Volkswagen is besig met versnelde pogings om ’n kompakte elektriese motor te ontwikkel wat minder as €30 000 (sowat R547 000) kos, sê bronne na aan die proses.

Volkswagen se ID.3 was in September Europa se gewildste e-voertuig.
Dit volg terwyl strenger maatreëls oor uitlaatgasse en ruim subsidies die verkope van batteryaangedrewe motors in Europa aanvuur.
Die nuwe Volkswagen kan al in 2023 bekend gestel word. Die maatskappy gaan sy ID.5-kruis-nutsvoertuig vanaf volgende jaar verkoop en ’n elektriese weergawe van sy ikoniese hippie-era-minibus ’n jaar later, aldus die bronne.
VW werk volgens hulle ook aan ’n heeltemal elektriese stasiewa, genaamd Aero, met ’n battery wat 700 km kan haal en vanaf 2023 op die mark sal wees.
Die wêreld se voorste motorvervaardiger het die ID.3-luikrug in September in Europa bekend gestel.
Dié doelgeboude e-voertuig sal nie in Suid-Afrika beskikbaar wees nie, maar die ID.4, ’n kompakte sportnutsvoertuig, sal wel na verwagting einde volgende jaar of vroeg in 2022 hier te koop wees.
Om meer geld vir elektriese motors beskikbaar te maak, gaan VW sy portefeulje van motors met binnebrandenjins verder verklein nadat hy reeds opgehou het om onder meer Kewer- en Scirocco-modelle te vervaardig.
Al het die Covid-19-pandemie steeds ’n groot impak op verskeie markte, kry Volkswagen steeds baie bestellings. Dit word aangehelp deur ’n toenemende vraag na die hibriede weergawes van Golf- en Passat-modelle.
Volkswagen Suid-Afrika het dié week bekend gemaak hy het sy viermiljoenste voertuig by sy Uitenhage-aanleg voltooi.
Die eerste, ’n Kewer, is in Augustus 1951 gebou.
Sedertdien het verskeie VW-modelle daar gestalte gekry, waaronder Audi’s, Kewers en verskeie modelle van die Transporter-reeks (Kombi), Golf, Jetta en Polo.
Die vervaardiger het in ’n verklaring gesê hy het sedert begin vanjaar 75 521 Polo’s vir uitvoer vervaardig, asook 12 804 Polo’s en 17 038 Polo Vivo’s vir die plaaslike mark. – Bloomberg en VWSA