Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vonke spat weer by Holomisa-ondervraging
Bantu Holomisa, leier van die UDM

Regter Lex Mpati, voorsitter van die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), het Maandag weer vure doodgeslaan tydens die kommissie se openbare sittings in Pretoria.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, en adv. Daniel Berger SC, het weer kwaai woorde vir mekaar gehad tydens Holomisa se kruisondervraging.

Hulle het mekaar ook verlede Woensdag in die hare gevlieg nadat Berger gekla het Holomisa antwoord nie sy vrae nie en Holomisa teruggekap het deur te sê sy vrae is nie van toepassing nie.

Maandag het Mpati Holomisa versoek om net die vrae te beantwoord en nie in woordewisselings met Berger betrokke te raak nie. Enige ander kwessie moet aan die voorsitter, dus Mpati self, gestel word.

Holomisa verskyn voor die kommissie weens sy bewerings – aanvanklik in ’n brief verlede jaar aan pres. Cyril Ramaphosa – dat dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, ’n “onbehoorlike verhouding” met die sakemanne Tshepo Mahloele, Jabu Moleketi en Warren Wheatly gehad het.

Hulle is die stigters van die maatskappye Harith Fund Managers en Harith General Partners en direkteure van Lebashe Investments. Berger verteenwoordig dié maatskappye voor die kommissie.

Harith Fund Managers en Harith General Partners

Harith Fund Managers is op 30 Januarie 2007 as maatskappy geregistreer.

Dit is as volfiliaal van die OBK geskep om die Pan-Afrika-infrastruktuurontwikkelingsfonds te bestuur.

Die OBK het later 64% van sy belang in Harith Fund Managers verkoop en besit steeds die oorblywende belang van 46%.

Harith General Partners is ’n dag vroeër, op 29 Januarie 2007, geskep.

Volgens Berger was Harith General Partners ’n dopmaatskappy wat eers in 2013 aktief geraak het. En dis juis hiérmee dat Holomisa ’n probleem het.

Adv. Thembeka Ngcukaitobi SC, wat Holomisa verteenwoordig, sê dit is vreemd dat Harith General Partners ’n dag vóór Harith Fund Managers geskep is, jare voordat hy in bedryf gestel is.

Holomisa beweer die stigters van dié maatskappye – Mahloele, Moleketi en Wheatly – het beplan om hulle te gebruik om die OBK te plunder.

Mahloele is ’n voormalige werknemer van die OBK terwyl Moleketi as voormalige adjunkminister van finansies die OBK-voorsitter was. Wheatly het nooit vir die staat óf die OBK gewerk nie.

Harith General Partners het eers met bedrywighede begin toe Harith Fund Managers hom – met die goedkeuring van sy aandeelhouers en die tien grootste aandeelhouers in die Pan-Afrika-infrastruktuurontwikkelingsfonds – die mandaat gegee het om verskeie bates namens hom te bestuur. Die OBK was een van die aandeelhouers wat sy toestemming gegee het.

Holomisa skets egter ’n ander prentjie: “Jou kliënt het daardie bates gestroop. Harith General Partners is geskep nadat Harith Fund Managers gelikwideer is. Die direkteure het dit gedoen. Soos ons vandag praat, het die Harith Fund Managers niks nie – dit is ’n leë dop,” sê Holomisa.

Berger ontken dit en sê Harith Fund Managers is nooit gelikwideer nie en daar was niks onbehoorliks aan die skep van die maatskappye of hoe hul mandaat aan hulle gegee is nie.

Een van die groot beleggers in die Pan-Afrika-infrastruktuurontwikkelingsfonds is die staatspensioenfonds (GEPF).

Berger sê die OBK het nooit in die infrastruktuurontwikkelingsfonds belê nie. Die belegging daarin is regstreeks deur die GEPF gedoen.

Luidens getuienis het die GEPF $250 miljoen in 2009 in die fonds belê. Die fonds het nog $400 miljoen by ander beleggers ingesamel.

In 2015 is ’n tweede Pan-Afrika-infrastruktuurontwikkelingsfonds geskep. Die GEPF het $350 miljoen in die tweede fonds belê. Albei die fondse word deur Harith Fund Managers bestuur.

Holomisa beweer die twee infrastruktuurfondse het geen opbrengs vir die GEPF gelewer nie.

Berger betwis die bewering. Hy het onderneem om alle bewyse van opbrengste in verwante geldeenhede aan die kommissie voor te lê wanneer sy kliënte getuig.

Lebashe Investments

Holomisa beweer verder dat Lebashe deur sy direkteure se betrokkenheid by Harith Fund Managers bevoordeel is deurdat hy aandele in Capitec van die OBK bekom het.

Holomisa beweer in sy geskrewe verklaring aan die kommissie van ondersoek dat Mahloele en Moleketi “die OBK basies as ’n spaarvarkie of omkoopfonds gebruik om hul private belang in verskeie maatskappye te bevorder”.

Hy beweer “die blitsige opgang van Lebashe as kernrolspeler in die beleggingsarena is ’n bewys van die mag van groot finansiering deur die OBK”.

Holomisa sê hy staan by dié verklaring, maar dat dit onderhewig is aan bevestiging van die feite deur die kommissie.

“Jy stel hierdie bewerings as feite en jy het geen bewyse daarvoor nie,” het Berger aan Holomisa gesê.

Volgens MarketScreener.com het Lebashe ’n belang van 2,54% in Capitec. Die OBK hou ’n belang van 7,4% in Capitec.

Lebashe het sy aandele in Capitec by die OBK gekoop.

Berger sê Lebashe kan bewys Investec het die transaksie gefinansier en nie die OBK nie.

Holomisa se kruisondervraging duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.