
Passasiers op plaaslike vlugte kan van Woensdag sonder ’n vorm vlieg. Foto: Unsplash
Reisigers hoef van Woensdag nie meer ’n vorm van die gesondheidsdepartement te voltooi voordat hulle plaaslik vlieg nie.
Sedert die hervat van plaaslike vlugte in Junie moes alle reisigers ’n uitgebreide vraelys van die departement van gesondheid invul, onderteken en aan amptenare by die lughawe oorhandig voor elke vlug.
Dié vorms, wat basiese inligting soos passasiers se naam, kontakbesonderhede, vlugnommer en dies meer bevat, was bedoel om moontlike verspreiders van die koronavirus op te spoor sowel as persone wat dalk besmet is.
Amptenare van die departement van gesondheid gaan van Woensdag ook nie meer by lughawens aan diens wees om passasiers se koors te meet nie.
Die noodsaaklikheid van die vorms val dus ook weg, het die lugdiens Mango op sy webtuiste aangekondig.
Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), wat die meeste lughawens bedryf, se eie amptenare sal van Woensdag passasiers se koors meet voordat hulle die lughawegebou mag binnegaan.
Net passasiers met ’n geldige vliegtuigkaartjie sal in die gebou toegelaat word. Die dra van ’n masker te alle tye bly verpligtend.
Die nuwe regulasies geld net plaaslike vlugte. Vir internasionale vlugte moet die nodige vorms steeds ingevul en ingehandig word. Inkomende passasiers moet ook steeds oor ’n negatiewe toets vir Covid-19 beskik.