Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Virus: Aspen vrees tekort aan bestanddele

Aspen Pharmacare sê hy gaan ongetwyfeld geknou word deur die nuwe koronavirus, maar hy kan nog nie sê tot watter mate nie.

Aspen se hoofkantoor.

Die verspreider en vervaardiger van medisyne sê sy handelsafdeling in China staan sedert Februarie doodstil weens die epidemie.

China was in die ses maande tot einde Desember ’n enorme groeigebied vir Aspen, met ’n 12%-styging in sy voorskrifmedisyne wat in dié land verkoop is en ’n 23%-styging in die verkope van narkosemiddels.

Benewens die feit dat verkope in China nou basies stilstaan, voer Aspen ook die meeste van sy aktiewe bestanddele vir die vervaardiging van medisyne van China in.

“Tot dusver was ons voorraadvlakke voldoende om enige negatiewe uitwerking te voorkom. Die feit is dat ons staatmaak op aktiewe bestanddele en intermediêre aktiewe bestanddele wat van China ingevoer word, maar dié risiko word voortdurend indringend dopgehou,” sê Aspen in sy resultatevoorlegging oor die halfjaar.

Aspen se aandeelprys het deur die loop van Vrydag met tot 4,5% gedaal nadat hy ’n styging van slegs 3% uit sy voortgesette bedrywighede aangekondig het. Dit sluit sy Infacare-babakosafdeling uit wat in September verlede jaar aan die Franse firma Lactalis verkoop is, asook Aspen se Japanse afdeling wat ná die halfjaar verkoop is.

Aspen gee sy syfers in twee oorhoofse afdelings weer, naamlik kommersiële medisyneverkope en vervaardiging.

Die groep se inkomste uit verkope het met 2% tot R15,2 miljard gestyg, maar bruto wins het onveranderd gebly op R8,6 miljard.

Die groep se inkomste uit vervaardiging het met 6% tot R3,2 miljard gestyg. Daarvan het verkope van heparien aan derdeparty-vervaardigers R273 miljoen bygedra. Heparien is ’n aktiewe bestanddeel in middels teen trombose (bloedklonte). Aspen het as deel van ’n groepwye herstrukturering begin om dié middel ook aan derdepartye te verkoop.

In syfers

  • Inkomste styg met 3% tot R18,42 miljard
  • Bruto wins daal met 3% tot R9,4 miljard
  • Bruto winsgrens daal van 54,1% tot 51,1%
  • Genormaliseerde verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings bly onveranderd op R5,3 miljard
  • Genormaliseerde wesensverdienste per aandeel styg met 1% tot R7,07
  • Geen dividend word uitgekeer nie; Aspen het in Junie verlede jaar dividende opgeskort om sy skuldvlakke te verlaag
Meer oor:  Aspen  |  Medisyne  |  Farmaseutiese Maatskappye  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.