Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vragmotor-staking ontwrig aflewerings

Die aflewering van goedere is Dinsdag landwyd ontwrig weens ’n staking deur vragmotorbestuurders uit protes teen die indiensneming van buitelanders plaas van plaaslike bestuurders.

’n Vigilantegroep val vragmotors aan wat bestuur word deur mense van elders in Afrika.

Maar Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvragvereniging wat meestal padvervoermaatskappye verteenwoordig, sê die werklike ontwrigting van die ekonomie was minimaal en was beperk tot enkele voorvalle. Dit was naastenby nie so erg soos soortgelyke protesaksie verlede jaar nie, sê Kelly.

Die N2 buite Kraaifontein naby Kaapstad is Dinsdagmiddag deur verskeie swaarvragmotors versper, blyk uit video’s wat op sosiale media gedeel is, en daar was ook voorvalle in Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Freight & Trade Weekly het Maandagaand al berig die All Truck Driver’s Foundation (ATDF) sit agter die landwye protesaksie teen die gebruik van buitelandse vragmotorbestuurders.

Geweld het Sondagaand langs die N7-snelweg by die Dunoon-plakkerskamp noord van Kaapstad begin toe twee vragmotors met petrolbomme aangeval is, het Freight & Trade Weekly berig. Dit was ’n diensleweringsprotes, maar het die senuwees in die padvragvervoerbedryf opgejaag.

’n Xenofobiese vigilante-groep genaamd die Mzansi Patriotic Forces het glo ook ’n beroep gedoen op Suid-Afrikaners om teen die “abnormale invloei van onwettige buitelanders” in die land op te staan.

“Alle buitelanders met of sonder burgerskap moet ons townships en land voor die einde van 7 Julie verlaat,” dreig hulle.

Die departement van indiensneming en arbeid het Dinsdagmiddag gesê die polisie het gebeurlikheidsplanne om die nasionale protesaksie deur vragmotorbestuurders te behartig.

Sporadiese aanvalle op vragmotors op verskeie nasionale paaie in al die provinsies het reeds voor Dinsdag plaasgevind.

Daar sal geen verdraagsaamheid teenoor intimidasie van vragmotorbestuurders en ander padgebruikers wees nie, waarsku die departement.

’n Taakspan van die ministers van vervoer, arbeid, binnelandse sake en die polisie het Dinsdag vergader saam met die National Truck Drivers Foundation en verteenwoordigers van die Independent Trucking Business.

Die ATDF is ook na die aanlyn vergadering genooi, maar het dit nie bygewoon nie.

Volgens die departement van arbeid het die National Truck Drivers Foundation gewelddadige protes teengestaan en hulself van die beoogde staking gedistansieer.

Die departement is egter baie bekommerd oor die splintergroepe wat sporadiese geweld teen vragmotors uitoefen.

Die politieke party African Transformation Movement (ATM) steun intussen die vragmotorbestuurders wat aan die staking deelneem. Volgens die ATM is dit nie net oor vragmotorbestuurders van ander lande wat plaaslike werkgeleenthede vul nie, maar wat hy noem die opsetlike marginalisering van Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders wat “slawelone” kry. Dit sal mos nie sin maak vir ’n Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurder om in Kenia as vragmotorbestuurder te werk as daar Keniane is wat dieselfde werk kan doen nie, voer die ATM aan in ’n verklaring.

Meer oor:  Stakings  |  Vragmotors  |  Logistiek  |  Vervoer  |  Vragmotorbestuurders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.