Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Virgin Active: Net 1 uit 4 pomp saam met ander lede
Scenes of Virgin Active Gym on October 26, 2010 in
Meeste lede by Virgin Active oefen eerder alleen as in 'n groep. Foto: Getty Images

Net sowat een uit vier lede (26%) van Virgin Active woon groepklasse soos spinning, joga, pilates of water- aërobiese oefeninge by en klasse is gemiddeld sowat 65% vol.

Maar dié syfers vir die gimnasiumgroep se 2018-boekjaar laat Mark Field, besturende direkteur van Virgin Active Suid-Afrika, eintlik van oor tot oor glimlag.

In 2017 was dit net een uit vyf mense (21%) en was klasse net halfvol (52%).

Mense wat aan groepklasse deelneem, word as meer betrokke lede beskou en die kans is dus groter dat hulle hul lidmaatskap deur dik en dun sal probeer behou.

Virgin Active se besluit om die aansluitingsgeld vir lede van Discovery Vitality in Januarie vanjaar met 60% te verlaag – van R1 999 tot R799 – het sy ledetal met 2% laat styg. Die groep het nou 850 000 lede in Suid-Afrika, waarvan nagenoeg 100 000 kinders is. (Virgin Active waarsku dat spesiale aanbiedinge soos die afslag maandeliks aangepas word. Nuwe aanbiedinge kan van 1 Julie geld.)

Die 2%-styging in ledetal, tesame met die verhoging van tariewe aan die begin van die jaar, het die groep se Suid-Afrikaanse inkomste in dié kwartaal met 5% laat styg teenoor ’n jaar vantevore.

Lidmaatskapsgeld in Suid-Afrika wissel van R230 tot R2 350 per lid per maand, volgens Field.

Die minimum bedrag geld vir mense wat buite spitstye (08:00 tot 16:00 op weeksdae en heeldag oor naweke of openbare vakansiedae) net by ’n spesifieke klub oefen.

Die maksimum bedrag is vir Virgin se luukse Collection-klubs, waar jy konferensies kan hou of jou Italiaanse leerskoene kan laat poleer terwyl jy oefen.

Dié bedrae is uitgesluit die afslag wat mense kan kry deur hul lojaliteitsprogramme, soos Vitality of Momentum Multiply. (Dit is soos aan Netwerk24 verskaf en kan verskil van die bedrae wat aanlyn aangedui word of spesiale aanbiedings wat van tyd tot tyd aangebied word.)

Virgin Active het in Januarie vanjaar ’n nuwe kontrak met Vitality gesluit wat tot 2025 duur.

Lees ook: Vitality vs Multiply - wie beloon jou die beste?

Vir die jaar tot Desember 2018 het Virgin Active, wat sy syfers in pond weergee, wêreldwyd £587 miljoen se inkomste verdien.

Hoewel Suider-Afrika 59% van Virgin se totaal van 238 klubs in agt lande wêreldwyd verteenwoordig, en 65% van sy 1,1 miljoen volwasse lede, verteenwoordig die streek slegs 39% van Virgin se inkomste.

Volgens Netwerk24 se rowwe berekeninge het elke volwasse Virgin Active-lid gemiddeld sowat R470 per maand aan die klub (die rand-pond-wisselkoers teen einde Desember is gebruik soos aangedui deur Brait) betaal.

Hierteenoor betaal die gemiddelde Britse Virgin-lid R1 420 per maand en die gemiddelde Italianer R1 180 per maand.

Field sê die groep probeer deurgaans die betrokkenheid en tevredenheid van lede verhoog. Dit sluit in aanpassings in groepoefenklasse “in pas met internasionale neigings”, veranderinge aan vloerruimte en die toevoeging van nuwe toerusting.

Sedert die begin van 2018 tot nou het Virgin nagenoeg R500 miljoen hieraan bestee.

Alles kom neer op die mense in die klubs: Hulle praat aktief met lede, en moedig hulle aan om nuwe klasse te probeer om hul oefenroetines af te wissel.

“Ons werk hard daaraan om die beste talent in die bedryf te werf. Alles kom neer op die mense in die klubs: Hulle praat aktief met lede, en moedig hulle aan om nuwe klasse te probeer om hul oefenroetines af te wissel.”

Virgin Active verteenwoordig vanjaar vir die eerste keer meer as die helfte (53%) van die netto batewaarde van Brait, wat 72% van die gimnasiumgroep besit. Dis teenoor 43% ’n jaar gelede.

Brait, ’n beleggingsbeheerfirma waarvan Christo Wiese die grootste aandeelhouer en ’n direkteur is, besit ook 96% van die kosvervaardiger Premier (wat handelsname soos Snowflake en Iwisa besit) en 63% van die Britse supermarkgroep Iceland Foods.

Premier verteenwoordig 27% van Brait se netto batewaarde, Iceland 10% en ander belange almal minder as dit.

Wiese besit volgens Iress nagenoeg 24% van Brait deur sy firma Incapart Investments, wat hom die grootste aandeelhouer maak. Hy is ook ’n nie-uitvoerende direkteur.

Brait se syfers

Brait het dié week bekend gemaak sy netto batewaarde – die maatstaf wat beleggingsbeheerfirmas vir hul groei gebruik – het in die boekjaar tot einde Maart met 25% tot R41,80 getuimel.

Oor die afgelope drie jaar het die netto batewaarde met gemiddeld 32% per jaar geval. Oor agt jaar gemeet is die syfer darem 12,3% per jaar hoër. Brait mik vir ’n gemiddelde styging van 15% per jaar oor enige driejaartydperk.

Die maatskappy het ’n totale verlies van R10,9 miljard gely.

Meer oor:  Brait  |  Virgin Active  |  Oefening  |  Maatskappye  |  Gimnasium
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.