Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vlugte gekanselleer: Minister sê ook nie hoekom

Presies watter onreëlmatighede by SAL Tegnies tot die hok van tientalle vliegtuie gelei het, bly onduidelik.

Grootskaalse verwarring het Dinsdag op plaaslike lughawens geheers nadat lugdienste binnelandse vlugte noodgedwonge moes kanselleer of uitstel.

Lugdienste soos British Airways en Kulula moes Dinsdag passasiers rondskuif nadat van hul vliegtuie om veiligheidsredes nie toegelaat is om op te styg nie.

Dit was weens probleme by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se tegniese afdeling.

Lugdienste, insluitend SAL self, Comair en Mango, is Maandag deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) ingelig “onreëlmatighede” is tydens ’n onlangse oudit van SAL Tegnies bespeur.

SAL Tegnies verskaf instandhoudings- en tegniese dienste aan die lugdienste.

Comair het Dinsdagoggend gesê “geraakte vliegtuie mag nie gevlieg word totdat die nodige regstellende stappe gedoen is nie”.

Die SAL, Mango en later ook die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), het deur die loop van die oggend soortgelyke verklarings uitgereik.

Almal het reisigers gemaan om die betrokke diens waarmee hulle gaan vlieg, te kontak om te bevestig op watter vlug hulle is.

Volgens al die lugdienste word die veiligheid van passasiers hoog op prys gestel en daarom word daar aan die BLO se vereistes voldoen.

Nie een van die lugdienste het egter uitgeklaar presies wat die probleem was óf hoeveel van hul vliegtuie gestrand gelaat is nie.

Omvang van probleme by SAL Tegnies ‘onduidelik’

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdagmiddag verduidelik SAL Tegnies het ’n aksieplan aan die BLO voorgelê om enige gebreke in sy stelsels reg te stel, waarmee die BLO tevrede is. Hy kon nie presies verduidelik wat die onreëlmatighede is wat die BLO in ’n oudit by SAL Tegnies gevind het nie, maar het belowe alles sal teen die einde van die week weer normaal wees.

Mbalula kon nie spesifieke tegniese detail gee oor die probleme wat die BLO opgediep het nie.

Hy het verduidelik die lugdienste het self besluit om as voorsorgmaatreël sekere van hul vliegtuie op die grond te hou.

Hy het toegegee die BLO het al op 12 Oktober aan SAL Tegnies ’n waarskuwing gegee dat tegniese aspekte in sy bedrywighede reggestel moet word.

Comair het deur die loop van Dinsdagoggend bevestig vier van sy vliegtuie is weer in die lug terwyl al sy vliegtuie na verwagting weer Woensdag sal vlieg.

Hy het gesê sowat ’n derde van sy vlugte is Dinsdag deur die kennisgewing beïnvloed.

Luidens Comair se webtuiste is van die passasiers na vlugte geskuif wat vroeër vertrek het as waarop hulle oorspronklik bespreek het.

Netwerk24 het die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg besoek. Hoewel sommige passasiers deur die loop van die oggend moes wag dat hul vlugte uitgesorteer word, was daar geen beduidende ontwrigting op die lughawe te bespeur nie.

David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, sê hy het die Kaapstad Internasionale Lughawe Dinsdag besoek en gevind die lughawe bestuur die ontwrigting van vlugte heel flink. Die verwagting is dat vlugte Woensdag normaal sal hervat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.