Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘As julle weer sien, is die Poskantoor weg’

Suid-Afrikaners gaan een oggend oor die radio hoor die Poskantoor het ineengestort en bestaan nie meer nie.

Die Kagiso-Oos-Poskantoor, een van talle landwyd wat gesluit is omdat die huurgeld nie betaal is nie. Foto: Elizabeth Sejake
’n Kennisgewing by die Kagiso-Oos-Poskantoor, een van talle landwyd wat gesluit is omdat die huurgeld nie betaal is nie. Foto: Elizabeth Sejake

Só het ’n radelose eienaar van ’n Noord-Kaapse gebou met ’n poskantoortak daarin die afgelope week aan Rapport gesê.

“Hulle skuld my R100 000. Ek is in September laas betaal.”

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor besit 458 van sy geboue en huur 954 persele.

Sowat 55 takke is gesluit as gevolg van agterstallige huur, het die Poskantoor per e-pos aan Rapport gesê. “Ons voer gesprekke met die verhuurders om hierdie takke so gou moontlik oop te maak.”

Die Poskantoor kon nie bevestig wat die totale bedrag van agterstallige huur is nie. Maar volgens ’n parlementêre voorlegging wat die instelling die afgelope week gedoen het, was die totale skuld aan krediteure (wat diensverskaffers en verhuurders insluit) teen einde September verlede jaar R1,8 miljard.

Die Poskantoor het in die begroting vir 2021-’21 ’n raps meer as R500 miljoen ontvang – dít terwyl hy in die tweede kwartaal van 2020 (die jongste beskikbare syfers) ’n verlies van R429 miljoen gely het.

Die Poskantoor het oor ’n tydperk van sewe jaar reddingsboeie van R7 miljard van die regering ontvang.

Die verhuurders aan wie die Poskantoor huurgeld skuld, het almal op voorwaarde van anonimiteit met Rapport gepraat, omdat hul huurkontrakte vertroulikheidsklousules bevat.

Die bestuurders van twee groot kommersiële eiendomsgroepe het gesê die poskantoortakke wat in groot winkelsentrums in hul portefeuljes geleë is, se huur is tussen ses en 12 maande agterstallig. “Dis gróót bedrae wat ek nie hier mag noem nie,” het een gesê.

’n Ander het gesê in sommige gevalle moet verhuurders self pa staan vir die poskantoor se elektrisiteitskoste waar meters geïnstalleer is. “So, jy finansier basies hul bedryfskoste.”

Waar is die posman?

Die getal posstukke wat die Poskantoor jaarliks hanteer, het sedert 2015 van meer as 850 miljoen gedaal tot net meer as 210 miljoen in 2020 – ’n daling van 75%.

Die Poskantoor het by navraag gesê die inperking het ’n duidelike uitwerking gehad. “Die hantering van posstukke soos briewe neem wêreldwyd af noudat elektroniese kommunikasie meer algemeen is.

“Maar ons lewer nou ander dienste, soos die uitbetaling van maatskaplike toelaes, motorlisensies en die hantering van chroniese medisyne.”

Hoe gereeld pos afgelewer en posbusse in woonbuurte leeggemaak word, hang af van die volumes. Waar daar hoër volumes is, word pos meer gereeld te voet afgelewer en posbusse meer gereeld leeggemaak, sê die Poskantoor.

Volgens die jongste beskikbare syfers (teen 30 September 2020) het die agterstand in die hantering van posstukke op 6,8 miljoen gestaan. In Julie was dit 13,4 miljoen.

Die Noord-Kaapse verhuurder sê hy dank die Vader hy het net een poskantoor wat by hom huur.

“Man, al betaal hulle my R2 000 huur per vierkante meter, ek stel nie belang in hulle nie. Ek sal dan eerder ’n ruimte laat leegstaan.”

Dit sal hom ook nie baat om die poskantoor in sy dorp se deure te sluit weens die wanbetaling nie, want hy vrees dit kan tot maatskaplike onrus lei.

Die Poskantoor is verantwoordelik vir die uitbetaling van maatskaplike toelaes. Dit veroorsaak reuse-ontwrigtings as die begunstigdes van die toelaes voor dooiemansdeur te staan kom omdat die poskantoor in hul streek gesluit is.

’n Kennisgewing by die Kagiso-Oos-poskantoor in Gauteng lui dit is gesluit omdat die huurgeld agterstallig is.

“Wat doen die arm mense van Kagiso wanneer hulle hul toelaes moet gaan afhaal? Kan jy jou indink wat dit hulle gaan kos om na ’n poskantoor toe te gaan wat myle van hulle af is? Kan jy jou die ellelange rye voorstel?” het Cameron MacKenzie, DA-parlementslid en kommunikasie-woordvoerder, aan Rapport gesê.

Verval ná Mark Barnes

’n Ingeligte sê die bestuurs- en finansiële verval van die Poskantoor het opnuut begin toe Mark Barnes in 2019 bedank het.

Daar was ’n oplewing in die Poskantoor se geldsake en bedrywighede nadat Barnes in Januarie 2016 as uitvoerende hoof aangestel is.

Mark Barnes, voormalige uitvoerende hoof van die Poskantoor. Foto: Deon Raath

Hy het bedank 18 maande voordat sy kontrak verstryk het, na berig word omdat hy kopgestamp het met die Poskantoor se direksie en die departement van kommunikasie en digitale tegnologie. Die direksie en die departement wou die Posbank laat afstig van die Poskantoor en Barnes was heftig daarteen gekant.

Die Poskantoor het Nomkhita Mona onlangs as nuwe uitvoerende hoof aangestel nadat twee waarnemende uitvoerende hoofde binne ’n jaar afgedank is. Mona was vroeër uitvoerende hoof van die Nelson Mandelabaai-sakekamer.

David Mangena, hoofsekretaris van die SA Postal Workers Union (Sapwu), het by navraag gesê die unie ontvang geen kommunikasie van die Poskantoor nie. “Ons moes via die media hoor daar’s ’n nuwe uitvoerende hoof. Ons weet nie eens waar sy vandaan kom nie. Dis baie sleg.”

MacKenzie sê weens die onderfinansiering van die Poskantoor kan hulle net kop bo water hou deur hul krediteure nie te betaal nie.

Pensioen, medies nie betaal

Volgens Mangena is pensioenfondsbydraes vir party werkers al van Maart 2020 uitstaande.

“Op ons strokies wys die geld is afgetrek, maar dit word nie oorbetaal nie. Dis ’n seer punt.

“Dis ’n groot verlies vir die werkers.”

Dieselfde gebeur met mediesefondsbydraes. Die moreel onder werkers is baie laag, sê hy. “En ons het nêrens anders om heen te gaan nie. Daar’s nie werk op ander plekke nie.”

Mangena sê die Poskantoor gebruik Covid-19 as verskoning.

“Maar dis agterbaks. Die Poskantoor word vir ’n baie lang tyd al swak bestuur.”

Volgens MacKenzie is die enigste uitweg vir die Poskantoor ’n vennootskap met die private sektor of algehele privatisering.

k
Meer oor:  Telekommunikasie  |  Poskantoor  |  Pos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.