Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vliegskole neem metro hof toe oor geldskok
Die Wonderboom-lughawe. Foto: Wonderboom- nasionale lughawe

Tien vliegskole by die Wonderboom-lughawe in Pretoria het ’n hofbevel teen die Tshwane-metroraad bekom omdat die metro ná 40 jaar die skole se landings­tariewe met ’n astronomiese 321% opgestoot het.

Die skole het Dinsdag ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria teen die metro gebring.

Regter Brenda Neukircher het die metro intussen verbied om sy besluit om standaardtariewe op die vliegskole af te dwing, in werking te stel.

Die interdik geld terwyl die vliegskole se interne appèl by die metro of ’n hersieningshofaansoek teen die tariewe aan die gang is. Dit geld ook vir Tshwane se rekening aan ander vliegskole wat nie in die hofsaak was nie.

Die metro het in Mei besluit om vliegskole, wat voorheen net 20% van die standaardprys vir landingstariewe betaal het, voortaan die volle tarief te vra toe hy sy middeltermynbegrotingsraamwerk (MTEF) aanvaar het.

Hendrik Kraaij, ’n direkteur van die Blue Chip-vliegskool (een van die applikante), sê in hofstukke al tien skole het geriewe by die lughawe. Hulle lei nuwe vlieëniers en lugbemanning op.

Vir minstens 40 jaar het vliegskole by Wonderboom net 20% van die gebruiklike bewegingstarief (movement fee) betaal elke keer wanneer ’n vliegtuig land. Dit het onder R60 beloop.

Sonder die korting sal hulle amper R200 moet betaal vir elke landing.

’n Vliegtuig van Legend Sky, een van die vliegskole by die Wonderboom-lughawe in Pretoria wat die Tshwane-metroraad hof toe vat. Foto: Instagram

Kommersiële en passasiersvliegtuie betaal die standaardtariewe, want hulle land en styg baie minder gereeld op as die vliegskole se vliegtuie.

As ’n vlieënier opgelei word, moet hy/sy verskeie kere per dag opstyg en land. Elke skool bedryf ook verskeie vliegtuie gelyktydig. Daarom word dit opleidingstariewe genoem.

Dit is ook die praktyk elders in die land dat vliegskole baie minder betaal.

Benewens die feit dat so ’n styging deur die nasionale tesourie verbied word, het dit katastrofiese gevolge vir die vliegskole. Dis onmoontlik om die skole te bedryf met sulke tariewe, sê Kraaij.

Kraaij sê die metro redeneer die opleidingstariewe is gebruik om Wonderboom by vliegskole te bemark.

Noudat die skole gevestig is, word die opleidingstariewe geskrap sonder konsultasie of redelike kennisgewing.

Die skole is huurders by die lughawe. Die lughawe sal finansieel ernstig benadeel word as die vliegskole ondergaan, sê Kraaij.

Die vliegskole sê voornemende studente sal na goedkoper skole by ander lughawens gaan wat nie hul vliegskole oorbelas nie.

Geen van die vliegskole het vir die skielike heffing van standaardbewegingstariewe begroot nie.

Die opleiding maak 70% van die lughaweverkeer by Wonderboom uit.

Kraaij sê die heffing van standaardtariewe sal Tshwane se probleme vererger, nie oplos nie.

Meer oor:  Wonderboom  |  Lughawens  |  Lugdienste  |  Vlugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.