Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Waarheen nou met oorvloed afvalpapier?

Gebruikte koerant- en tydskrifpapier wat vir herwinning opgegaar word, hoop op in Suid-Afrika, want daar is wêreldwyd ’n ooraanbod van dié afvalpapier. Boonop het China ook sedert 2017 besluit hy verminder die invoer van afvalpapier.

Herwinde koerantpapier is nie meer so sterk in aanvraag nie omdat koerantsirkulasie daal en die produksie van nuwe koerantpapier dus afneem. Foto: Pamsa

Dit het selfs daartoe gelei dat sommige plaaslike skole wat afvalpapier herwin, gevra is om op te hou papier of karton opgaar om aan herwinningsfirmas te gee omdat hulle nie meer die oorvloed van afvalmateriaal kan hanteer nie.

China het teen 2017 nog 26 miljoen ton afvalpapier van die res van die wêreld ingevoer, maar dit het in 2018 tot 18 miljoen ton gedaal, teen verlede jaar tot 11 miljoen, en die verwagting is dat China vanjaar net 6 miljoen ton afvalpapier sal invoer, sê John Hunt, besturende direkteur van Mpact Recycling, die grootste papierherwinnaar in Suid-Afrika.

China mik volgens Hunt om teen 2021 niks afvalpapier meer in te voer nie.

Jane Molony, uitvoerende direkteur van die Papiervervaardigersvereniging van Suid-Afrika (Pamsa), verduidelik China het só besluit want hy het self ’n ooraanbod in sy papierbedryf. Chinese werkers sorteer die miljoene ton afvalpapier met die hand, en ter wille van die omgewing en die gesondheid van werkers wou China nie meer die res van die wêreld se stortingsterrein vir allerhande soorte afval wees nie.

Hunt verduidelik die papierherwinningsbedryf is baie wisselvallig. Pryse vir afvalpapier het in April verlede jaar net van een bestelling na die volgende met 40% geval, en teen Desember het Mpact net ’n kwart van die prys behaal vir dieselfde hoeveelheid papier wat hy in Januarie verkoop het.

Volgens hom kan die situasie egter binne ’n kort tyd weer verander.

Hoewel China sy mark vir afvalpapier toemaak, is daar ander markte soos Indië, Maleisië, Indonesië en Suid-Korea wat ook afvalpapier invoer. Maar Hunt verduidelik van dié markte stel self ook strenger gehaltebeheerstelsels in noudat die wêreld alternatiewe bestemmings soek vir sy afvalpapier.

Afvalpapier by ’n herwinningsdepot van Mpact. Foto: Pamsa

Hoekom is daar ’n ooraanbod afvalpapier as die verkope van koerante en tydskrifte dan oor die afgelope dekade of wat juis skerp gedaal het?

Molony verduidelik koerant- en tydskrifpapier kan herwin word om weer nuwe koerantpapier te maak. Maar juis omdat die vraag na koerantpapier krimp namate koerantsirkulasie daal weens die groei in aanlyn-nuusverbruik, het die meeste plaaslike fabrieke gesluit.

Dit is nog net Sappi se Ngodwana-meule in Mpumalanga wat in Suid-Afrika koerantpapier vervaardig. Mondi se Merebank-meule in Durban het sy laaste oorblywende koerantpapier-masjiene in 2017 gesluit.

Daar is derhalwe ’n kleiner vraag na herwinde koerantpapier.

In 2011 het Suid-Afrika 316 725 ton koerantpapier vervaardig. Teen 2018 het dit gekrimp tot 113 912 ton, sê Molony.

Die swak ekonomiese groei in Suid-Afrika beteken ook minder goedere word geproduseer, wat minder verpakking vereis, en daar is dus ’n kleiner vraag na afvalpapier wat gebruik word om verpakkingsmateriaal mee te maak.

Die skuif deur winkelgroepe na papiergebaseerde verpakking pleks van plastiek bied wel ’n alternatiewe mark. Molony sê dit is egter nog nie groot genoeg om die vraag op te stoot nie.

Die afgelope jaar se droogte het tot ’n afname in die vraag na verpakkingsmateriaal vir die vrugtebedryf gelei, wat bygedra het tot die ooraanbod van afvalpapier. Foto: Pamsa

Waarheen nou met die oorvloed afvalmateriaal?

Hunt en Molony sê Mpact het nie opgehou met hul Ronnie Recycler-veldtogte by skole en in gemeenskappe nie. Dit gaan nog voort, maar die veldtog fokus nou daarop om afvalpapier beter te sorteer in die verskillende kategorieë. Hunt sê daar is wel ’n probleem om al die koerant- en tydskrifpapier in die Wes-Kaap te kan verwerk. Die herwinningsveldtogte sal nou fokus op ander papierprodukte soos karton en wit papier (d.w.s. die tipiese A4-drukkerpapier) wat gebruik kan word om nuwe karton, eierdosies of sneesdoekies van te maak.

Fibre Circle, ’n organisasie wat produsenteverantwoordelikheid in die papierbedryf bevorder, het verlede jaar R2 miljoen geoormerk vir navorsing oor alternatiewe gebruike vir afvalpapier.

Hunt sê koerant- en tydskrifpapier kan vir die maak van verpakkingsmateriaal, eierdosies of isolasiemateriaal in die boubedryf gebruik word. Dit kan ook tot kompos verwerk word, of verbrand word om hitte of elektrisiteit op te wek.

Meer oor:  Mpact  |  Herwinning  |  Rommel  |  Afval  |  Papier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.