Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vlieëniers ‘met afgryse vervul’ oor SAL-skuif

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se Vlieëniersvereniging (Saapa) is met “afgryse vervul” oor die SAL se jongste poging om die vlieëniers by die onderhandelingstafel te kry.

Die sage tussen die SAL en die SAL-vlieëniersvereniging het nog ’n slegte wending geneem. Foto: Fin24

Die SAL het Woensdag Saapa-lede in kennis gestel dat hulle al sedert 1 Januarie nie meer dekking vir dood of mediese ongeskiktheid het nie.

Dié versekering se bydraes is al sedert Januarie nie meer betaal nie, sonder die vlieëniers se medewete.

Cathy Bill, woordvoerder van Saapa, sê dis “uiters ontstellend.

“Hoe kan hulle dit doen? Veral midde-in ’n pandemie!”

Kapt. Grant Back, voorsitter van Saapa, sê aan Netwerk24 dat vier vlieëniers al die afgelope vier maande gesterf het.

Hul oorsaak van dood wissel van komplikasies weens Covid-19 tot vliegtuigongelukke.

“Ek is nie seker wat die toestand van hul boedels is nie,” sê Back.

Lewens- en ongeskiktheidsdekking is een van die groepvoordele van Transnet se aftreefonds en die sambreelfonds Funds at Work (FAW). Nie een van die twee fondse aanvaar betalings regstreeks deur werknemers nie.

Saapa het wel met die fondse probeer onderhandel sodat vlieëniers hul dekking in stand kon hou, maar dis glo teen die fondse se reëls. Die SAL moet werknemers se dekking betaal.

Back sê hy het persoonlik met Siviwe Dongwana, medesakeredder van die SAL, hieroor gesels.

“Maar mnr. Dongwana verstaan duidelik nie hoe die fondse werk nie.”

Om ons uit te honger, is nou nie meer goed genoeg nie, nou wil hulle nog druk op ons uitoefen.
Kapt. Grant Back van Saapa

Dongwana het na bewering vir Back aangeraai om te reël dat hulle self die versekering betaal, maar Back het verduidelik dat die fondse dit nie toelaat nie.

Dongwana het volgens Back gesê die onus is op die vlieëniers om die probleem op te los – en veral op Back self.

Die vlieëniers is al sedert Desember by die SAL “uitgesluit” in ’n poging om die vlieëniers te dwing om nuwe diensvoorwaardes en salarisse te aanvaar.

Alle vlieëniers (en ander werknemers) van die SAL moet afgedank word ingevolge die sakereddingsplan wat in 2020 goedgekeur is. Daarna sal dié wat nodig is vir die baie kleiner lugdiens weer aangestel word, met nuwe dienskontrakte.

Die vlieëniers wil nie bes gee oor die waarde van skeidingspakkette nie.

“Hulle skuld elkeen van ons meer as R1 miljoen in agterstallige salarisse en bonusse,” sê Back.

“Om ons uit te honger, is nou nie meer goed genoeg nie, nou wil hulle nog druk op ons uitoefen.”

Die vlieëniers staak sedert Paasnaweek, wat onder meer beteken dié wat gewoonlik opleiding verskaf, doen dit nie.

Meer oor:  Grant Back  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Staatsondernemings  |  Toerisme  |  Sakeredding  |  Inperking  |  Covid-19  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.