Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Warren Buffett (90) wil nie ’n 69-jarige opvolger hê

Die beleggingsghoeroe Warren Buffett het vandeesweek bekendgemaak wie sy waarskynlike opvolger sal wees.

Buffett het aan CNBC gesê dit is Greg Abel (58), ondervoorsitter van nieversekeringsondernemings van Berkshire Hathaway, Buffett se beleggingsmaatskappy.

Abel is allerweë as die waarskynlikste kandidaat beskou.

Opvolgplanne was altyd ’n goed bewaakte geheim by die konglomeraat, al het die maatskappy beleggers verseker dat hy ’n gedetailleerde plan het.

Ook sommige Suid-Afrikaanse batebestuurders hou Berkshire Hathaway-aandele.

Ajit Jain (69) is ook as ’n moontlike opvolger beskryf gegewe Buffett se lof vir dié ondervoorsitter van Berkshire wat die versekeringsonderneming bestuur.

Volgens Buffett – wat reeds vyf dekades aan die stuur van die onderneming is – is ouderdom ’n belangrike faktor.

“Hulle is albei wonderlike ouens. Die moontlikheid dat iemand 20 jaar hier kan wees, maak egter ’n wesenlike verskil,” sê Buffett.

Charlie Munger (97), ondervoorsitter van Berkshire, het Saterdag op die maatskappy se jaarvergadering ’n opmerking gemaak wat bespiegelings laat ontstaan het dat Abel die gekose opvolger is.

Buffett het daarna verwys dat desentralisasie nie oral sou werk nie, want dit vereis ’n sekere soort kultuur.

“Ja, maar ons doen dit,” het Munger gesê. “En Greg sal dié kultuur behou.”

Abel word lank reeds as die waarskynlikste kandidaat beskou gegewe sy ouderdom en sy omvattende taak by die konglomeraat, naamlik om toesig te hou oor al die nieversekeringsondernemings.

Hy het in 1992 by die voorganger van die maatskappy aangesluit en het later deel van Berkshire geword toe Buffett MidAmerican Energy Holdings in 2000 gekoop het.

“Die direkteure is dit eens dat as ek vanaand iets sou oorkom, dit Greg sal wees wat môreoggend oorneem,” het hy gesê. “Ons was nog altyd in Berkshire eensgesind oor wie die volgende dag moet oorneem.”

Opvolging bly ’n groot onderwerp vir Berkshire, gegewe die ouderdom van Buffett en Munger en hoe belangrik hulle was om die maatskappy op te bou tot die meer as $630 miljard-konglomeraat wat dit nou is.

Buffett se opvolger sal ’n onderneming oorneem wat toesig hou oor ’n wye verskeidenheid bedrywighede, van versekeraars tot spoorweg- en energiemaatskappye en selfs kleinhandelaars.

“Abel het natuurlik nie die charisma, persoonlikheid en reputasie wat Buffett oor dekades heen opgebou het nie, en hy sal dus nie die magnetisme hê wat Buffett het nie,” sê David Kass, ’n professor in finansies aan die Universiteit van Maryland se Robert H. Smith-sakeskool.

“Maar hy straal uiterste bekwaamheid en sukses uit. Hy het ’n baie suksesvolle rekord in Berkshire en ek dink nie aandeelhouers kan meer vra nie.”

Sowel Abel as Jain het hulle Saterdag op die verhoog by Buffett en Munger aangesluit om vrae van aandeelhouers te beantwoord.

Abel en Jain is albei in 2018 tot ondervoorsitters bevorder, wat Buffett destyds beskryf het as deel van die “skuif na opvolging”.

Abel, wat voorheen Berkshire se energieryk gelei het, is gekies om toesig te hou oor al die nieversekeringsondernemings, terwyl Jain die versekeraars bestuur.

Abel het by Berkshire bekend geword as ’n belangrike bestuurder van sy energiebedrywighede en het dit opgebou tot ’n onderneming met meer as 23 000 werknemers.

Hy het in Kanada grootgeword en word ook as ’n slim transaksie-onderhandelaar beskou. – Bloomberg

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.