Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Viceroy ‘wou mark manipuleer’ met Capitec-verslag

Viceroy Research se verslag oor Capitec dop die toets vir “professionele navorsingstandaarde”.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, in Januarie op ’n nuuskonferensie oor die Viceroy-verslag. Foto: Jaco Marais

Dit kom ten beste neer op “oortuiging-gegronde navorsing” en ten slegste op “volkome vals navorsing”, sê dr. Stuart Theobald, uitvoerende hoof van die navorsingsfirma Intellidex, en sy medeskrywers van die verslag “Beleggingsnavorsing in die era van fopnuus”.

“Ons hou vol daar is redelike gronde om aan te voer Viceroy se funksie was om verwronge inligting (oor Capitec) te publiseer met die doel om die aandeelprys negatief te raak, wat op onwettige markmanipulering sou neerkom.”

Dié diepteverslag, wat Donderdag uitgereik is, gaan oor Viceroy, ’n omstrede groep wat betrokke is by die kortverkope van die aandele van verskeie maatskappye. Die Intellidex-verslag is in opdrag van Business Leadership South Africa opgestel. Lees ook die volledige verslag hieronder.

Lees ook: Viceroy se Steinhoff-verslag was ‘plagiaat’

Intellidex se span skrywers, wat grootliks uit geoktrooieerde finansiële ontleders bestaan, kap Viceroy se gebrekkige navorsing oor Capitec, asook oor ander firmas wêreldwyd.

Hulle kom tot die gevolgtrekking dat Viceroy nie regtig veel van sy eie navorsing doen nie, maar noue bande het met kortverkopers wat hul menings aan Viceroy verskaf. Intellidex sê onder meer die Steinhoff-verslag wat Viceroy se aansien wêreldwyd laat styg het, was grootliks “plagiaat” uit ’n verslag deur die kortverkopers Portsea Asset Managers.

“Verslae wat deur Viceroy uitgereik word, word dikwels nie geskryf deur die individue wat met die firma geassosieer word nie, of minstens die meeste van die ontleding is nie deur hulle onderneem nie.”

Die drie mense wat met Viceroy geassosieer word, is John Fraser Perring, ’n voormalige Britse maatskaplike werker, en twee 24-jarige Australiërs, Gabriel Bernarde en Aidan Lau.

Oor die Capitec-verslag skryf Intellidex: “Dit is nie objektief nie omdat dit slegs negatiewe inligting uitsoek wat dit dan op die negatiefste manier moontlik interpreteer.

“Dit oorweeg nie ander interpretasies van dieselfde inligting nie, wat nog te sê die positiewe aspekte van Capitec se prestasie.

“Dit slaag nie daarin om ’n redelike grondslag vir sy gevolgtrekkings te verskaf nie.”

Intellidex onthul ook dat Viceroy sy verslag voor publikasie aan Theobald aangebied het in sy hoedanigheid as rubriekskrywer vir Business Day, met ’n embargo tot die uitreikingsdatum. “Die aanbod is nie aanvaar nie.”

Die Capitec-verslag is deels gegrond op inligting wat Clark Gardner, uitvoerende hoof van Summit Financial Partners, verskaf het, bevind Intellidex.

Summit het ’n hofsaak teen Capitec aanhangig gemaak oor die manier waarop Capitec lenings herstruktureer of veelvuldige lenings aan kliënte toestaan.

Viceroy het dié inligting ingespan vir bewerings dat Capitec arm mense uitbuit en het ’n beroep op die Reserwebank gedoen om die bank in kuratele te plaas.

Die saak is onlangs in die hooggeregshof in Kaapstad geskik.

Gardner het ook Viceroy se verslag al as “roekeloos” beskryf.

“Ons ontleding wys op verskeie probleme met Viceroy se Capitec-verslag, insluitend ongegronde oordrywings, swak redenering, en wanbegrip van die Suid-Afrikaanse kredietmark en van die geskiedenis van die sektor.”

Van die stellings wat Intellidex bevraagteken:

  • Viceroy sê hy “sien geen bedryfsverskil” tussen Capitec en African Bank voor dié bank se kuratele nie. Intellidex sê daar is duidelike bedryfsverskille. Nagenoeg 80% van die ou African Bank se inkomste was uit versekeringspremies en meubelverkope eerder as rente-inkomste uit lenings. Capitec skep die helfte van sy inkomste uit transaksierekeninge en het geen kleinhandelonderneming nie.
  • Viceroy sê die feit dat Jean Pierre Verster, ’n Capitec-direkteur en welbekende verskansingsfondsbestuurder, geen Capitec-aandele in sy Fairtree Capital-fondse hou nie, bewys daar is probleme by Capitec. Intellidex sê ’n veel geloofwaardiger verklaring sou wees dat Verster ’n belangebotsing wil vermy en die reëls oor binnehandel kan oortree.
  • Intellidex sê selfs op grond van Viceroy se eie somme – wat Intellidex op verskeie punte bevraagteken – is daar geen gronde vir Viceroy se pleidooi dat die Reserwebank die bank in kuratele plaas nie. Die Reserwebank het nou al herhaaldelik gesê hy het geen rede om te vrees dat Capitec sal ondergaan nie.

Intellidex beklemtoon dat hy self geen mening oor Capitec se aandeelprys uitspreek nie.

Capitec se aandeelprys het Donderdag teen 11:45 0,98% laer op R894,17 verhandel nadat dit vroegoggend tot selfs R886,21 gedaal het. Die aandeel het in Januarie skerp, met tot 25%, geval nadat die Viceroy-verslag uitgereik is.


Meer oor:  Steinhoff  |  Viceroy  |  Intellidex  |  Capitec  |  Kortverkope  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.