Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vrees vir nóg ’n drankverbod aan die toeneem

Die drankbedryf is proaktief besig om voorbrand te maak teen nog ’n verbod op drankverkope.

Suid-Afrikaners word vermaan om by die Covid-19-veiligheidsmaatreëls te hou. ’n Derde vlaag is waarskynlik reeds aan die opbou. Foto: Unsplash

Waarskuwings aan drankprodusente en -winkels, kliënte en verbruikers om te hou by die Covid-19-veiligheidsmaatreëls is Woensdag en Donderdag deur verskeie liggame in die drankbedryf gestuur.

Die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba) en die wynbedryfsliggaam Vinpro het Donderdag in ’n gesamentlike verklaring hul stemme gevoeg by die National Liquor Traders Council (NLTC) om voorbrand teen nog ’n verbod op drankverkope deur die regering te maak.

Dié instansies vra die regering moet eerder “wetenskap” en vorige ervarings tydens die Covid-19-pandemie gebruik wanneer daar oor voorkomingsmaatreëls en inperkings besluit word.

Dit kom te midde van die vrees dat die land hom op die beginpunt van die derde vlaag van Covid-19-infeksies bevind en daar, soos voorheen, ’n verbod op die verkoop en verbruik van drank geplaas kan word.

Kritiek teen die regering het ontstaan nadat dit aan die lig gekom het die raad van sy eie gesondheidskenners in die ministeriële advieskomitee is geïgnoreer toe daar einde verlede jaar weer ’n volle verbod op die verkoop van alkohol tussen 28 Desember en 1 Februarie ingestel is.

LEES OOK: Verbod op drankverkope val op dowe ore

Fokus op inentings

Soos NLTC, doen Vinpro en Salba ook ’n beroep op die regering om nou eerder op sy inentingsprogram te fokus.

Luidens die verklaring moet ’n geskatte 29 miljoen volwassenes teen die einde van die jaar ingeënt word om hoër sterftesyfers weens Covid-19 te beperk.

Dit beteken daar moet elke dag tussen 250 000 en 300 000 mense in die land ingeënt word.

Salba se voorsitter, Sibani Mngadi, sê die onlangse styging van infeksies is ’n groot bekommernis en benadruk die bedryf is bereid om logistieke bystand aan die regering te gee wat kan help om sy inentingsveldtog in werking te stel.

Bly by maatreëls wat werk

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het saam met die universiteite van Stellenbosch, Kaapstad en die Witwatersrand navorsing gedoen oor maatreëls wat werk teen die verspreiding van die virus. Een van die bevindinge was dat die beperking op groot samekomste, handreinigers, maskers en ordentlike ventilasie ’n derde vlaag kan beperk of keer.

Salba en Vinpro vra die regering om daarom eers te kyk na beperkinge op groot samekomste, wat as een van die doeltreffendste maniere beskou word om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

Volgens Rico Basson, Vinpro se besturende direkteur, is die daaglikse styging van infeksies ’n waarskuwing aan almal om nou baie versigtig te wees en by die Covid-19-veiligheidsmaatreëls te hou. “Ons weet die eenvoudige reëls van maskers dra, veilige sosiale afstand te handhaaf en handreinigers te gebruik is die eerste linie van beskerming teen infeksies.”

Invloed van die verbod 

Mngadi sê die regering het nog nie rasionale redes verskaf waarom daar destyds besluit is om ’n verbod op die verbruik en verkoop van alkohol te plaas nie.

“As al die gevolge van die beperkinge saamgevoeg word, is dit duidelik die invloed is baie erg op die ekonomie; die werk van meer as 200 000 mense wat in die alkohol-waardeketting werk, is in die weegskaal geplaas.”

Die verliese van verkope en aan die land se jaarlikse bruto binnelandse produk (BBP) as gevolg van die beperkinge word onderskeidelik geskat op R36,3 miljard en R51,9 miljard.

Die verlies aan belasting (aksyns uitgesluit) vanaf die waardeketting beloop R29,3 miljard, sê Basson.

Hy benadruk die drankbedryf het moeite gedoen met programme om verantwoordelike drankverbruik en gedragsveranderinge onder verbruikers aan te moedig.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.