Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Vurige nuwe hoofstuk in tabakgroepe se bekgeveg

Waarom wil sekere sigaretvervaardigers skielik nie meer ’n dieper ondersoek na onwettige sigarette ondersteun nie?

Die onwettige handel in sigarette ontneem die staat van miljarde rande belastinginkomste. Foto: Unsplash

Dis die vraag wat hul groot mededinger, British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa), nou vra.

Batsa meen die betrokke sigaretvervaardigers is bang oor wat ’n dieper ondersoek gaan vind nadat onlangse marknavorsing reeds baie van hul sigarette in die swartmark opgespoor het.

Dis met verwysing na ’n verslag wat vandeesweek deur die marknavorser Ipsos uitgereik is op grond van ’n ondersoek wat in opdrag van Batsa uitgevoer is.

LEES OOK: 3 uit 4 winkels verkoop onwettige sigarette

Volgens Johnny Moloto, hoofbestuurder van Batsa, toon die verslag die helfte van alle sigarette wat onder die wettige belastingkoers in die land verkoop word, is handelsname wat deur die Gold Leaf Tobacco Corporation en Carnilinx besit word.

Vrae oor smokkelhandel

Dié ondernemings is van die groot lede van die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) en die Suid-Afrikaanse Tabakorganisasie (Sato), wat glo verlede week vir ’n ondersoek na die bedryf gevra het.

Moloto voer aan hulle het vir ’n bedryfswye ondersoek oor die swartmark in sigarette gevra.

Die verslag word as ’n Trojaanse perd gebruik om meer van hul vuil werk te doen.
Fita oor Ipsos-navorsing

Batsa verwys oënskynlik na die ondersoek waarna Sato en Fita einde Februarie gevra het oor Batsa se beweerde betrokkenheid by smokkelary in Mali wat ’n gewapende stryd finansier.

Sato en Fita het vir die ondersoek gevra ná ’n berig van die Organised Crime and Corruption Reporting Project (OCCRP) oor die beweerde smokkelhandel.

Batsa self het toe op 1 Maart in ’n verklaring gesê hy “ondersteun ’n kommissie van ondersoek oor onwettige sigarethandel in Suid-Afrika ten volle”.

In dié verklaring het Batsa gesê Fita en Sato het vir ’n ondersoek oor die onwettige handel in sigarette gevra.

“Die Fita-Sato-koalisie vra vir ’n ondersoek, so kom ons doen dan een,” het Moloto gesê.

Moloto het gesê “dis ’n saak van uiterste nasionale belang” wat ’n goed gefinansierde ondersoek of ’n kommissie van ondersoek met werklike magte verdien.

Foefie vir oëverblindery

Fita het Woensdag in reaksie op die jongste hoofstuk van die voortslepende bekgeveg gesê hy neem met ’n “mate van skok” kennis van die multinasionale sigaretvervaardiger se jongste poging om die aandag af te lei van “baie ernstige en verdoemende aantygings oor smokkelary, korrupsie en die indirekte finansiering van terreur”.

Sigaretverkope was vanaf 27 Maart tot 17 Augustus 2020 verbode. In dié tyd het baie mense sigarette op die swartmark gekoop. Foto: Jaco Marais

Die berig van die OCCRP, getiteld “British American Tobacco fights dirty in West Africa”, kan hier gelees word.

Fita beskryf die Ipsos-verslag as Batsa se “jongste foefie”.

“Die verslag word as ’n Trojaanse perd gebruik om meer van hul vuil werk te doen,” sê Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita.

“Dis nie Batsa se eerste wals met hierdie marknavorser nie.”

Volgens Mnguni is ’n verslag in 2017 in wese deur dieselfde partye uitgereik wat erg gediskrediteer is.

Hy sê onafhanklike navorsers en akademici het al telkens kommer uitgespreek oor groot tabakgroepe en hoe hulle nie vertrou moet word met navorsing en studies oor onwettige sigarette nie.

“Dié sogenaamde onafhanklike verslae word nou ook deur Groot Tabak as ammunisie gebruik vir teenmededingende doeleindes om die handelsname van onafhanklike plaaslike sigaretvervaardigers swart te smeer.”

Mnguni beweer dis ’n manier om druk op kleinhandelaars uit te oefen om die produkte van kleiner, onafhanklike vervaardigers van hul winkelrakke te verwyder.

Hy beweer so word hulle in die informele mark ingedruk en dit skep die “illusie dat dit onwettige sigarette is”.

Om eenvoudig jou skouers op te haal oor ’n verslag wat jou impliseer in grootskaalse smokkelary, korrupsie en die indirekte finansiering van terreur en dwelmhandel toon arrogansie van die hoogste graad.
Fita oor Batsa

“Verder beskou ons die beroep uit die bloute vir ’n kommissie van ondersoek as nog ’n berekende poging van Batsa om aanspreeklikheid te vermy.

“Om eenvoudig jou skouers op te haal oor ’n verslag wat jou impliseer in grootskaalse smokkelary, korrupsie en die indirekte finansiering van terreur en dwelmhandel toon arrogansie van die hoogste graad.”

Ondersoek of nie?

Mnguni sê hulle is meer as verbysterd oor die voorstel van ’n kommissie van ondersoek as ’n antwoord op vrae wat op Batsa gerig is.

Hy sê Fita sal ’n kommissie van ondersoek ondersteun as hy van mening is dat dit nodig is.

Hy sê daarom hou Fita by sy beroep op wetstoepassers van einde Februarie dat die bewyse wat uit die OCCRP se verslag voortspruit, ondersoek moet word.

Mnguni sê die werkgroep wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Reserwebank en Finansiële Intelligensiesentrum gestig het om misdaad oor grense heen te bekamp, word verwelkom. “Ons is hoopvol dat dit positiewe resultate gaan oplewer en dat die misdaadsindikate agter die opbloei in onwettige handel vasgevat word.

“Daar is dus tans duidelik geen behoefte aan ’n duur en uitgerekte kommissie van ondersoek nie, wat net belastingbetalers se geld gaan mors.”

Mnguni sê Fita se lede kom almal die toepaslike wette van die land na wat die tabakbedryf beheer en het te alle tye saamgewerk met die SAID in sy pogings om oortredinge in die bedryf se waardeketting te beperk.

Meer oor:  British American Tobacco  |  Fita  |  Bat  |  Batsa  |  Sluikhandel  |  Sigarette  |  Onwettige Sigarette  |  Sigaretverbod  |  Sigaretverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.