Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vitol gaan van Optimum se steenkool uitvoer
Steenkool word gemyn.

Bykans ’n jaar nadat die Britse maatskappy Vitol afgesien het van sy plan om uitvoerregte by die Richardsbaaise steenkooleindpunt (RBST) te kry, het hy nou wel daarin geslaag.

Vitol het, via Burgh Group Holdings (BGH) se Ezimiwayo Consulting, ’n ooreenkoms gesluit om 200 000 ton steenkool per maand van die Optimum- en die Koornfonteinmyn via Richardsbaai uit te voer, sê Louis Klopper, die sakeredder van agt van die maatskappye wat aan die omstrede Gupta-familie behoort.

Klopper het Dinsdagmiddag by BGH se kantore in Sandton, Johannesburg, gesê die myne en die Optimum- RBST-maatskappy, wat die belang in die RBST besit, is nie verkoop nie. Dit sal steeds deur die sakeredders in samewerking met BGH bestuur word.

Vitol het in 2016 probeer om Optimum-RBST van Oakbay Investments te verkry. Die plan was toe ook dat BGH die bedrywighede namens Vitol sou bestuur. Dié plan is eers in Junie verlede jaar laat vaar.

Net aandeelhouers in die RBST het ’n outomatiese reg om steenkool van hier af uit te voer.

Die ooreenkoms is glo voorheen deur ander aandeelhouers – wat Anglo American, South 32 en Glencore insluit – teengestaan.

Quinton van der Burgh, uitvoerende hoof van BGH, het bevestig dat die 200 000 ton steenkool per maand aan Vitol Coal verkoop sal word, wat dit dan sal uitvoer.

Klopper en Van der Burgh sê die vorige poging van Vitol om toegang tot RBST te verkry, het geen verband met die nuwe ooreenkoms nie.

Die Gupta-maatskappye is egter nie beïndruk met dié stap nie.

Hulle skryf in ’n prokureursbrief gedateer 6 April die Gupta-maatskappye is in sakeredding geplaas nét omdat hulle nie bankrekeninge gehad het nie nadat Bank of Baroda, die laaste bank wat bereid was om sake met hulle te doen, die land verlaat het.

Hulle maak sterk kapsie daarteen dat die sakereddingsproses gebruik is om dié bedrywighede in die hande van hul mededingers te plaas.

Klopper maak die brief af as ’n poging om te keer dat hulle voortgaan met die sakeredding.

Die sakeredders gaan juis Woensdag die hooggeregshof in Pretoria om ’n dringende interdik vra om toegang te kry tot die persele waaruit die maatskappye bedryf word, asook tot sekere dokumente.

Klopper hou ook vol dat dié myne nie in ’n toestand was om volhoubaar bedryf te word nie. Hy sê in ’n verklaring hope steenkool lê by die myne omdat sekere gelde wat uitvoer moontlik sou maak, nie betaal is nie.

Dit sluit in:

  • Optimum se spoorlyn is gesluit aangesien hy die Spoorveiligheidsowerheid R700 000 skuld.
  • R43 miljoen word aan Transnet Spoorvrag geskuld.
  • R17 miljoen word aan die RBST geskuld.

Klopper sê die kontrak met Vitol, wat vir ’n jaar geldig is, gaan help om die myne in ’n so ’n toestand te kry dat hulle verkoop sal kan word.

Hy sê sodra die eerste 200 000 ton steenkool aan die hawe gelewer word, gaan geld begin invloei, wat bedrywighede weer aan die gang gaan kry. “Die myne is gewaarborg dat hulle oor die volgende jaar R200 miljoen per maand uit uitvoer gaan verdien.”

Die myne sal steeds hul kontraktuele verpligtinge teenoor Eskom nakom.

Bankdienste sal via rekeninge wat deur Ezimiwayo en die sakeredders bestuur word, gelewer word.

Klopper het nie gesê watter bank die dienste sal lewer nie.

Meer oor:  Optimum  |  Vitol  |  Oakbay  |  Guptas  |  Louis Klopper  |  Steenkoolmyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.