Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vlieg soos ’n Gupta – vir R440 miljoen

Wil jy graag in weelde rondvlieg soos ’n Gupta? As jy sowat R440 miljoen byderhand het, kan jy dié ervaring eerstehands beleef.

Die bombardier Global 6000 wat voorheen aan die Guptas behoort het. Foto: City Press

Die Guptas se 2015-model Bombardier Global 6000-vliegtuig is te koop.

’n Advertensie vir dié vliegtuig is Dinsdag in die gedrukte weergawe van Business Day op sy leefstydblad geplaas.

Hoewel Jetcraft, die agent wat die vliegtuig adverteer, se advertensie nie sê wie die vorige eienaar was nie, het Geoffrey York die reeksnommer herken en op Twitter uitbasuin aan wie die vliegtuig oorspronklik behoort het.

Die vliegtuig was as ZS-OAK geregistreer.

Een van die Gupta-familiemaatskappye se naam is Oakbay.

Luidens die advertensie het die vliegtuig nog net 1 256 uur gevlieg en 328 keer geland.

Die advertensie wat Dinsdag in Business Day verskyn het.

Die luukse vliegtuig kan 14 passasiers akkommodeer en het selfs WiFi aan boord.

Times Live berig dat die agent verwag $30 miljoen (sowat R440 miljoen teen die huidige wisselkoers) is ’n billike bedrag vir die vliegtuig.

Verskeie aanbiedinge is glo reeds gemaak.

Danie Joubert van Jetcraft het bevestig dat die vliegtuig wel voorheen aan die Guptas behoort het.

Die Guptas het oorspronklik die vliegtuig in 2015 met behulp van Export Development Canada (EDC), Kanada se bank vir in- en uitvoer, dié vliegtuig gekoop.

EDC het $41 miljoen aan die Guptas geleen.

The Washington Post  berig dat EDC in 2018 die vliegtuig wou terugvat nadat die Guptas nie uitstaande skuld van $27 miljoen betaal het nie.

EDC en Stoneriver, wat die vliegtuig vervaardig het, het ’n aansoek dat die vliegtuig aan hulle terugbesorg moet word, by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien.

Die ZS-OAK-registrasie kan duidelik in die agtergrond op die vliegtuig gesien word. Dié foto is deur die staat se kommunikasiediens uitgereik tydens pres. Cyril Ramaphopsa se besoek aan Japan in 2015. Hy was toe nog adjunkpresident. Foto: GCIS

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane het in Maart 2018 beveel dat die Guptas 15 dae het om die vliegtuig aan die aansoekers terug te besorg of dit by die Lanseria-lughawe in Johannesburg te oorhandig.

Die grootste probleem tóé was dat vliegtuig vir ’n tyd lank letterlik van die wêreld se radarskerms verdwyn het.

Die straler het wel laatnag op 13 April 2018 op Lanseria-lughawe geland.

Die vliegtuig is sedertdien in Johannesburg gehou.

Buiten vir die Guptas het pres. Cyril Ramaphosa ook al in dié vliegtuig gevlieg.

Ramaphosa het in April 2015, toe hy nog adjunk-president was, Japan toe gevlieg met dié straler. Ramaphosa het in September daardie jaar tydens ’n vraesessie in die parlement ontken dat hy ten tye van die vlug geweet het aan wie die vliegtuig behoort het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.