kan ook nog BTW op die vergoeding hef. Hulle word ook vergoed vir uitgawes wat aangegaan word om aan hul pligte te voldoen.

LEES OOK: Jooste vra hof vir forensiese verslag oor Steinhoff

Heather Sonn, voorsitter van Steinhoff International.

Die voorstel is dat Heather Sonn, voorsitter, se vergoeding op 300 000 per jaar (sowat R4,6 miljoen in vandag se wisselkoers) ook dieselfde bly. (Dit is dieselfde direkteursvergoeding as dié van Christo Wiese, haar voorganger wat in Desember 2017 bedank het, maar maatskappye van hom het ook ander bedrae verdien, het ’n onlangse jaarverslag getoon.)

Verlede jaar voor die jaarvergadering was daar ’n herrie toe voorgestel is Sonn, Steve Booysen en Johan van Zyl (Sanlam se voorsitter, wat voor die vergadering as Steinhoff-direkteur bedank het) sou ekstra vergoeding kry bykomend tot wat hulle betaal word “weens die uitsonderlike eise wat op hul tyd geplaas is sedert die rekenkundige onreëlmatighede in Desember 2017 geïdentifiseer is”.

Dié besluit is voor die jaarvergadering in 2018 onttrek op versoek van die direkteure.

Volgens Steinhoff is die voorgestelde vergoeding wat nou aan aandeelhouers voorgelê word, bepaal nadat advies gekry is van ’n konsultasiemaatskappy oor vergoeding.

Steve Booysen, voorsitter van Steinhoff se oudit- en risikokomitee.

Booysen tree uit

Steinhoff het ook aangekondig Steve Booysen, een van die laaste oorblywende nie-uitvoerende direkteure uit die era voor die ineenstorting, gaan ná die jaarvergadering op 30 Augustus as direkteur uittree.

Volgens Steinhoff het Booysen bereik wat hy vir homself ten doel gestel het kort ná die gebeure van Desember 2017 toe die maatskappy aangekondig het hy kan nie sy geouditeerde jaarstate uitreik nie omdat die eksterne ouditeure dit nie wou afteken nie weens beweerde ongerymdhede met die groep se boeke. Dit hou verband met die forensiese ondersoek wat afgehandel is en die verwagte voltooiing van die finansiële herstrukturering van die maatskappy vroeg in Augustus.

Booysen was die voorsitter van die oudit- en risikokomitee van Steinhoff.

Hy is bedank vir die rol wat hy gespeel het in die moeilike tydperk waardeur Steinhoff gegaan het.

Angela Krüger-Steinhoff, dogter van Bruno Steinhoff, wat die oorspronklike Duitse maatskappy begin het, het ook besluit om as nie-uitvoerende direkteur uit te tree om op hul familieonderneming te fokus.

Sy is ook bedank vir haar bydrae die afgelope 18 maande.

Kaapstad

Steinhoff het aangekondig sy jaarvergadering wat in Amsterdam in Nederland gehou word, sal in Kaapstad uitgesaai word by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum.

Die registrasie vir die vergadering vind van 11:30 plaas. Die vergadering begin 13:00.

Mense wat dit wil bywoon, moet op 30 Julie reeds ’n aandeelhouer wees.

Die notules van die vorige jaarvergadering kan hier gelees word.

Aandeelkapitaal

Allerhande ander resolusies en besprekingspunte op die agenda sluit in oor maatstawwe wat geneem moet word ingevolge Nederlandse wetgewing vir maatskappye soos Steinhoff wanneer ’n “drastiese daling in ekwiteit” plaasgevind het.

Dit sluit in ’n resolusie om die kapitaal van die maatskappy te verminder. Dit gaan gedoen word deur ’n wysiging aan die akte van oprigting.

Die kapitaalvermindering word voorgestel vir die verrekening wat nodig is vir die totale verliese van 2,1 miljard wat na vore gekom het weens die ongerymdhede met sy boeke.

Gemagtigde aandeelkapitaal is die getal aandele wat die maatskappy kan uitreik soos in sy akte van oprigting bepaal is.

Benewens vir die verliese wat verreken moet word, beskou die direksie dit ook as wys om die nominale waarde van gewone aandele te verminder omdat die aandeelprys waarteen die aandele op die beurs verhandel onder die pariwaarde van die gewone aandele is.

Nederlandse wetgewing laat dit in beginsel nie toe om aandele uit te reik onder pariwaarde nie, lui ’n besprekingsdokument oor die agenda.

Die voorstel is om die gewone aandele se nominale waarde van 50 euro-sent of 0,50 tot een euro-sent of 0,01 te verminder.

Dit gaan meebring dat Steinhoff se gemagtigde aandeelkapitaal 215 miljoen is. Dit was voorheen 8,95 miljard.

Die gemagtigde aandeelkapitaal is 17,5 miljoen gewone aandele en 4 miljoen voorkeuraandele. Voorheen was voorkeuraandele 20 miljoen.

Die resolusie vereis meer as 50% moet daarvoor stem.

Indien die resolusie aanvaar word, gaan die uitgereikte aandeelkapitaal verminder word.

Geen aandele word gekanselleer weens die kapitaalvermindering nie.

*Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Steinhoff  |  Heather Sonn  |  Steve Booysen  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Meubels  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.