Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vrydag 13de kan een van ergste weke op mark sluit

Alles dui daarop dat die markte Vrydag een van die ergste weke tot nog toe in menseheugenis gaan afsluit nadat Wall Street ook Donderdag met 10% ineengestort het.

Wall STreet
Die belangrike aandeelmarkindeks van Amerika S&P 500 het Donderdag ook amper 10% geval en is nou ook in 'n beermark.

Bloomberg berig Amerikaanse aandele het getuimel met die belangrike maatstawwe wat hul ergste daling sedert 1987 aangeteken het.

Beleggers glo nie dat die stappe deur die Federale Reserweraad en pres. Donald Trump se voorstelle om die ekonomiese invloed van die koronavirus te versag, voldoende gaan wees nie.

Al drie die groot aandeelaanwysers van Amerikaanse aandele het met meer as 9% getuimel – die Dow Jones-nywerheidsindeks met 9,9%, die Nasdaq met 9,4% en die S&P 500 met 9,5%.

Dié ineenstorting van die mark het wêreldwyd plaasgevind met aandeelmarkindekse in Europa wat met ’n rekord 11% getuimel het. Die Ibovespa-indeks van Brasilië het in ’n stadium met meer as 20% geval. Kanada se groot aandeelmarkindeks het meer as 12% laer gesluit – sy swakste dag sedert 1940.

Die S&P 500 het ook Donderdag ’n beermark ingegaan en sy styging sedert einde 2018 uitgewis.

Die regering se burokrasie hou eenvoudig nie tred met die aard van die uitbreking en die markte se verwagtinge nie. Die sentiment in die mark gaan gespanne bly in die afsienbare toekoms terwyl die verspreiding van Covid-19 voortgaan om in Amerika en Europa te versnel.
JP Morgan

Die val in die markte het gevolg omdat handelaars teleurgesteld was in die maatstawwe wat tot dusver in Amerika aangekondig is om die invloed pp die ekonomie te versag en die verspreiding van die virus te bekamp.

“Die regering se burokrasie hou eenvoudig nie tred met die aard van die uitbreking en die markte se verwagtinge nie,” sê Tai Hui, hoofmarkstrateeg van Asië van JP Morgan Batebestuur. “Die sentiment in die mark gaan gespanne bly in die afsienbare toekoms terwyl die verspreiding van Covid-19 voortgaan om in Amerika en Europa te versnel. Soos wat in China en ander dele van Asië beleef is, behoort die regte beleid te werk om die uitbreking te beheer, maar dit hou baie korttermynpyn in. Ons sal waarskynlik in die komende weke in Amerika en Europa sulke pyn ervaar."

In Asië het die paniek in die markte Vrydagoggend uitgekring en van dié markte daar aanvanklik ook skerp laat val.

Die vrese dat die koronavirus-pandemie ’n wêreldwye resessie gaan veroorsaak, het Vrydag brandstof vir ’n nuwe ronde verkope gegee.

Die markte het só skerp geval dat stroombrekers in Thailand, Suid-Korea en Indonesië ingeskop het, terwyl Japan se aandeelmark met 10% geval het.

Die aanvanklike dalings het later begin omkeer, maar kanse is goed dat die week steeds een van die swakstes tot dusver gaan wees. 

“Dinge kom nou vinnig tot ’n punt,” sê Brain Barish, beleggingshoof van Cambiar Investors in Amerika. “Markte maak dit baie duidelik dat die sake-soos-normaal-benadering onhoudbaar is.”

Reuters berig selfs ná die verwoestende val in Amerikaanse markte het termynkontrakte op die aandeelmarkindeks soos die Dow en S&P 500 laer begin neig.

“Daar is ’n gevoel van vrees en paniek,” sê James Tao, ’n ontleder van Commsec in Sidney. Kliënte bel hul kantoor sonder ophou.

“Dit is een van daardie situasies waar daar so baie onsekerheid is dat niemand werklik weet hoe om daarop te reageer nie. Moet jy vlug of bly, en baie mense verkies nou om te vlug.”

“Daar is ’n hele aantal onsekerhede daar buite en die markte is nie seker dat die beleidsmaatreëls wat hul tot dusver gesien het, samehangend en gekoördineerd genoeg is om die probleme te takel nie,” het Vishnu Varathan, hoof van ekonomie en strategie van Mizuho Bank, gesê.

“Almal wil nou bates hou wat as veilige hawens beskou word. Daar is beslis ’n vlug uit riskante bates uit, wat opkomende markte se bates insluit – aandele en geldeenhede. En die vlug het nog nie geëindig nie.”

Maatstawwe op die aandeelmark wat beskou word as barometers vir vrees – die VIX en een wat op die Europese aandeelmark gegrond is – het hul hoogste vlak sedert die finansiële krisis in 2008 bereik.

“Om die markte minder angstig te maak moet ons sien dat die aantal nuwe infeksies stabiliseer soos middel-Februarie in China en onlangs in Suid-Korea. Ons moet ook die implementering van fiskale en monetêre beleide sien.

"Markte het meer nodig. Meer innovering van sentrale banke en meer doelgerigte hulp vir die kwesbaarste dele van die ekonomie. Aksie is nodig van fiskale owerhede om te keer dat die skok in ’n langdurige insolvensiekrisis omsit,” het Seema Shah, ’n internasionale beleggingstrateeg van Principal Global Investors, gesê. “Emosie dryf nou die mark.” – Bloomberg en Reuters

Meer oor:  Nasdaq  |  Jp Morgan  |  Dow Jones  |  Jse  |  S&P 500  |  Vsa  |  Amerika  |  Wall Street  |  Koronavirus  |  Beurs  |  Aandelemarkte  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.