Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Viceroy kap terug oor ‘sameswering’
'n Afdruk van die Flaamse skilder Jan Brueghel se skildery Satire oor Tulip-manie wat op Viceroy se webwerf verskyn.

Viceroy Research ontken dit dat kortverkopers hom vir sy omstrede verslae betaal waardeur aandeelpryse slae kry – tot groot voordeel van die kortverkopers.

Die ontkenning kom ondanks vorige stellings deur John Fraser Perring, Viceroy se stigter, dat Viceroy geld gemaak het uit sy Steinhoff-verslag. Perring het beweer die geld is aan Suid-Afrikaanse liefdadigheidsorganisasies geskenk.

Viceroy se ontkenning, wat deel uitmaak van ’n verklaring op die WordPress-webwerf waarop Viceroy al sy navorsing publiseer, is nie juis verrassend nie, gegewe dat betaling deur kortverkopers as bewys sou kon dien vir markmanipulering.

Die verklaring is uitgereik nadat die finansiële-ontledingsfirma Intellidex Donderdag in ’n verslag met die titel “Beleggingsnavorsing in die era van fopnuus” aangevoer het Viceroy se sakepraktyke en navorsing is bedenklik.

Lees ook:

Viceroy se Steinhoff-verslag was ‘plagiaat’

Viceroy ‘wou mark manipuleer’ met Capitec-verslag

Lees Intellidex se volledige verslag hieronder.

Viceroy sê hy finansier self sy navorsing. Dit bly egter ’n ope vraag waar die geld vandaan kom, gegewe dat Viceroy se drie direkteure ’n oud- maatskaplike werker en twee 24-jariges is, sê Intellidex.

Viceroy is nêrens as maatskappy geregistreer nie en nóg dié firma, nóg verwante firmas het al finansiële resultate ingedien.

Intellidex spreek in sy verslag oor Viceroy die vermoede uit dat Viceroy wel geldelike voordeel uit sy omstrede verslae trek.

“As dit die geval is, dink ons dis onwaarskynlik dat dit in enige formele kontrak vervat sal wees sodat dit ‘geloofwaardige ontkenbaarheid’ aan enige fonds bied wat voordeel trek uit Viceroy se optrede.”

John Fraser Perring, Viceroy se stigter. Foto: Bloomberg

Intellidex het bewyse van “skenkings” tussen mense wat ook met Viceroy geassosieer is, “en dit sou nie ’n groot aanpassing van dié model wees om Viceroy deur gratifikasies te beloon nie”.

Intellidex sê die Viceroy-span se alternatiewe motief as geld kan die prestige wees wat voortvloei uit sy verslae.

Viceroy Research het in sy verklaring min te sê oor Intellidex se aantyging dat hy plagiaat pleeg, denkfoute maak en die mark doelbewus probeer manipuleer met sy verslae oor maatskappye.

Intellidex voer onder meer aan dat Viceroy inligting gevoer word deur kortverkopers wat die aandeelprys van maatskappye wil afdruk. Intellidex identifiseer verskeie individue en firmas wie se werk oënskynlik in Viceroy se verslae geplagieer is of wat persoonlike verhoudinge met die Viceroy-direkteure het.

Viceroy sê dis nie die eerste keer dat die “samesweringsteorie” dat hy met kortverkopers saamwerk, die ronde doen nie. Oor die bewering dat inligting aan hom gelek word deur kortverkopers, sê Viceroy hy ontvang gereeld naamlose inligting en sluit slegs “onafhanklik verifieerbare” inligting in sy verslae in.

“Ons het geen verhouding met enige individue of fondse wat in Intellidex se verslag aangehaal word nie en ons werk word intern gefinansier.”

Viceroy gee toe dat sy navorsing deur ’n “netwerk van konsultante” gedoen word, maar hy ontken dat dit problematies is.

Viceroy ontken dit verder dat hy “wegkruip” van reguleerders. Intellidex beskou dit as problematies dat Viceroy by geen reguleerder geregistreer is nie omdat hy nie as sodanig finansiële advies verskaf nie.

Viceroy beweer Intellidex “weerlê nie enige van ons gepubliseerde werk nie”.

Dit is in weerwil van lyste en lyste punte waarop Intellidex inderdaad bewys dat Viceroy se inligting problematies is.

Meer oor:  Steinhoff  |  Viceroy  |  Verslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.