Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Volkswagen €1 miljard beboet vir kullery
Volkswagen, die wêreld se grootste voertuigvervaardiger, het Woensdag ná marksluiting in Wolfsburg in Duitsland gesê hy aanvaar die boete wat hy opgelê is en neem verantwoordelikheid vir sy optrede. Foto: Argief

Die Duitse motorreus Volkswagen (VW) sal die boete van 1 miljard betaal wat Duitse aanklaers hom weens kullery met die uitlaatgassyfers van sy dieselvoertuie opgelê het.

Volkswagen het in September 2015 erken dat sy dieselmotors met programmatuur toegerus is wat toetsresultate manipuleer sodat dit lyk asof minder ongewenste uitlaatgasse vrygestel is.

Dié boete sluit nog ’n hoofstuk in die drie jaar lange krisis vir die maatskappy af, maar daar was onlangs nuwe verwikkelinge.

Volkswagen, die wêreld se grootste voertuigvervaardiger, het Woensdag ná marksluiting in Wolfsburg, Duitsland, gesê hy aanvaar die boete en neem verantwoordelikheid vir sy optrede.

Die maatskappy hoop dat die skikking van die Duitse strafsaak ’n positiewe invloed op ander regsprosesse in Europa sal hê.

“Ons werk met ywer om ons verlede agter ons te sit,” sê Herbert Diess, uitvoerende hoof, in ’n verklaring.

“Verdere stappe is nodig om geleidelik vertroue in die maatskappy en die motorvervaardigingsbedryf te herstel.”

VW word steeds deur ’n hele aantal ondersoeke in Duitsland en elders in die gesig gestaar. Regsgedinge is in 55 lande teen hom aanhangig gemaak terwyl die beweerde manipulering van die aandelemark in Duitsland ook ondersoek word.

Beleggers beskuldig die maatskappy daarvan dat hy hulle te laat ingelig het van die ondersoek teen hom. Die motorvervaardiger ontken dit en sê hy kon nie voorsien dat die kwessie so wyd sou uitkring nie.

Volkswagen se aandeelprys het Donderdagoggend reeds met 0,7% tot 158,7 op die Frankfurtse aandelebeurs gedaal. Die aandeel het vanjaar reeds 4,7% van sy waarde prysgegee en Volkswagen se markwaarde is nou 79,5 miljard.

Die maatskappy het voorsiening van 25,8 miljard gemaak om boetes en eise te betaal wat met die uitlaatgasskandaal verband hou. Net vir vanjaar is 4 miljard hieraan begroot.

VW het aan die einde van die eerste kwartaal van vanjaar netto kontant van sowat 24 miljard voor hande gehad, en het dus ’n buffer om die impak van die boete te versag.

Die kullery met tot soveel as 11 miljoen dieselvoertuie se uitlaatgasse wêreldwyd is in September 2015 deur die Amerikaanse owerhede ontdek en het die motorreus in die grootste krisis van sy bestaan gedompel.

“Die feit dat die strafregtelike risiko nou gehanteer word, is goeie nuus,” sê Arndt Ellinghorst, ontleder by Evercore ISI.

“Die uitbetaling van 1 miljard is uiters pynlik, maar in die breër konteks is dit nie ’n wesenlike bedrag nie.”

Geen einde aan die krisis

Hoewel die maatskappy sy topbestuur verander het en interne hervormings ingestel het, duur die krisis voort.

Die skikking wat Woensdag aangekondig is, dek net die maatskappy se rol in die dieselskandaal in Braunschweig, die distrikshof waarin Wolfsburg geleë is.

Maar dit raak nie strafregtelike ondersoeke teen individue of siviele eise en die aandeelhouers se eis teen Volkswagen nie.

Daar is ook ondersoeke in München teen Audi en in Stuttgart teen Porsche aan die gang.

Rupert Stadler, die hoof van Audi, is juis vandeesweek as ’n moontlike verdagte in die München-saak genoem en sy huis is deurgesoek.

Die skandaal het ’n groot demper op verbruikers se vraag na dieselvoertuie geplaas en ander voertuigvervaardigers loop ook deur.

Daimler AG, vervaardiger van Mercedes-Benz, is deur ’n reuse-onttrekking van voertuie getref nadat Duitse reguleringsowerhede beslis het dat hy ook onwettige stelsels gebruik het wat die beheer van uitlaatgasse kon manipuleer.

Mercedes-Benz het die afgelope jare herhaaldelik ontken dat hy ook aandadig is aan dieselfde soort kullery as wat by Volkswagen gebeur het. Hy sal nou programmatuur in 774 000 voertuie opgradeer in ’n poging om boetes vry te spring.

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Vw  |  Audi  |  Volkswagen  |  Boete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.