Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vrou nou aan stuur van kitskos-en-dobbelreus
Tasneem Karriem, nuwe uitvoerende hoof van Grand Parade Investments.

Grand Parade Investments (GPI) het pas sy eerste vroulike uitvoerende hoof aangestel en nog ’n paar groot skuiwe in sy bestuur aangekondig.

Tasneem Karriem, ’n geoktrooieerde rekenmeester wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland gestudeer en voorheen by onder meer EY en African Equity Empowerment Investments gewerk het, gaan die groep voortaan aanvoer.

Dylan Pienaar, tans finansiële direkteur van GPI, word uitvoerende hoof van Grand Foods, die afdeling wat omsien na Burger King, Baskin-Robbins en Dunkin’ Donuts.

Dis ’n onverwagte verwikkeling omdat GPI in Maart aangekondig het Alan Keet, vorige uitvoerende hoof van GPI, gaan Grand Foods se hoof word.

Toe was daar egter sprake van onderhandelinge oor sekere bepalings, waaroor ’n vergelyk klaarblyklik nie bereik kon word nie. GPI het op navraag gesê Keet het die maatskappy verlaat “om ander belange na te streef”.

Shaun Barends, tans finansiële hoof van Grand Foods, word GPI se finansiële direkteur in Pienaar se plek. Barends, ’n geoktrooieerde rekenmeester met 16 jaar ondervinding, is al sedert 2013 by GPI.

Meer oor GPI

GPI is ’n beleggingsbeheerfirma in swart besit en onder swart bestuur.

Benewens sy kosfranchises besit die maatskappy onder meer die dobbelmaatskappy Grandslots ten volle, sowat 25% van die GrandWest-casino en van die Table Bay-hotel, asook ’n effektiewe belang van net meer as 6% in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum.

GPI besit ook ’n belang van 17,48% in die Spur-groep.

Die maatskappy besit ook byna 97% van Grand Foods Meat Plant, die verwerkingsmaatskappy wat die burgervleis vir Burger King maak.

GPI is in 2008 genoteer. Die aandeel het die laaste paar jaar teleurgestel en verhandel nou teen sowat R3, nadat dit in 2013 selfs R7,56 gehaal het. Die opbrengs vir die jaar tot dusver is -14,29%.

Dr. Hassen Adams, uitvoerende voorsitter, sê die veranderinge is belangrik vir die maatskappy se volgende hoofstuk. GPI is vanjaar 20 jaar oud.

“Die ontwikkeling van nuwe leiers is ’n grondliggende deel van ons ondernemings en een van my passies. Dit gaan daaroor om die regte potensiaal te ontdek en loopbane te ontwikkel soos wat die maatskappy groei. Saam met die direksie is ons vol vertroue in die nuwe span en ons verwag groot dinge van hulle.”

Karriem is een van net ’n handjievol vroulike uitvoerende hoofde van genoteerde maatskappye. Volgens die verslag “Gender Disparity in SA”, wat verlede maand uitgereik is, is net 2,2% van genoteerde maatskappye se uitvoerende hoofde vroue en net 10% van alle maatskappye s’n.

Sy het haar twee jaar gelede by die groep aangesluit nadat sy ervaring in ’n verskeidenheid velde – van mynbou tot gesondheidsorg – opgedoen het. Sy is sedert September verlede jaar op die direksie.

Sy was deel van die kernspan wat gehelp het om die meesterlisensie vir Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins in Suid-Afrika te bekom.

Dunkin' Donuts brei geleidelik uit, veral in die Wes-Kaap.

Dié tienjaar-lisensie het die maatskappy R12,3 miljoen gekos.

Pienaar, wat sedert 2008 by GPI werk, moet help om Grand Foods winsgewend te maak. Burger King, wat GPI in 2013 na Suid-Afrika gebring het, het in die halfjaar tot einde Desember 2016 vir die eerste keer wins gemaak.

Die koste om Amerikaanse kosfranchises na die land te bring is enorm, ’n duur les wat nog ’n genoteerde kosgroep, Taste Holdings, ook geleer het toe hy Domino’s Pizzas se meesterlisensie bekom het.

Keet het vantevore gesê hulle brei hul drie franchises geleidelik uit juis sodat hulle nie te veel skuld op ’n slag aangaan nie. Die uitbreiding van Burger King na die res van Afrika is ook eers op die lange baan geskuif.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.